Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 20: 1 – 8 Die vraag oor Jesus se gesag Op Sondag het Jesus Jerusalem op ‘n donkie binne gery met uitroepe van “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom.” Op die Maandag het Hy die tempel gereinig van die handelaars. En nou is dit Dinsdagoggend en Jesus betree weereens die tempelterrein. Jesus is waarskynlik in die deel wat genoem word diepilaar- gange van Salomo. Jesus is besig om die volk te leer. Lukas onthou dat terwyl Jesus nog besig was om die evangelie te verkondig, het die priesterhoofde, en die skrifgeleerdes en ook nog die familiehoofde nader gestaan en vir hom ‘n vraag gevra. Lukas sê nie vir ons of hulle Jesus se leringe onderbreek het nie, of gewag het tot Hy klaar is nie. ‘n Mens lei ook af dat hulle taamlik aggressief was. Nou die priesterhoofde, skrifgeleerdes en die familiehoofde was die mense wat die Sanhedrin gevorm het. Die hoogste Joodse Raad van daardie tyd. Hulle was verantwoordelik vir die tempel. Hulle vraag is baie duidelik: “Sê vir ons, met watter gesag doen u hierdie dinge? Wie is dit wat u hierdie gesag gegee het?” Maw hulle sê: Wys ons jou papiere! Wys jou magtigingsbrief. Wie gee jou die reg om hierdie dinge te doen. Die eerste vraag wat by ‘n mens opkom is wat is die hierdie dinge waarvan hulle praat? Hulle het nog nooit ingemeng as Jesus die mense geleer het nie. So wat is nou die probleem. Heel waarskynlik was dit die Maandag, gister, se gebeure: Jesus wat die tempel gereinig het van alle handelaars en geldwisselaars. Dit sou hul regtig ongelukkig gehad het. Ek dink die meeste mense sal verstaan. Vat aan iemand se sak of beursie en daar is vinnig probleme. Die hoëpriester het volgens alle gerugte goed gedoen uit al die handelaars uit. Dus sal hulle kwaad wees. En tog is dit ook dalk die intog in Jerusalem in van die Sondag. Dit het hulle reeds in hulle baarde laat mor en bekommerd gehad oor die reaksie wat die Romeine dalk net sou kon hê. In alle geval het hulle al lank van tevore begin redes soek om van Jesus ontslae te raak. Hierdie is nie alleen oorsaak vir hulle vyandigheid nie. Persoonlik dink ek die laaste twee dae se gebeure, die intog en veral die tempelreiniging was vir hulle een te veel. Jesus antwoord hulle vraag met ‘n teenvraag. Vir jou en my lyk dit na ontwykingstegniek. Tog is dit bekend dat die rabbies dikwels mense geleer het deur teenvrae te vra. Dieselfde ook as hulle onder mekaar in gesprek was oor die Skrifte. Kom ek wys ‘n paar keer in die Lukas evangelie waar Jesus onder aanval, of neerhalende opmerkings of wat ookal met teenvrae gereageer het: 5: 22 Maar Jesus het hulle redeneringe gemerk en vir hulle gesê: “Wat redeneer julle by julleself? Wat is makliker? Om te sê: ‘Jou sondes is jou vergewe,’ of om te sê: ‘Staan op en loop’? 5: 33 (oor Sy dissipels nie vas nie) Toe sê Jesus vir hulle: “Kan julle dan die bruilofsgaste laat vas terwyl die bruidegom by hulle is? In Lukas 19 is dit ‘n paar woedende raadslede wat antwoorde soek. Jesus se teenvraag was: “Ek gaan julle ook iets vra, en julle moet My dan sê: Die doop van Johannes – kom dit van God of van mense af?” En dan bereik alles ‘n dooie punt. Want as die manne wat Jesus kom aanspreek sou sê Johannes die Doper se gesag kom van God af dan lê hulle hulself bloot vir ‘n “Maar waarom het julle hom dan nie geglo nie?” En as hulle sê Johannes die doper se gesag kom van mense af, dan gaan die hele volk hulle stenig want die mense was oortuig Johannes was ‘n profeet. Natuurlik het die probleem nie weg gegaan nie. Hierdie plan om Jesus stil te maak en hierdie gesprek het dalk geeindig maar hulle begeerte om Jesus dood te maak het nie geeindig nie. In hierdie stukkie geskiedenis bly die antwoord op die “met wie se gesag”, vraag, oop. Jesus sê nie. As jy terug kyk op Jesus se aardse lewe dan sien jy die hand van God in al die genesings. Jy hoor weer hoe Jesus die mense geleer het soos iemand met gesag. Anders as die skrifgeleerdes. Jy sien in Sy lewe die gesag kom van God af. Ek wil jou vra om vanaand ook die vraag te vra: “Met wie se gesag tree Jesus op?” As jou slotsom is, Jesus treë met God se gesag op, dan is die onvermydelike vraag: hoe raak dit jou tempel wees van God? Ek kies die woorde juis so omdat hierdie vraag ontstaan het na aanleiding van die vorige dag se reiniging van die tempel deur Jesus. So, as Jesus opgetree het met gesag wat van God af kom, en vandag nog steeds optree met God se gesag, hoe raak dit jou lewe? Hoe raak dit wie jy is as jy alleen is, en as jy tussen mense is. Hoe raak dit jou dissipelskap, jou leerling van Jesus wees? Sal mense Jesus se gesag in ons optredes en woorde kan eien? Stilgebed