Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 9: 18 – 26 ‘n Ander aanhaling wat ek gelees het dê dat ons nie net kennis moet versamel nie. Ons moet die evangelie in ons harte laat insak. Hier is ‘n eenvoud van geloof wat aangrypend is. Die pa kom na Jesus. Sy lewe is stukkend. Sy dogtertjie is so pas oorlede. Hy kom vra: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.” Hier is my realiteit, Here, my kind is nou net oorlede. En dan kom die geloof. Geloof wat sê hy vertrou dat die Here ‘n ander realiteit sal gee. Daarom die maar. Maar kom lê U hand op haar en sy sal weer lewe. So eenvoudig. Geen twyfel by hom nie. Hy is seker. Hy is oortuig dat as Jesus maar net saam met hom kan kom en Sy hand op die kindjie sal lê dan sal sy weer lewe. By sy huis, waarskynlik sonder sy medewete, is die mense ook oortuig. Die dogtertjie is dood. Die mense reël al begrafnis. Die fluitspelers en die die roubeklaers wat kom saam huil is al daar. Vir hulle is alles klaar verby. Kom ek sit meer detail by. Dit is belangrik, dink ek, dat ons onsself hier iewers moet kan herken. Dalk in die pa. ‘n Man wat ‘n pad met God kom. As raadslid van die sinagoge was hy sekerlik godsdienstig. Hy kom nie as raadslid vol van sy eie belange en stel eise nie. Hy kom en kniel voor Jesus. Waarskynlik was die kniel voor Jesus iets te doen met sy oortuiging dat Jesus meer is as net ‘n rabbie. Dit word nie uitgespel nie. Die kniel lyk net te belangrik om oor te lees. Volgens Markus is sy naam Jairus en die dogtertjie, 12 jaar oud, Talitha. Talitha het ‘n ma en pa wat vir haar baie lief is. Wat nie haar dood sonder meer wil aanvaar nie. En haar pa gaan vra vir ‘n ander uitkoms. Nie een van die evangelies praat iets van haar ma se geloof nie. Matteus gebruik nie eers die woordjie “geloof” of “glo” tov Jairus nie. En die dogtertjie se eie geloof is ook nie tersprake nie. Geloof tov Jairus word afgelei. En jy lei dit af in wat jy sien. Hy kom na Jesus toe. Hy sê: “My dogter het nou net gesterwe, maar kom lê u hand op haar en sy sal weer lewe.” En hy lei Jesus en die dissipels na sy huis. Kan ek ons ‘n oomblik onderbreek. Henri Nouens vertel dat hy geweldig gefrustreerd kon raak as mense hom onderbreek. Dit is, tot die dag wat hy bewus geraak het dat hy juis geroep is vir die onderbrekings. Onderbrekings is dikwels geleenthede om God te sien werk, of God se liefde en omgee te wys. Die onderbreking in die geval is die vrou wat ongevraagd van agter af aan die soom van Jesus se klere kom raak. Sy het gereken ““As ek maar net aan sy klere kan raak, sal ek gesond word.” Kom ek gee ‘n bietjie meer agtergrond: Sy ly al twaalf jaar aan bloedvloeing. Dit is een van daardie kondisies wat jou godsdienstig onrein gemaak het. So vir 12 jaar is sy al uitgestoot. Sy het al haar geld uit gegee op dokters. Sy het op daardie stadium al baie gely onder die dokters se behandeling. Sy kom as vrou en nader, teen die gebruike van daardie tyd, ‘n man. Hoekom waag sy dit? Jesus was vir haar so werklik, sy was so oortuig dat al sou sy selfs net aan die soom van sy klere kon raak dat sy gesond sou word. Vir haar sê Jesus: “Wees gerus, dogter, jou geloof het jou gered.” Van daardie oomblik af was sy gesond. Haar geloof was eenvoudig. Sy was seker Jesus kon haar genees. Anders as met die raadslid, wou sy nie waag om Jesus te nader nie. Die verhaal gaan dan aan by die raadslid se huis. En hier is konflik. Die mense sê die kind is dood en Jesus së sy slaap net. Die mense lag Hom uit. Hulle ken dood. Dood is dood. Iewers lees ek dat iemand gesê het dat as die dogter regtig geslaap het, Jesus nie werklik ‘n wonderwerk gedoen het nie. Maar, as sy dood was, het Hy inderdaad ‘n wonderwerk gedoen. Hy vra dan waarom Jesus sy wonderwerk en getuienis wou versag deur te sê sy slaap. Dit sou Jesus se daad in die oë van die mense net kleiner gemaak het. Ons weet nie. Die meeste verklaarders sien Jesus se uitspraak dat sy slaap, as ‘n geleentheid waarin Hy wil sê dat die situasie nie hooploos is nie: "Julle moet nie treur nie, maar hoop hê!" Die ongelowiges lag vir Jesus, want hulle kyk met wêreldse oë. Geloof kyk deur Jesus se oë; met hoop. Geloof in Jesus het die laaste woord: Jesus het die dogtertjie se hand gevat en sy is uit die dood opgewek. Kom ons krap dieper. Dit is interessant om te sien dat die dogtertie al 12 jaar oud was en die vrou het al vir 12 jaar aan bloedvloeing gely. Albei word deur die Here as "dogter" aangespreek. Dit is asof die deel ook wil sê dat die twee mense wat in verskillende wêrelde leef, eintlik gelyk is. Albei totaal afhanklik van God. Die man was leier van die sinagoge, ‘n gesiene man, sy dogter was sterwend. Die vrou wat siek was, was uitgestoot uit die gemeenskap en as onrein beskou. Sy het nie eens die moed gehad om persoonlik met Jesus te praat nie, omdat sy skaam was. Maar in hulle nood was hulle gelyk voor die Here. En vir albei was daar hoop in Hom. En in albei se geval neem Jesus dit weg wat hulle onrein gemaak het. ‘n Lyk is as onrein beskou en as jy aan een raak dan is jy ook onrein. En die vrou se toestand het haar volgens die maatstawwe van haar tyd alreeds 12 jaar lank onrein gemaak. Geloof is om Jesus te vertrou met jou lewe. Om al jou hoop op Jesus te plaas. Ek besef ook dat woorde kom maklik. Vra vir Petrus: hy het eg uit die hart uit gesweer hy sal saam met Jesus in die gevangenis gaan. Saam met Hom sterwe as dit moet. En toe hy moes toe kon hy nie. Eers jare later, na die opstanding en na die Heilige Gees in hom wat Petrus is gewerk het, kon Hy. As jy jou self nou moet indink in elke karakter in hierdie verhaal; jouself dalk sien as die pa wat na Jesus toe kom; of die vrou wat weet sy mag eintlik nie naby Hom kom nie want sy is onrein en dan maar in alle hoop net aan sy kleed raak want jy weet dan sal jy gesond wees; of is jy soos die omstanders by die pa se huis wat weet feite is feite, dood is dood. Jy ken die realiteite van ons dag. Jy lag maar net as iemand sê daar gaan ‘n ander uitkoms kom. Met watter een vereenselwig jy jou die meeste? Ons moenie die roubeklaers en omstanders by die raadslid se huis veroordeel nie. Miskien was AW Tozer se woorde vir hulle waar. Tozer het gesê: We can have the right words and never be changed. This is the difference between information and transformation.” Hulle het dalk geweet van al die wonderwerke wat Jesus gedoen het, dalk selfs geglo in die Messias wat sou kom, maar Hom nie in Jesus herken nie. Dalk is ons ook so: ons weet ‘n klomp dinge oor Jesus, en ons glo dit, maar ons maak nie vandag daarop staat nie. Wat ek eintlik vra is of jy die geloof het wat ‘n alternatief kan sien vir dit wat jou oë waarneem. Kan jy sien dat Jesus ander moontlikhede kan skep; jou kan gesond maak; die seer van jou lewe weg vat of vir jou diepgaande vergifnis kan gee? Kan ek en jy nog sien dat Jesus kan doen wat Hy hier gedoen het? Toe hierdie deel Dinsdagoggend teen my beplanning in, onverwags in my gedagtes kom sit, toe kom dit met ‘n vraag of twee saam wat my onkant gevang het. Dit klink vreemd as ek dit vra, maar ek gaan dit vra: Glo jy hierdie is ware gebeurtenisse? Glo jy dat daar so ‘n vrou was en net deur te raak aan Jesus se klere se soom het sy gesond geword? En glo jy dat Jesus die dogtertjie wat dood was, lewend en gesond gemaak het? Voor jy antwoord, sit jouself met jou lewe soos dit nou is, met jou uitsprake oor die land, jou eie bekommernisse in die plek van een van die karakters in die verhaal. Sien jouself by ‘n kerkraadslid se huis waar sy dogtertjie oorlede is ... Of in die skare wat om Jesus saamgedrom het toe die vrou aan Sy kleed geraak het .... het jy dalk saam met hulle gedink sy het tever gegaan ... sy is onrein en wie is sy as vrou om aan die Rabbi te kom raak? Hanteer jy haar met die vooroordele van daardie tyd, of met die van ons tyd? Glo jy, is jy absoluut seker, Jesus kan watook al jou so ontstel, omswaai? Dit is lydenstyd. Ons moet diep dink. Uit ons gemaksones uit kom. So ek vra weer: Met wie in hierdie stukkie geskiedenis van Jesus, vereenselwig jy die meeste as dit by geloof kom? Die raadslid, die vrou of die mense wat Jesus uitgelag het toe Hy sê die dogtertjie slaap net? Daar is geleentheid vir selfondersoek.