Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 19: 45 – 48 Maandag Jesus se laaste week was nogals ‘n kragtoer gewees. En propvol drama. Daar was: • Die verheerliking van die skare toe Hy Jerusalem binne gery het. • Die hele volk het gretig na Hom in die tempel geluister. • En dan ook natuurlik die reiniging van die tempel. • En so ook die Donderdag se voetewassing Die reiniging van die tempel was natuurlik vir die Fariseërs die laaste strooihalm wat die spreekwoordelike kameel se rug gebreek het. Dit was hier waar hulle meer as ooit van te vore Jesus wou dood hê. ‘n Mens wonder, of dit ook ‘n geval van die ou gesegde was van “ vat aan ‘n man se sak of beursie en jy het moeilikheid? Die hele affêre van geldwisselaars en duiwe en diere verkopery was lankal nie meer om ‘n diens te lewe aan pelgrims wat van ver af gereis het om te kom offer aan God nie. Ja, daar was ‘n behoefte om geld te kan wissel. Jy kon nie Romeinse of ander geldeenhede by die tempel ingooi nie. Dit moes die Joodse munte wees. So ook was dit beter om nie jou offerdiere vir dae aan een aan te jaag Jerusalem toe om te gaan offer nie. Jy het ‘n offerdier gekoop in Jerusalem. Dit is as jy nou nie naby aan Jerusalem gebly het nie. Wat egter gebeur het is dat die Hoëpriester hierdie handeldryf toegelaat het in die deel van die tempel area waar die heidene moes kon aanbid het. En dit toe ‘n stappie verder tegelaat het. Die gerugte het geloop dat die hoëpriester sy eie sak gevul het met wat ons vandag “kickbacks” noem. Hy en sy gesin het ryk geword uit hierdie besigheid uit. So hier kom jy met jou eie offerdier aan om te offer. En die priester wat moet kyk of die offerdier sonder gebrek is en geskik is vir ‘n offer aan die allerhoogste kyk die dier so deur en keur dit af. Jy moet maar liewers by die tempelhandelaars ‘n geskikte een gaan koop of jy gaan nie offer nie meneer. Siek! Ek wil dit duideliker stel: Hierdie is nie ‘n fondsinsameling vir die tempel nie. Dit was ook nie meer ‘n diens wat gelewer was aan die tempelbesoekers nie. Dit was uit en uit ‘n geldmakery waarvan die meeste geland het in die hoëpriester en sy gesin se sakke. In daardie tyd was Kajafas die hoëpriester. Die hoëpriester voor hom was Anna. Annas was Kajafas se skoon pa. Moet ek nog aangaan? En dan kom Jesus en hy keer die tafels om. Hy vleg ‘n sweep en jaag al die handelaars uit, diere en al. Ek sê weer: as jy ‘n man wil kwaad maak dan vat jy aan sy sak. Die hoëpriester en sy manne, hulle sakke is geraak en hulle was kwaad. Maar hulle het ‘n probleem gehad: Die volk. Die volk het gretig na Jesus geluister. Lukas skryf: “ 47 Hy was elke dag in die tempel besig om die mense te leer. Intussen het die priesterhoofde en die skrifgeleerdes, en ook die leiers van die volk, 'n plan gesoek om Hom dood te maak. 48 Hulle kon egter niks vind wat uitvoerbaar was nie, omdat die hele volk gretig na Hom geluister het.” Die volk het gretig geluister. Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het nie geluister nie. Hulle het skynbaar nie eers nagedink oor Jesaja 56: 7 of Psalm 118: 22 nie.nie. Die twee dele wat Jesus aangehaal het wat sê: ‘My huis sal 'n huis van gebed wees,’ maar julle het dit 'n rowersnes gemaak.” Ek glo dat die priesterhoofde en skrifgeleerdes tog sekerlik ook Jeremia 7:11 moes geken het: Daar staan “Het hierdie huis wat na my Naam genoem is, vir julle 'n rowerspelonk geword? Ek het gesien wat julle doen, sê die Here.” Hoe is dit dat God se woord, wat hulle die volk moes leer, nie deur hulle geleef is nie? Hoe het dit gekom dat ander dinge vir hulle meer belangrik geraak het as God se wil? Jesus self het by geleentheid die Fariseërs aangespreek oor hulle graag deur mense geeer wou word, op straathoeke gestaan en bid het maar agteraf arm weduwees uitgebuit het. So jy sit hier met God se kant en ook met mense se kant. God wat sê Sy huis moet ‘n huis van gebed wees. En aan die anderkant die priesterhoofde en skrifgeleerdes wat van God se huis ‘n rowerspelonk maak. God wat Sy tempel reinig en die priesterhoofde en skrifgeleerdes wat ‘n plan soek om hul beleggings (tempel handel) te beskerm en hul gesag en eer. Wat dit erger maak is dat hulle dit juis gedoen het waar die heidene die kans sou gehad het om God te kon aanbid. Daardie deel word toe ‘n markplek met al die lawaai en geluide wat daarmee saam gaan. Geen stilte waarin jy kan aanbid nie. Maar wel die geblêr en bulk van vee. Selfs moord sou okay wees as dit dinge weer sal terug vat na waar hulle gemaklik was. Die groot vraag in hulle midde was: as ek nou 19: 38 kan omswaai in ‘n vraag vorm om die planne soek om Jesus dood te maak beter te illustreer: Hoe maak ons Hom dood wat in die Naam van die Here gekom het? Vergeet die tien gebooie. Vergeet die dele oor huis van gebed. Beskerm ons bronne van inkomste. Dit is hartseer. Maar kom ons onthou dat om te oordeel kom jou en my nie toe nie. Kom ons besef almal is sondig. (Romeine 3). Ook ons was vêr van God af. Ek het gewonder hoe sal mense reageer as ons besef dat vandag is die tempel nie ‘n gebou nie, maar ons liggame, en dus word ons lewens God se tempels. (1 Kor 6: 19) Nou is dit ons lewens wat gereinig moet word. Nou is dit ons wat die “tempel van God” moet suiwer en heilig hou. Kom ons onthou: God sou die reiniging verder vat as net Jesus wat op daardie dag in die geskiedenis die tempel gereinig het. God sou Sy volk, Sy mense van hulle sonde reinig deur die kruisdood van Sy Seun. Jesus was die finale offer in die tempel, die Een offer wat ons sondes finaal weg gevat het. In Jesus se dood en opstanding verander alles. Kom die einde van die tempel-era. Verskuif die tempel van God na in die gelowiges. En met die val van Jerusalem is die gebou ook weg gevat. Nou is dit ons wat daarop moet let dat God se huis moet ‘n huis van gebed wees. Nou is dit ek en jy wat moet nadink oor wat ons toelaat in ons geheiligde lewens. En dalk ook dieper gaan dink oor die rol en plek van gebed in ons lewens. Dit is maklik om hierdie deel te lees en vir Jesus hande te klap en die priesterhoofde en skrifgeleerdes te veroordeel. Maar dit is nie ons plek om dit te doen nie. Ons plek is om biddend vanuit God te leef soos Jesus vanuit gebed en God geleef het. Deel van hierdie volgende drie dae is dan veral om te bid. Saam te bid. Saam voor God te wees voordat ons die paasfees saam met God vier. Kom ons bid.