Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Markus 9: 30 - 32 Daar kom ‘n punt in elke mens se lewe waar jy vasberade moet koers kry met die doel waarvoor God jou hier geplaas het. Dit is ‘n koersvat wat jou uit jou gemaksones neem. Ek gaan dit vir jou wys in Jesus se lewe. Ek gaan ook wys dat hierdie deel nie maar net ‘n keerpunt in Jesus se aardse lewe was nie, maar dat ons hier by iets van die allergrootste belang kom. Noem dit die hart van die evangelie. Die dele vooraf het wonderwerke in. Daar is die verheerliking op die berg. En dan die genesing van die seun waar Jesus ‘n bose gees uit gedryf het. So het Jesus net weer bewys het dat Hy is Wie Hy sê Hy is, die Seun van God. Dit is opmerklik dat na die bose gees uit die seun gedryf is, die omstanders gesê het, en ek haal aan, “ Hy is dood.” Markus verklaar dit met “Dit het gelyk asof die seun dood is, sodat baie mense gesê het: “Hy is dood.” Jesus het Sy die seun aan die hand gevat en hom opgehelp. Jesus bewys weereens Hy is die Seun van God. Hy is die Messias. Toe hulle van daar af wegstap en deur Galilea gereis het, wou Jesus nie hê dat iemand anders moes weet waar hulle is nie. Dit was alleen tyd vir Hom met Sy dissipels. Alleen tyd waarin Hy hulle vir die tweede keer wou tuisbring hoe Sy pad verder moet verloop. Dit was van absolute belang dat hulle verstaan wat kom. Drie keer het Jesus by hierdie tema stil gestaan. Maw Hy sou by nog ‘n geleentheid dit weer tuishamer by hulle. As jy noukeuriger lees dan besef jy oorgelewer hou reeds die saad van verraad in. Oorgelewer sê reeds dat iemand gaan Jesus verraai. Die vorige keer toe Jesus hulle dit geleer het, trouens dit was die eerste keer wat Hy sy dood en opstanding aangekondig het, het die dissipels heftig gereageer. En Jesus het vir Petrus skerp aangespreek met ‘n “Moenie in my pad staan nie, Satan, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat mense wil hê.” Hierdie keer bly hulle stil en is hulle te bang om Hom uit te vra. Jesus spel hier baie skerp uit wat in die die profesieë van Jesaja 53 en Daniel 7 voorspel is. Hy is die Seun van die mens. Hy is die lydende Kneg van God. Hy is die Een wat geen misdaad gepleeg het nie, nooit vals was nie, wat saam met sondaars gedood word. Hy is die Een wat sterf vir die sondes van die volk. Jesus is die Een wie in Daniel 7 Wie die heerskappy en eer en koningskap van God af ontvang. ‘n Ewige heerskappy. Soos ‘n mens die dele weer lees, lees jy raak in Jesaja 53: 1 die woorde “Wie sal die mag van die Here hierin kan raaksien?” En jy besef, ‘n dieper kyk is nodig. ‘n Wegstap van jou eie opinies of menslike verstaan en ‘n beweeg na waarmee is God hier besig? Hoekom is hierdie deel so belangrik dat Jesus by drie geleenthede, of dan drie sessies hieraan afstaan? Wat ons moet tref is dat hierdie ‘n binnegesprek is met Jesus se dissipels. Dit is die dissipels wat moet verstaan, anders gaan hulle nooit die evangelie ten volle verstaan nie. ‘n Dissipel is ‘n leerling. ‘n Iemand wat by Jeus leer. Verstaan dan, dit is belangrik, as gelowige is jy ‘n dissipel, ‘n binnekring mens. Hierdie gesprek is net met jou. Hierdie is die punt wat jy werklik ten volle moet verstaan om die lewe in oorvloed te kan beleef. Ek is nie besig om melodramaties te wees nie. Hierdie is die hart van jou verhouding met God. Jy moet verstaan dat Jesus gekom het om vir die mense te vertel dat die koninkryk van God nou gekom het. Jy moet verstaan dat Jesus se opdrag ‘n keer punt in gehad het. Eers moes Hy rondgaan en in al die dorpies gaan preek. En dan kom die keerpunt: Jerusalem toe. Kruis toe. In Sy eie woorde: “Dit is ondenkbaar dat ‘n profeet in enige ander plek as Jerusalem doodgemaak sal word.” Jesus was absoluut oortuig dat van hierdie punt van Sy aardse menslike reis af, moes Hy Jerusalem toe gaan. En daar sal drie dinge gebeur. Oorgegee. Dood gemaak. Opstaan uit die dood. Dit word vooruitgesê sodat dit duidelik is dat Jesus kies om hierdie pad in gehoorsaamheid aan God te loop. Dit is nie ‘n besoek aan Jerusalem een Pase wat skeef geloop het nie. Dit is die Seun van God wat gaan om Sy lewe as ‘n offer in ons plek te gaan neerlê. Kyk weer na Johannes 10: 17, 18 “Die Vader het My lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader ontvang het.” Wat sien u? Jesus wat vooruit sê Hy gaan Sy lewe neerlê en weer op neem. Niemand neem dit van Hom af nie. Hy lê dit uit Sy eie uit neer. En Hy neem dit weer op. Hy het die opdrag van God af ontvang. Kom ek bring dit na jou en my toe. God weet dat ons elkeen se lewe, maak nie saak hoe goed of positief jy oor jouself dink nie, God weet dat ons elkeen se lewe Sy doel met ons lewens totaal gemis het. Ons lewens is ‘n stuk sonde deurdrenktheid wat Hy of voor Sy oë moet wegvee, of ons van moet uit red. Dit is net God se liefde vir dit wat Hy geskep het, Sy liefde vir ook jou en my wat totale vernietiging tot hiertoe gekeer het. Verstaan my asb: God weet jy het redding nodig. Net soos jy op hierdie oomblik is, het jy Jesus meer nodig as wat jy besef. Moenie wees soos die skrifgeleerdes en fariseers van daardie tyd wat sonder meer aanvaar dat hulle saak met God reg is nie want hulle lees en bid en ken die Skrif. Intussen was hulle in Jesus se woorde “witgepleisterde grafte” Mooi vertoon maar binne siek en verrot. Om ‘n voorbeeld te gee: hulle het die weduwees se huise in gepalm en hulle op straat gelos. Hulle gierigheid, of dan na bewering die hoëpriester s’n, het die tempelhandel begin in die tempelarea. Jesus moes die tempel van dit af gaan reinig. God kyk dieper. God se standaard is ongelooflik hoog. Niks minder as totale toewyding aan Hom. Jesus demonstreer dit op vele maniere. Dink aan Sy woorde “Ek het van die hemel af gekom nie om my wil te doen nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.” Jesus het God se wil 100% geleef. Ek sê weer: God weet jy het redding nodig. Net soos jy op hierdie oomblik is, het jy Jesus meer nodig as wat jy besef. Sentraal staan een waarheid. Jy moet dit weet. Jy moet dit glo. Jesus moes mens word, oorgelewer word, verrraai deur een van Sy binnekring 12 dissipels en gekruisig word. So ongelooflik wreed as wat dit was, sonder Sy dood en opstanding, is en bly ek en jy ewig dood. Veroordeeldes deur God self gestraf tot in ewigheid in. Wie in Jesus glo, se straf word oorgedra op Jesus en deur Jesus gedra. Dit is die enigste weg wat God ons bied uit die gemors wat ons met ons selfsug en eie willigheid van ons lewens gemaak het. Ek gee jou twee dele om dit te onderstreep: Johannes “Dit verseker Ek julle: Wie luister na wat Ek sê, en in Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy word nie veroordeel nie, maar het reeds uit die dood na die lewe oorgegaan.” 6: 40 “En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan. Dit is die wil van my Vader: dat elkeen wat die Seun sien en in Hom glo, die ewige lewe sal hê; en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” Ons het nodig om hierdie deel oor Jesus se aankondiging van Sy dood te verstaan. Dit is vrywillig. Hy lê Sy lewe neer. Jesus het Sy eerste rondte gesprekke oor Sy komende dood, uitgebrei deur dit baie duidelik te stel dat enige een wat Jesus wil volg, (Mark 8: 31 - 38) gaan hulself moet verloening, hul kruis moet optel en Jesus volg. In daardie tyd was dit nie soos baie vandag dink beeldspraak nie. Hulle het by die aanhoor waarskynlik al die kriewelings van ongemak teen die rugstring af gevoel. Kruis optel en dra het net een ding beteken: Jy dra die houtbalk na iewers buite jou stad of dorp en daar gaan hulle jou vaskap met spykers en aan ‘n kruis laat hang tot jy dood is. Die hart van die evangelie is Jesus wat kruis dra om jou en my ontwil. En dan, uit dankbaarheid uit, tel ek en jy Jesus se lewe op en leef dit. En deur dit te doen kom ons uit by die lewe in oorvloed waarvan Johannes 10 praat. Kom ons uit by ewige lewe. Want as jy nie jou kruis optel, jou self verloën nie, val jy net terug na die ou verdorwe vervloekte mens wat jy was. Die nuwe lewe gaan deur die dood van Christus heen. Dit word ge-echo in ons wat Jesus volg. Volg in gehoorsaam lewe soos God dit wil. Jesus is die voorbeeld van hoe ‘n lewe is volgens God se wil. En ek sê weer: Daar kom ‘n dag in elke mens se lewe waar jy vasberade, gefokusd moet begin om God se wil en God se wil alleen te leef. Ek glo dit vra drie dinge: (en daarmee sluit ek af): 1. Selfverloëning. Jy wat God kies bo jouself. En dan ontdek dat God vir jou terug gee, ‘n beter, voller self soos jy van voor die skepping af bedoel was om te wees. Nie jou ou misvormdheid nie. Die ware jy. 2. Sterf aan jouself sodat God vir jou die derde ding kan laat gebeur: 3. Christus Wie nou in jou lewe. Wat ‘n wonderlike voorreg. Dit is die pad van die evangelie. Dit is die hart van God se reddingsplan: Die Christus, die gesalfde van God, word gekruisig om vir ons sondes die straf te dra. En op die derde dag staan Hy uit die dood uit op. Amen!