Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 3: 13 – 17 Ek gaan ook verwys na Johannes 3 en daaruit aanhaal. Toe my broer my vliegkaartjies gegee het om vir hom te gaan kuier, was daar hierdie lysie dokumente en goed wat ek alles in plek moes kry voor ek die nodige visas kon bekom. En uiteindelik moes ek op die vliegtuig klim met my visum en die reis begin. Die doop is nie nog ‘n item op so ‘n lysie sodat ons “visum” aansoek vir die hemel nog nader aan voltooiing kan kom nie. Die doel van ons doop is nie om nog ‘n regmerkie op ons emmer-skop-lysie te kan maak nie. Die doop is God wat jou kom verseker dat jy genooi is en deelgemaak word van God se reis met ons en met hierdie wêreld. As gedoopte kan jy nie bly waar jy is nie. Jy moet saam met God se geliefde Seun reis. Ons is besig met Jesus se reis na Jerusalem toe, en so na Getsemane, Golgotha, die graf en opstanding. Hierdie deel speel af nog lank voor Jesus Sy dood en opstanding voorspel het. Ons word dus ‘n bietjie verder terug geneem op Jesus se aardse reis. 1. Hoekom juis die deel? Sê my: Hoe sê jy vooruit, by drie geleenthede ten minste, dat ““Kyk, ons gaan nou Jerusalem toe, en alles wat die profete oor die Seun van die mens geskryf het, sal daar bewaarheid word. Hy sal uitgelewer word aan die heidene; Hy sal bespot en beledig word; hulle sal op Hom spoeg, Hom gesel en Hom daarna doodmaak. En op die derde dag sal Hy uit die dood opstaan.(Luk 18: 31 – 33)” As jy weet wat kom, en tog kies jy vasberade die pad na Jerusalem waar dit wat jy vooruit gesê het gaan gebeur? Hoe kry jy dit reg om koers te hou? Dink aan Jesus se angs in Getsemane. Toe Hy so benoud was dat Hy bloed gesweet het. Jy kry dit reg as jy weet dat jy God se geliefde Seun is. En as God, by jou doop, Sy Gees op jou laat neerdaal. God, in Sy wysheid, het geweet, geen mens kan die pad loop wat Jesus moes loop, sonder om baie duidelik te weet Wie Hy is nie. God bevestig dat Jesus Sy geliefde Seun is. Dat Hy verheug is oor Jesus. Dit word onderstreep vir Jesus deur dat, toe Hy klaar gedoop is, die hemel bo Hom oopgegaan het en die Gees op Hom gekom het. 2. Groter as enigiets Dit alleen, moes ‘n geweldige oomblik gewees het. Maar dit is nie ter wille van Jesus nie. Dit is ook ter wille van ons. Ook ons moet besef dat hierdie Jesus, van Wie baie mense praat as liewe Jesus, is die Seun van God. Hy is nie in ons liga nie. Hy is meer. Groter. Hy is die Here. Die Messias. Trouens die kortste geloofsbelydenis is: “Jesus Christus is die Heer.” En hier by Jesus se doop, onderstreep God dit: “Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek My.” Ons praat nie hier van ‘n private oomblik tussen die Vader en Sy geliefde Seun nie. Lukas sê dit het gebeur terwyl Jesus staan en bid het (Lukas 3:21). Johannes die Doper het self aanvanklik nie geweet wie die Messias is nie. (Johannes 1: 31 ev). Johannes die Doper het dit 2 keer gesê. Ek het nie geweet Wie die Messias is vir Wie ek die pad voorberei nie. Maar op die dag wat Jesus nader gestaan het om gedoop te word, het God vir Johannes gesê: “Die Een op wie jy die Gees sien kom en bly, dit is Hy wat met die Heilige Gees doop.” En dan sê Johannes die doper hy het dit self gesien en “daarom getuig ek: Hy is die Seun van God.” Twee keer sê Johannes dit is die Doper se getuienis. Die soort getuienis wat daardie tyd in ‘n hof sou kon dien. Nie die een of ander storie nie. En nou is dit ook ons voorreg om dit te mag weet en verstaan. ‘n Weet en verstaan wat deur die werk van die Heilige Gees in ons dit oopmaak. Dit is belangrik want hier word dinge oor Jesus gesê wat vir ons maak of breek belangrik is. Jesus is die geliefde Seun van God. Jesus is die Een wat moes kom. Die Messias. Die Christus. In Hom leef ons. Hy is die wingerdstok en ons die lote. 3. Die wil van God. Johannes die Doper, toe Hy besef het Wie Jesus regtig is, nie maar net sy neef nie, maar die Gestuurde van God, toe wou hy nie Jesus doop nie. Volgens sy besef moes Jesus hom eerder doop. Jesus is die Een wat moet doop en Johannes die een wat gedoop moes word. Jesus was baie duidelik aan Johannes. Johannes moet dit doen. Johannes moet Hom doop want op die manier voldoen hulle aan die wil van God. En eers toe het Johannes ingestem. As jy wyer kyk, in hierdie geval na Jesus wat volledig God is en volledig mens, dan besef jy dat God hier in Jesus se doop Hom reeds verenig met ‘n Mens. Dit word sigbaar in die Heilige Gees wat op Hom neerdaal. In jesus se gehoorsaamheid aan die wil van God hier, lê ook Sy gehoorsaamheid aan God regdeur Sy lewe as Mens hier op aarde. Maw as jy Jesus iets sien doen, dan kan jy weet dit is wat God doen. In Jesus se woorde, hoor jy God praat. In Jesus se omgee sien jy God se omgee. Jesus is God wat mens geword het. Omdat Jesus die geliefde Seun van God is, en gehoorsaam was aan God se wil, is ek en jy nou geliefde kinders van God. Laat dit insink. Jy is ‘n geliefde kind van God. Dieselfde God wat in Jesus mens geword het. Tussen ons kom woon het. Dieselfde God wat vandag nog alles vul met Sy teenwoordigheid Efes 4:10; Psalm 139). Dieselfde God wat die heelal en wat okal nog daar buite is, geskep het. Hy kies om ook jou Vader te wees in Christus Jesus. Hy het jou lief. Jy is Sy geliefde kind. Jy is dit omdat Jesus ook by die doop gehoorsaam was en ook aan die kruis. Henri Nouwen vertel hoe hy in sy lewe rondgehardloop het en oral gesoek het na mense om vir hom te bevestig dat ook hy die moeite werd is, iets beteken. Dit was vir hom asof al die stemme in die wêreld geskreeu het: Bewys jouself. Bewys dat jy werd is om lief gehê te word. Bewys dat jy relevant is vir ons; bewys dat jy mag het. Dan sal jy die erkenning en liefde verdien wat jy so begeer. Klink dit bekend? Hoeveel kinders werk hulle dood, behaal die een op die ander graad, of bereik dit en nog dat. Want hulle smag om te kan hoor my pa is trots op my? Dit, terwyl hulle pa al lankal oorlede is. Hoeveel smag nie na ‘n stukkie erkenning van jou man of vrou af, of van jou kinders af dat jy eintlik darem goed is. Besonders is of dat hulle op jou trots is. Luister dan, hoor. God sê: Jy is ‘n geliefde kind van Hom. Jy is een van Sy geliefde kinders. Hy is verheug in jou. En as jy nou vasskop, soos ek aanvanklik vasgeskop het by die gedagte dat hierdie vers met kleinletters geskryf ook van my kan waar wees, besef net dit: Omdat Jesus die geliefde Seun van God, in jou plek aan die kruis betaal het vir jou sonde en jou so gereinig het en wedergebore het ... het God vreugde in jou. Hou op rond hardloop en die wêreld en mense se erkenning soek. Jy is ‘n geliefde kind van God. Hy het vreugde oor jou. Jou doop bevestig dit. Jou doop is die geskenk wat God vir jou gegee het om jou te herinner Hy het jou lief. Jy is skoon gewas. Jy is Syne. Luister na die sagte fluistering van die Gees wat sê “Ek het jou by jou Naam geroep. Jy is Myne (Jes 43). Ek het jou in die moederskoot aan mekaar geweef (Ps 139). Ek het jou naam in my handpalsm gegraveer (Jes 49: 16). Frans, Anneline, leer Luan dit. Leer hom om te onthou dat ook hy ‘n gedoopte is. Dat ook hy deur Jesus Christus ‘n geliefde kind van God is. Dat ook hy spesiaal is, deur God geroep is om aan Jesus te behoort. Leer hom dit wat ons almal moet leer: dat die lewe ‘n reis met God is. En wie ontdek dat ook hy of sy ‘n geliefde kind van God is, moet van hier af wees dit wat God hul gemaak het: Sy geliefde kinders. Dit moet soos lig helder uit ons uitstraal in alles wat ons dink, in alles wat ons is. Leer vir Luan dit wat ons almal nog onder die knie moet kry: om God so te ken dat jy Sy wil ken. So God se wil te ken dat ander in wat jy doen God kan beleef, in wat jy sê God kan hoor, in jou gesindheid, in hoe jy hulle laat voel, hulle kan voel hoe God oor hulle voel. Geliefde kinders van God word soos die Geliefde Seun van God in Wie God groot vreugde het. Amen.