Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Ons moet net eers twee stories vanuit die vorige hoofstuk uithaal en afstof. Die eerste een begin so:”(18: 9) Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel. En dan volg die gelykenis van die Fariseer en die tollenaar wat na die tempel toe gegaan het om te bid. Die Fariseer het gaan staan en by homself gebid “‘O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee 'n tiende van my hele inkomste.’”. Die tollenaar het op ‘n afstand bly staan. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: ‘O God, wees my, sondaar, genadig.’ Van die twee het Jesus gesê: “Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word.” Dus nie die man wat seker van sy eie goedheid voor God was nie maar die een wat geweet het hy is ‘n sondaar uit en uit, se saak was reg met God. Die tweede storie is die van die ryk jong man. Ons ken die storie. Dit wat tussen God en die jong man gestaan het was die jong man se baie besittings. Dit was sy alles. En God was nie eerste in sy lewe nie. En op die einde sê Jesus “dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Jesus sê nie dis onmoontlik nie. Wat mense moet besef is dat Jesus is hoe die kameel deur die naald se oog kan gaan. Jesus is hoe elke mens die koninkryk binne gaan. Jesus is die enigste weg wat God ons gegee het (Hand 4: 12). Sonder Hom is daar geen hoop. Vandag, ontmoet die kameel wat deur die naald se oog gegaan het. Ontmoet die tollenaar wie se saak reg gekom het met God. Hy het ‘n naam .... sy naam is Saggeus.... En na hom was daar nog ander ook. Hier, in Saggeus se verhaal gaan die kameel deur die oog en word die tollenaar gered en die goeie mense verstik spreekwoordelik in hulle eie vooroordele en korrektheid. En as dit nie genoeg is om jou te laat regop sit en aandag gee nie, kyk dan na Saggeus se naam. Sy naam beteken “skoon” of dan ‘onskuldig’. Saggeus is ‘n vergrieksing van die Hebreeuse Zakkai. Dus is Saggeus ‘n Jood en dus iemand wat volgens sy geboorte tot die ‘huis van Israel’ behoort het. Saggeus, die man wat so graag tog net vir Jesus wou kon sien, en toe uiteindelik vir Jesus as ‘n gas in sy huis kon ontvang, is eintlik ‘n diep verlore mens gewees. En hy het dit geweet. Jy sien, tollenaars was ‘n probleem. En as jy die hooftollenaar was dan is dit ‘n nog groter probleem. Dan haat hulle jou met passie. Dan is jy ‘n uitverkoper. Jy is onaanvaarbaar en summier een kant toe gestoot. En nou kom Jesus en Hy gaan staan en praat nie net met die gehate klein mannetjie nie, maar Hy nooi Homself na die gehate sondaar se huis toe. Saggeus was, anders as wat sy naam sê, glad nie so ‘onskuldig’en ‘skoon’ nie. Hy was korrup. Hy het vir die Romeine belastings ingevorder. Hy het vir die vyand gewerk. Die tollenaars was verantwoordelik om allerlei heffings en tolgelde namens die Romeinse oorheersers in te samel. En hier in Jerigo waar ‘n hele paar handelsroetes saamgekom het, kan jy jouself indink, was dit groot geld. Kan ek net byvoeg, dan sal ons beter verstaan hoe erg die gevoelens teen tollenaars was. Die Joods-Romeinse oorlog van 66-74 het onder andere losgebreek oor tolgelde en belastings. Dit was vir die Jode ‘n vernedering. Die geld waarmee jy die tolgelde moes betaal, het die beeld van die keiser op gehad. Vir ‘n Jood het dit die eer van God aangetas. Saggeus se beroep het hom ‘n uitgeworpene gemaak. En wat die koninkryk van God betref, soos deur Jesus verkondig, was hy die kameel wat nooit ooit deur die naald se oog sou kon gaan nie. Vers 7: “Almal wat dit gesien het, het beswaar gemaak en gesê: “Hy gaan by ‘n sondige man tuis.” Jesus het nie per ongeluk hier in ‘n ding beland nie. Dit is nie die sameloop van dinge wat vir Hom hier ‘n strik word nie. As jy weer mooi kyk na vers 5 dan is daar ‘n “moet” ter sprake ... Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” “Moet!” Dit is vooraf, deur God gegee, dat Jesus hierdie afspraak moes nakom. In Ef 1 skryf Paulus nog voordat God iets geskep het, het Hy ons al bestem om Sy kinders te wees. So was dit ook vir Saggeus en so is dit ook vir jou en my. Ongeag wat mense sê wie of wat jy is, so is dit vir jou. Mens moet jouself afvra , Wie of wat het Saggeus beweeg om soveel moeite te doen om Jesus te sien te kry ? Vir ons is hier te leer om getrou aan God op te tree al weet jy almal gaan teen jou draai of jou veroordeel. Dink maar net aan hoe die mense dit verloor het toe Jesus saam met Saggeus aan huis gegaan het. Vir ons is hier ook om raak te sien dat al is jy dalk hoe vasgevang in verkeerde in jou lewe, God het jou al lankal raak gesien en wil jou herstel. Al sê die mense wat en al veroordeel wie ookal vir jou, God doen dit nie. God ken jou dieper hart en versugtinge en soos met Saggeus kom Hy ook by jou langs verby. Doen jy net moeite om Hom te sien te kry. Na die ryk jong man hartseer van Jesus af weg is, het die mense gevra: “Maar wie kan dan gered word?” (18:26). As jy so na Saggeus kyk, sou jy nie ook gedink het hierdie mens is verby alle hoop nie? Hy sal nie gered word nie? En kom ons wees eerlik: ons sou dalk ook verontwaardig gevoel het dat so ‘n volksverraaier, my woordkeuse, God se guns geniet. Maar kyk weer na vers 5-6: Dit is ‘n dag van die een verrassende gebeure op die ander. Wanneer Jesus regoor die boom kom waarin Saggeus is, gaan hy staan, kyk op na hom en sê: “Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuis gaan.” Die verstommende is, Jesus noem hom op sy naam! Dis egter nie al nie. Soos wat dit later sal blyk, is die kort sinnetjie gelaai met hoop. Met verlossing. Nêrens word hier iets gesê van of Jesus Saggeus bietjie aangespreek het oor sy lewe nie. Trouens, met ‘n weer en weer lees raak jy bewus dat die feit dat Jesus hom raakgesien het, en met hom gepraat het en hom nie geignoreer het nie maar Homself na Saggeus se huis genooi het, het hierdie man geswaai. Het jy raakgesien? Jesus het nie gewag op ‘n uitnodiging van Saggeus af. Jesus het Homself genooi na Saggeus se huis. Saggeus het dalk die inisiatief geneem om Jesus te sien te kry. Maar dit is Jesus se inisiatief om by Saggeus uit te kom. Wat sê dit vir jou vandag? Ons moet ook die dringendheid hoor in Jesus se woorde ‘Ek moet’. Eintlik loop hierdie dringendheid soos ‘n goue draad deur die Lukas evangelie (2:49; 4:43; 9:22; 13:16,33; 15:32; 17:25; 22:37). En as jy dit saam lees met die “vandag” in vers 5 en dan weer in vers 9 dan besef jy vandag is die tyd om saam met Jesus te gaan, ook in jou eie huis in. Hierdie oomblik, ‘nou’, is belangrik! Nou is die tyd, Saggeus om af te klim. En Saggeus het gereageer deur te gaan regmaak dit wat hy kon.. Moenie jou ore uitleen na mense se wyshede of haat nie. Selfs al het Jesus gesê dit is makliker vir ‘n kameel om deur ‘n naald se oog te gaan, onthou, Saggeus was ‘n ryk man en anders as die ryk jong man het hy nie bedroef van Jesus af weg gegaan nie. So ook nie Nikodemus, en ek neem aan ook nie Josef van Arimatea nie. By God is daar ook vir jou en my hoop en redding. En ja, anders as die Fariseers in Jesus se gelykenis, is ‘n tollenaar, by name Saggeus, se “gebed” ook verhoor.