Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 20: 45 – 21: 4 Woensdag Dit staan ook bekend as stil Woensdag omdat ons nie veel weet wat Jesus mee besig was nie. Dit word aanvaar dat Hy die mense geleer het. Sommige geleerdes praat selfs van ‘n Olyfberg diskoers. Ek weet eerlikwaar nie of hierdie twee dele rug teen rug afspeel nie. Lukas se plasing van die twee gebeure is interessant. Onthou ook asb dat die opskrifte en vers-indelings ‘n baie later toevoeging was. In Lukas 19:47 praat Jesus oor die lewens van die skrifgeleerdes. Hy wys uit dat hulle gesiene mense wil wees. Dit is vir hulle belangrik en hulle dra graag deftige klere. Hulle hou daarvan om op straat as Rabbie aangespreek en begroet te word. En in die sinagoges wil hulle in die voorste banke sit. By maaltye wil hulle die eregaste wees. Dit is klaar nie ‘n prentjie van diensbaarheid en nederigheid nie. Dan gaan Jesus verder en Hy beskuldig hulle dat hulle die mees weerloses, weduwees, se huise inpalm vir hulself. Maar terselfdertyd sê hulle ewe vroom lang gebede op. Dit is duidelik dat dit vir die skrifgeleerdes gegaan het oor eie eer, selfverryking en om ‘n beeld van vroomheid te projekteer. Die teenoorgestelde is egter waar. In die openbaar is hulle baie godsdienstig maar agteraf is dit ‘n perd van ‘n gans ander kleur. Veral as dit by finansies kom, kan jy weinig van geloof sien by hulle. Hulle leefstyl herinner my aan Jesus se woorde in Lukas 16:13: “Geen huisbediende kan vir twee base tegelyk werk nie, want hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.” Weet u wat was hulle reaksie bu daardie vroeere geleentheid op Jesus se woorde? “14 Die Fariseërs was baie lief vir geld en toe hulle al hierdie dinge hoor, het hulle Hom beledigend uitgelag. Hy sê toe vir hulle: “Julle is dié wat julle voor die mense as goeie mense voordoen, maar God ken julle harte. Wat deur die mense as belangrik beskou word, is 'n gruwel voor God.” Ek kan net dink dat hulle blind was vir hulself. Miskien was hul grootheidswaan die probleem. Of was hulle net so dikvellig en inhalig dat Jesus se woorde oor hul gespoel het sonder enige effek. Hier in hoofstuk 20 waarsku Jesus hulle weer. Jy vra jouself hier af: Maar wie dien hierdie skrifgeleerdes nou eintlik? As hulle God werklik van harte gedien het, sou hulle nie dan die weduwees en wees versorg het nie. Ook waar hulle kon uit hulle eie sak uit. God is tog duidelik gewees hieroor: Sorg vir die weduwees en weeskinders. Die weduwees in daardie tyd was baie meer weerloos as vandag. Hulle het nie iemand gehad om namens hulle in vergaderings en in die hof te praat nie. ‘n Vrou was onder die gesag van ‘n man, en as haar eie man dood was, en sy het nie seuns gehad wat oud genoeg was om namens haar te praat nie was sy in ‘n baie slegte posisie. En dit is oa hoekom God byvoorbeeld gesê het: 21“Jy mag nie 'n vreemdeling verdruk of laat swaarkry nie, want jy was self 'n vreemdeling in Egipte. 22 “Jy mag geen weduwee of weeskind veronreg nie. As jy tog so iemand veronreg, en hy na My roep, sal Ek na sy hulpgeroep luister. Dan sal my toorn ontvlam, en Ek sal jou om die lewe bring, sodat jou vrou 'n weduwee word en jou kinders weeskinders. God sê in talle dele in die Ou Testament: Sorg vir die weduwees. Maar nêrens sê God; Palm die weduwees se huise in nie. Dit is hartseer dat die skrifgeleerdes dit kon weet, kon weet dit is vir God belangrik, en dan steeds die teenoorgestelde doen. Geen wonder dat die Here oor van die kerkleiers van daardie tyd, ‘n waarskuwing uitgereik het: “Pas op vir die skrifgeleerdes.... ” Maw Hulle leef nie wat God beveel nie. Hulle gee voor wat hulle nie is nie. Teenoor die skrifgeleerdes staan die mooie verhaaltjie oor die arm weduwee. Ja, ‘n Weduwee. ‘n Weduwee met ‘n groter geloof in God se voorsiening as die van die skrifgeleerdes van daardie tyd. ‘n Weduwee met ‘n groter getrouheid aan God as die meeste mense. Ja, almal, die skrifgeleerdes ook, het hulle offergawes ingegooi. Kom ons kyk wat gebeur. Lees nou Lukas 21: 1 – 4 Jesus kyk rond en Hy sien hoe die mense hulle offergawes ingooi. Hy kyk. Hy sien. Dit is, so lyk dit vir my, vir Hom belangrik wat elkeen gee. Hy weet ook, sonder om bankstate of betaalstrokies na te gaan, wat die verhouding is tussen wat hule inkry en dit wat hulle hier as offergawe gee. Jy sien dit in Jesus se woorde ““Dit verseker Ek julle: Hierdie arm weduwee het meer ingegooi as al die ander. Hulle het almal iets uit hulle oorvloed in die offergawe kis gegooi, maar sy het in haar gebrek alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe.” Almal gooi “n iets” uit hul oorvloed uit. Die weduwee gooi in alles wat sy het om van te leef. Die skrifgeleerdes palm die huise van weduwees vir hul eie gewin in. Die weduwee gee in haar gebrek, haar alles wat sy oor het om van te leef vir God weg. Wat ‘n verskil!! Twee woorde wat kontrasteer: Oorvloed teenoor gebrek. En as ek die twee stories rug teen rug plaas, dan is dit die woorde “inpalm” teenoor “alles ingegooi wat sy gehad het om van te lewe”. Teenoor die gebrek van die weduwee en haar offerbereidheid aan God staan die deftige klere en leefstyl van die skrifgeleerdes wat weerlose weduwees se huise inpalm. Huise inpalm as jy reeds deftige klere dra is lankal nie meer om van te lewe nie. Watter een van die groepe het Jesus beindruk? Wie se lewens is werklik op God gerig? Die skrifgeleerdes se lewens, of die weduwee wat in haar gebrek alles ingegooi het wat sy gehad het om van te lewe? Die probleem lê dieper. Die skrifgeleerdes se voorgee staan eintlik teenoor hulle trou aan God. As ek na Jesus kyk dan het Hy in totale afhanklikheid van God gelewe. Selfs om die tempelbelasting te betaal het Hy op God vertrou. U onthou mos toe Hy Petrus gestuur het om te gaan visvang. Die eerste vis wat Petrus sou uittrek sou ‘n muntstuk in die bek gehad het, genoeg om albei se tempelbelasting te betaal. Kom ek bring dit nader aan ons. Ons oorgawe en diens aan God moet meer wees as net om gesien te wees. Dit moet dieper gaan tot waar dit ‘n totale vertroue in God weerspieel. Ons versugting moet nie wees die eer van mense nie, of om gesien te wees nie maar eerder om net in Christus te leef. Hieroor staan vandag se nuwe kultuur waarin mense hulself afneem besig om iets mooi of goeds te doen. Wat ‘n mens laat besef dat ons selfs die beste kan omswaai en oor onsself kan laat wees. Hier teen moet ons waak. Opreg, eerlik, stil stil moet ons God eer met ons hele lewens in getrouheid aan Hom geleef. Ook ons offergawes is deel van ons lewens en dus ook vir God belangrik. Kom ons bid