Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 23: 26 – 43 Goeie Vrydag 2019 Die straatjies in daardie deel van Jerusalem was nou en gepak met mense wat van orals af gekom het vir die paasfees. Oa Simon vanaf Cirene, wat naby die Meditereense see geleë was. Dit is vandag deel van Libië. In hierdie gepakte ou straatjies beur Jesus met Sy kruis deur. Maar Hy kon fisies nie meer nie. ‘n Mens verstaan dit. Dit was ‘n lang nag vol drama. Maar die geseling alleen en die gespot en geslaan deur die soldate sal enige sterk man breek. En ek neem aan dat Hy iewers in die via doloroza inmekaar gesak het. Die soldate het, wat seker die naaste man was, gegryp en opgekommandeur en Jesus se kruis op hom gesit om te dra. So gaan die optog weer vorentoe: Jesus al strompelend tussen die soldate. Agter Hom kom Simon met Jesus se kruis. En agter Simon ‘n menigte mense onder wie vroue wat treur en huil. Simon het waarskynlik nie gewaag om te kla oor die oponthoud aan sy dag nie. Hy het so pas van buite die stad af ingekom toe die soldate hom gegryp het. Dit was hulle reg en hulle het dit uitgeoefen en hy moes maar inval by dit. Presies hoe Simon gevoel het weet ons nie. Wat ons wel weet dat dit hom dieper geraak het as wat ‘n mens besef. Miskien het hy gebly en die kruisiging klaar gekyk. Ons weet nie. Ons weet wel dat hy en sy gesin tot bekering gekom het. Ons lees hiervan in die slothoofstuk van die brief aan die gelowiges in Rome. Ons ken Jesus se reaksie. Soos altyd begaan oor ander. Vergeet Sy eie uitputting en pyn. Iewers na Hy neergesak het onder die gewig van die kruisbalk en hulle die kruisbalk op Simon van Sirene gelaai het, het Jesus die krag gevind om te praat met die vroue wat treur en huil. Om vir hulle nog te sê dat hulle nie oor Hom moet huil nie want erger tye kom vir hulle. Ek weet nie waar die ander twee, die twee misdadigers wat saam met Jesus gerkuisig is, in die optog was nie. Dit word nie gesê nie. Net dat hulle saam met Hom gekruisig is, een aan Sy regterkant en die ander aan Sy linkerkant. Die aangrypende is, dat toe Jesus daar aan die kruis hang, toe bid Hy vir die wat Hom gekruisig het. “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!” Dit is ‘n God-gevulde lewe. Om in jou sterwe, in jou ergste denkbare pyn te bid vir hulle wat dit veroorsaak het. ‘n Gebed waarin jy hulle verskoon van hulle dade af. Dit is die prakties maak van dit wat Hy mense geleer het: Jy vergewe. Selfs 70x7 keer. Selfs as hulle “gewen het en vir jou spot en uitlag”, jy vergewe hulle. Ek het geen idee wat hulle met daardie vergifnis gemaak het nie. Ek lees wel na Jesus se versoek dat God hulle dit tog moet vergewe, het van daardie raadslede Hom steeds gespot en uitgelag. Ek weet nie van jou nie maar die meeste mense voel erg gekrenk as mense hulle uitlag. Of as iemand sy of haar happydans uitvoer omdat jy verloor het of verkeerd was. En hier hang Jesus aan die kruis onskuldig, wetend dat God deur Jesus se pyn en vernedering en dood die wêreld wil red. Maar die ouens wat Hom aan die kruis laat vaskap het, doen “die happy-dans-ding”. En Hy vergewe hulle. Ek weet nie van jou nie, maar vergifnis het skielik vir my ‘n veel dieper betekenis verkry. Nou is dit nie meer woorde of ‘n beginsel om aan te leer nie: nou is dit geleef. Visueel. In die ergste denkbare situasie beoefen. Dis vir my swaar om te lees dat aan die eenkant het Simon van Cirene se lewe verander net deur die Here se kruis te dra, en ‘n misdadiger in sy laaste oomblikke het genade kon vind, en self die Romeinse offisier kon erken dat hierdie man was onskuldig, en inderdaad die Seun van God, maar, maar die raadslede van die Joodse geloof, was te vasgevang in wat ookal en hulle mis die kans van ‘n leeftyd. Hulle mis die vergifnis. Hulle mis die nuwe lewe. Hulle mis die paradys. Almal van hierdie mense wat ek so pas genoem het, was by dieselfde gebeure. Maar nie almal vind God nie. Hulle kennis ten spyte. En natuurlik was daar die saampraters en saam spotters. Die een misdadiger het nes die raadslede aangegaan: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!” Maar die ander een het hom tereg gewys en gesê:”Is jy nie bang vir God nie?” Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” En hy het dit opgevolg met ‘n ““Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.” Ure voor sy dood hoor hy ook hy is vergewe. Hoor hy by Jesus: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Ontdek Hy dit is nooit te laat nie ... behalwe as jy jou laaste asem uitblaas sonder om na God te roep. Ek hoop dat ook jy verwonderd is oor God vir so ‘n mens genade kon gee. ‘n Misdadiger, tog sekerlik verdien hy niks. Maar nes ons, met ons lys van sonde wat so hier en daar dalk van syne verskil, vind ook hy genade. En hoor ons, daar is hoop vir ons want die Seun van God het die finale offer kom wees en gebring vir die volkome vergifnis op al ons sondes. Ek lees vir ons verder: Lukas 23: 44 – 49 Met die donkerste pad voor Hom, die pad in die graf in en die stryd om die dood te oorwin, in ‘n finale daad van opoffer, sê Jesus: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor.” Leer by Hom vir ook jou reis, gee nou reeds jou lewe in God se hande oor. En onthou, die onskuldige het vir jou die skuldige gesterf.