Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 19: 28 – 40 Soveel keer gebeur dinge en word ons bekommerd want ons weet nie hoe dit gaan uitspeel nie. Of God gee ons ‘n opdrag, of iets kom lê in ons binneste en ons weet dit is vir ons om deur te voer, maar ons huiwer want dit maak nie sin nie. Dink aan die twee dissipels wat Jesus vooruitstuur om die jong donkie te gaan haal. Gaan daar ooit ‘n donkie daar vasgemaak staan? Gaan die eienaar nie aanstoot neem en hulle wil laat vang vir donkie-diefstal nie. ‘n Mens kan nogals ‘n paar vrese of sê-nou-nets hier opwek. En tog, presies soos Jesus gesê het, werk die dinge uit. 1. God voorsien. Wat kan ‘n mens anders sê as net dit? God voorsien. Hier is natuurlik veel meer aan hierdie gedeelte as net dit. Maar kom ons begin by God voorsien. Mense maak ‘n fout as hulle dink hulle kan leef soos hulle wil of soos dit vir hulle gerieflik is maar God moet steeds voorsien. Ek sê dit want in hierdie deel word dinge nogals presies voor uit gesê: Bv Die dorpie hier reg voor, gaan soontoe. As jy die dorpie inkom sal daar ‘n jong donkie wees. Hy is vasgemaak. Hy is nog nooit gery nie. En as iemand julle vra: Waarom maak julle hom los, dan sê julle: Die Here het hom nodig. En dit het presies so afgespeel. As die twee dissipels nie gegaan het nie, nie gehoorsaam het nie, sou hulle nie geweet het hoe presies God kan voorsien. Die jong donkie is inlyn met die profesie van Sagaria 9: 9 “Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is 'n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op 'n donkie, op die hingsvul van 'n donkie.” God se voorsiening loop dus ver vooruit hier. Hy lewer hier af wat Hy eeue van tevore voorspel het. Jesus gee hier net die fyner detail. Hier is geen aanduiding dat die twee dissipels, die groter verband met Sagaria se profesie op daardie oomblik gesnap het nie. Of dat hulle werklik verstaan het die betekenis van die tye wat voor hulle oë afgespeel het. Dit is eers na die opstanding wat hulle die kolletjies begin verbind het. Na Jesus hulle verstand geopen het en hulle breedvoerig geleer het voor Sy hemelvaart. Daar is mense wat glo dat dit vooraf gereël is sonder die dissipels se medewete. Maar dan moet jy ook vra: Sou die eienaar, of wie ookal dan, nogsteeds wou weet waarom maak hulle die vul los? Die vraag sou oorbodig gewees het. Die donkie sou juis daar gewag het om gehaal te word. Vers 33 kan geinterpreteer word as dat die eienaar nie geweet het nie. Daar is egter ook heel party plekke waar ‘n mens lees van hoe Jesus dinge op ‘n “bonatuurlike manier” geweet het. Soos aan die huis van Simon die Fariseer toe Jesus Simon se gedagtes gelees het. Kom ons gaan terug na ‘n kernbeginsel in Jesus se lewe: Jesus het net gedoen wat Hy by Sy Vader gesien het. Jesus het net gesê wat Hy by Sy Vader gehoor het. As ek na Jesus se lewe kyk dan sien ek ‘n lewe van gebed. ‘n Lewe voor God alleen wat oorspoel in ‘n lewe tussen mense waar Hy dan God verteenwoordig. ‘n Mens se eerste aanduiding van hierdie ingesteldheid kry jy as Jesus as 12 jarige alleen by die tempel agterbly. As Sy ouers Hom uiteindelik vind dan is Jesus se verweer, en ek haal aan: “Maar Hy antwoord hulle: “Waarom het u na My gesoek? Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” Letterlik in die Grieks, dat ek in die dinge van My Vader moet wees. Dat Ek met God se wil besig sal wees? Ons sien in Jesus se presiese beskrywing van waar die jong donkie sal wees, hoe God Sy geliefde Seun se dinge vooruit reël. Jesus sê hier bloot net wat die Vader vir Hom gewys of gesê het. 2. Koninklike eer Ons moet egter nie by die haal van die jong donkie vashaak nie. Die donkie is bloot deel van die vervulling van Sagaria se profesie van so ongeveer 500 jaar van tevore. Die profesie gaan oor die Messias wat Jerusalem op ‘n jong donkie as Koning sou binne ry. Hier breek die skare volgelinge van God, juigend en uit volle bors uit en hulle begin om God te prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. Een van die gesprekspunte op pad en in later in Jerusalem was oa Lasarus wat deur Jesus uit die dood opgewek is. Die mense het gesing: “Loof die Koning, Hy wat in die Naam van die Here kom! Vrede in die hemel en eer aan God in die hoogste hemel!” (19: 38). Kom ons sit dit in die breeër konteks. By Jesus se doop het God Hom geëer deur te sê “Dit is My geliefde Seun. Oor Hom is Ek verheug.” Hier word Jesus weer bemoedig. Die skare loof Hom waarskynlik as aardse koning. God eer Hom as die ewige Koning wat wag om getroon te word. Die Koning van die heelal en meer. Persoonlik dink ek hierdie is ‘n moed skep oomblik vir ons Here. So voor die angs van Getsemane, die sleg van die verhore, die pyn en vernedering van die geseling en kruis en dood, sou hierdie Hom gehelp het om te fokus en deur te druk. Hierdie ‘n klein voorsmakie van die groter verheerliking wat op Hom wag in die opstanding en verheerliking wat sou kom daarna. Die mense het op daardie dag dit waarskynlik nie verstaan nie. Dalk net vasgekyk na wat om hulle gebeur. Dalk gedryf deur hulle eie verlange om vry te wees van die Romeinse onderdrukking. Die betekenis van daardie oomblik het hulle nie gesnap nie. 3. Die betekenis van die tyd Dit is hier waar die inleiding en die eerste deel vir ons skielik nuwe betekenis moet in neem. Waar ons moet besef dat ons verhouding met God so heg moet wees dat die betekenis van hierdie tye nie by ons verby gaan nie. Die skrifgeleerdes wat die koms van die Messias moes herken het dit skoon gemis. Hulle het die Skrifte geken en moes die Messais kon eien aan wat Hy gedoen het. Johannes die Doper kon dit doen. Maar die skrifgeleerdes was meer bekommerd dat die Romeine begin dink hier is ‘n opstand aan die kom en dan met die swaard inspring en begin doodmaak en die tempel afbreek. Die bekende was vir hulle te belangrik. Jesus se reaksie op hulle oproep om die mense stil te maak was om te sê ““Ek sê vir julle: As hulle stilbly, sal die klippe uitroep.” En kan ek sê, dit is ‘n wonderwerk dat die Romeine nie uitgestorm het om hierdie opstandjie te onderdruk nie. Dit was duidelik te sien vanaf die een Romeinse uitkyk toring. En sulke uitroepe van loof die Koning sou hoorbaar gewees het. Maar dit was nie hoe God dit sou laat uitspeel nie, dus die soldate het in hul barakke en uitkyk torings gebly. En Jesus is met luide toejuiging Jerusalem in met ‘n eerbewys wat konings toekom. Volgens Matteus 21: 10 het die mense wat reeds in Jerusalem was, in beroering gekom en gevra “Wie is hierdie man?” Hulle het, volgens Johannes 12, ook die heel tyd gepraat oor Lasarus wat uit die dood opgewek is. ‘n Mens kan verstaan hoekom dan die vraag “Wie is hierdie man?”. Dit is ‘n vraag waarmee ons moet besig raak. Wie is hierdie Jesus? En meer belangrik “Wie is hierdie Jesus vir my vandag?”. Treë ons op soos mense wat Jesus herken as die Christus, ons Koning en Redder. Of is Hy maar net ‘n gesprekspunt in ons lewens? ‘n Belydenis wat ons weerspreek in dit wat ons doen en selfs sê. Die tweede groot vraag is wat is die betekenis van ons tyd? Anders as met Jesus daardie tyd, is die vraag of ons enigsins verstaan waarmee God vandag besig is in hierdie land. En wat is God se bedoeling met jou en my op die plek waar ons nou is? En is ons deel van waarmee God besig is, of sus onsself tot gerustheid met tradisies en met versies op Facebook en WhatsApps wat voorspoed belowe? Het ongehoorsaamheid ons geloof kragloos gemaak? Soos sout wat smaak verloor het. Het ons eiewilligheid en innerlike vrese ons so vasgevang dat ons die lig van God in ons onder ‘n emmer wegsteek? Kom ek vra dit anders: Sou jy vooruit geloop het en die donkie gaan losmaak het? Sou ons ingesteldheid op God so gewees het dat ons ten minste dan die tekens kon raaklees dat hier is God se Messias. Hier is die keerpunt vir die wêreld. Kom ons bid.