Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Paasnagmaal 2019 Donderdag Stilgebed: Lied 278 (2x) Votum Seëngroet uit Johannes 16 Vrede Ons lees in Lukas 22 hoe Jesus weer, soos op Palmsondag met die donkie, twee dissipels met sulke vreemde aanduidings uitstuur. Hulle moes hierdie keer, ... kom ek lees dit vir ons: “Kyk, net soos julle die stad ingaan, sal 'n man wat 'n kruik water dra, julle ontmoet. Gaan saam met hom tot in die huis waar hy ingaan, en sê vir die eienaar van die huis: ‘Ons Leermeester vra u: Waar is die kamer waar Ek met my dissipels die paasmaaltyd kan eet?’ En hy sal julle 'n groot bovertrek wys wat klaar daarvoor ingerig is. Daar moet julle dit voorberei.” Ons lees dat Petrus en Johannes gegaan het en dit gekry het netsoos Jesus vir hulle gesê het. Lied 279 (2x) Lees Lukas 22: 14 – 18 Dit is opmerklik: Jesus het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met Sy dissipels te eet. En dan praat Hy ook van die koninkryk van God. Vanaand is dit ons beurt om te deel in die brood en die wyn. Ons beurt om saam met die Here te wees. Die verskil lê dat die maal reeds sy volle betekenis gekry het in God se koninkryk. En ons deel daarin vanuit die koninkryk van God. Wat ‘n onbeskryflike groot voorreg. Lied 384 (2x) Jesus, o dink aan my (ons gaan die lied herhaal aan die einde weer, en so ook Vrydagoggend) Ek wonder of dit vir hulle vreemd was. Was dit vreemd toe Jesus die gang van die pasgamaaltyd gewysig het deur die brood te neem en te sê “Dit is My liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot My gedagtenis.” En ek wonder oor die misterie van die brood en die beker, of ons nog verras en oorweldig word deur wat dieper agter die brood en beker lê. Beleef ons nog die besef van ‘n deel wees aan iets heiligs, groter as ons wat op daardie aand uitgespeel het. Broodspreuk: Lees Lukas 22: 19. Deel die brood uit Dink oor die woorde “vir julle gegee”. Dus ook vir jou. Vir my. Jesus gee Homself vir jou. Vir ons. Laat dit insink. Jy ken die betekenis daarvan. Dat Jesus in ons plek sterf sodat ons mag lewe. Ons het ‘n duidelike prent voor oë van die kruis en opstanding. Ons weet dit is vir ons wat Jesus Homself so verneder en sterf. Die wreedheid, die pyn, alles ter wille van jou, ter wille van my. En ek wonder hoekom breek ons dan nie met ons sondes nie? Hoekom leef ons asof ons nie ons lewens vir Hom hoef te gee nie. En dan die opdrag. Duidelik gestel: Gebruik dit tot My gedagtenis. Wyn Lees Lukas 22: 20 Deel die wyn uit Bedien diakens Hoor vanaand die woorde “nuwe verbond” en “beseël”. Dit is klaar gesluit en afgehandel. Dit is nou die bedeling van Christus en Sy liefde en genade. Van dissipel wees, leerling van Christus wees. Volgeling. Van ewig lewe. Die bedeling waar ek en jy ingelyf is in die koninkryk van God en ons inlywing beseël is. Geen onsekerheid meer. Vasgemaak. Jesus het so uitgesien na hierdie paasmaal saam met Sy dissipels. Maar dit wat daarna gekom het was moeiliker as moeilik self. Ons beweeg saam met Hom Getsemane toe. Waar Jesus gaan doen het wat Hy regdeur Sy bediening gedoen het. Hy onttrek Hom om eenkant alleen te gaan bid. Gebed: Bid vir mekaar dat ons nie in versoeking kom nie. Soos Jesus vir Petrus gebid het (22:32) Kom ons lees: Lukas 22: 39 – 46 As iemand self vir jou ‘n geskenk gemaak het, iets wat jy regtig nodig het en jy weet die ure se werk wat daarin gegaan het. Jy weet die opofferings wat gemaak is om juis daardie geskenk vir jou te skep. Dan is jou waardering veel hoër as vir enige ander geskenk. Jy koester dit, bewaar dit en versorg dit met die beste wat jy kan. Is ek reg? Die geskenk van genade wat God ons gee het Jesus ongelooflik baie gekos. Ons het dalk afgestomp geraak met terme soos “Hy het Sy lewe gegee vir ons.” “Vir ons aan die kruis gesterf”. En dalk gryp dit ons nie so radikaal aan omdat ons nog nooit gesien het as iemand tereg gestel word nie. Ek meen nie soos op TV uitgebeeld nie. Ek bedoel in die regte lewe. Die dissipels het dit geken. Hulle het die absolute wreedheid van dit gesien en verstaan dat dit is die ergste erg denkbaar. Hulle het dit so verstaan dat na Jesus se opstanding en die Heilige Gees in hulle kom bly het, het hulle hele lewens verander. Radikaal verander. Hulle dankbaarheid teenoor die Here was groot!! Die eerste tekens van die angs en pyn wat ‘n kruisiging meebring word in Getsemane sigbaar. En ook die dissipels se onbegrip van wat die nag nog gaan gebeur. Hulle is moeg, die ooglede swaar en hulle raak aan die slaap. Lukas vertel dat die dissipels uitgeput was van droefheid. ‘n Droefheid wat gekom het van Jesus se aankondiging dat een van hulle gaan Hom verraai. En dan ook nog die beskuldiging dat Petrus Hom sou verloën. Dit het die krag uit hul uitgesuig. Hy waarsku hulle “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.” Maar hulle gee in aan die moeg en slaap weer. Het hulle maar soos Hy gebid het hulle dalk nie die donkerte in gevlug toe die wagte kom nie. Hom nie verloën nie. Jesus hier teenoor, weet wat kom en slaap is nie eers ‘n gedagte vir Hom nie. Hy bid. Hy worstel met God. Hy sweet sweet wat soos bloeddruppels word en op die grond val. Hy vra ““Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!” En dan stuur God ‘n engel uit die hemel om Hom te versterk. Maar dit wat voorlê was so groot dat Hy in doodsangs geraak het, engel ten spyte. Jesus het nog ernstiger gebid het. Dit is hier waar van angs sy sweet soos bloeddruppels geword het en op die grond geval het. Die weet wat nog kom daardie nag en volgende dag, was meer as wat Hy kon hanteer. Besef jy dit? Die mens Jesus was op breekpunt besig om God te gehoorsaam. Toe Hy van die gebed opstaan, toe was Hy versterk en Hy kon verder in gehoorsaamheid aan God voort treën Sy dood tegemoet. Vroeer die aand se “dit is My liggaam wat vir julle gegee word” gaan nou nuwe betekenis verkry. Kan ek ook daarop wys dat gebed is nie ‘n manier om God van plan te verander nie. Maar gebed is wel ‘n plek en ‘n leefhouding waar God jou so versterk en krag gee dat jy kan aanhou gehoorsaam. Gebed verander nie altyd die situasie nie, maar God verander jou altyd. In Lukas 22: 54 lees ons dat hulle Jesus gevange geneem het en Hom weggelei het en in die huis van die hoëpriester gebring het. Ons verlaat die verhaal op hierdie punt om soos heelparty van die dissipels die nag in te verdwyn. Kom ons sluit met lied 384 en gaan daarna net stil stil huise toe. Daar is geen seën vanaand. Lied 384 (2x) (Jesus, o dink aan my)