Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 17 : 5 – 10 Ek het n boom hier in my sak. En in my hand n bos blomme. Glo julle my. Wie glo my? Kom ek wys jou. Wys blomsaad. Haal uit sak uit n saad wat boom word. Hierdie saad het alles reeds in dit om n boom te wees. Maar dit is nog nie n boom nie. My geloof sê my dit is reeds n boom. Daar is egter iets wat eers moet gebeur. Die saadjie moet in die grond gesit word. En as daar genoeg vog is sal die saadjie oopbreek en ophou bestaan en n plantjie word. Wys video van timelapse saadjie wat ontkiem. Die saadjie gaan tot niet sodat iets nuuts, iets groters mooiers na vore kan kom. Dit is die probleem met die meeste mense; Hulle wil bly soos hulle is. Hulle wil geloof hê en alles moet vir hulle dieselfde bly. Al wat dan gebeur is die saadjie gaan ‘n saadjie bly. Kom ek vertel ‘n storie: Klaas het gehoor wat Jesus gesê het. Klaas het geweet dat hy in Jesus glo. Klaas het Jesus geglo toe hy hierdie dinge gesê het. Klaas is een vakansie by die see. Hy kyk die dag by die huis se venster uit en hy besluit: Ek gaan Jesus se woorde toets. En ek gaan uitvind hoe groot my geloof is. So toe gaan staan Klaas op ‘n veilige afstand van ‘n moerbeiboom daar naby. En met al die geloof in hom beveel Klaas die moerbeiboom om ditself met wortels en al in die see te gaan verplant. Wat dink julle het gebeur? Net mooi niks! Glo julle nie vir Jesus nie? Klaas was selfsugtig. Klaas wou ‘n grootmeneer wees. En God werk nie sommer deur mense wat wil probeer wys hoe goed is hulle nie. Want ons lewens gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor God. En ja. Jesus wou ook nou nie hê Klaas moet begin moerbeibome rond skuif nie. Hoekom het Jesus dit dan gesê? Jesus wou hê ons moet nie kyk na hoe groot of hoe klein ons geloof is nie. Want as ons dit doen dan kry ons alles verkeerd. Jesus wou hê ons moet besef as ek na Jesus kyk en Jesus dinge vra, dan sal Hy alles verander. Die Griekse woord vir geloof is pistis. Dit beteken letterlik om iemand so te vertrou dat jy absoluut seker is dat hy of sy sal doen wat hulle belowe het. Om iemand te vertrou. Geloof is om te weet God sal vir jou gee wat God belowe het. ‘n Hele paar keer het Jesus gesê: Wat julle ookal in My Naam vra, sal Ek vir julle gee. Geloof is om te weet ek kan vir God vra vir dit wat ek nodig het om te doen wat God van my verwag. God belowe nie net nie. God gee ook. God het vir ons elkeen geloof gegee. Party mense dink hulle het te min geloof. Hulle dink hulle geloof is te klein. Daarom kan hulle nie dit of dat doen nie. Geloof is in iemand. Geloof is in God. Jy moet nie kyk hoeveel geloof het jy nie. Jy moet kyk hoe groot is God. God is die Een wat gaan dinge maak gebeur. Nie jou geloof nie. Geloof is om te weet Jesus weet beter as jy hoe om te leef. Jesus weet beter as jy en jou ma of pa, wat goed is vir jou. Geloof is om te doen wat Jesus sê. God het reeds in jou, so klein soos jy is, die saad gesit sodat jy n boom kan wees. God het in jou kom woon sodat daardie saadjie van geloof groot kan word en doen wat dit moet. Moet nie kyk na die grootte van jou saadjie nie. Moet dit nooit vergelyk met iemand anders sn nie. Hierdie saadjie, is klein, maar dit word ‘n maroelaboom groter, hoër as die kerk se dak. Ek weet as ek hierdie saadjie plant in die grond, en ek gee die saadjie wat dit nodig het, bv genoeg water, sonlig en kos dan sal dit groei. Dit sal ‘n boom word. Ek weet dit want ek het dit al oor en oor sien gebeur. Jesus weet as jy die saadjie van geloof wat God in jou geplant het reg versorg, dan sal dit groei en kan doen waarvoor God dit bedoel het. Kan ek vir jou iets uitwys. En dis is hoekom ons altyd ‘n paar verse teen die agtergrond lees. Noem dit vanoggend maar die groeimedium, of noem dit belangrike versorging vir die saadjie van geloof om te kan groei. Dit is baie interesant. Jesus leer in hierdie deel die mense oor sonde, vergifnis, geloof en plig. Jesus sê ons moet ‘n positiewe voorbeeld wees. ‘n Negatiewe voorbeeld, veral vir klein kinders wat hulle van Jesus af wegstoot, gaan jou duur te staan kom voor God. Die apostels antwoord Jesus: “Gee ons meer geloof.” Jesus praat oor vergewe. Selfs as iemand sewe keer op ‘n dag verkeerd teen jou optree en sewe keer terugkom en sê “ek is jammer.” Dan moet jy hulle elke keer weer vergewe. Die apostels sê: Gee ons meer geloof. Vergewe is ‘n geloofsaak. Onbersipelik voor God te leef en onberispelik tussen mense te leef is ‘n geloofsaak. Dit beteken dat dit nie iets is wat jy self moet reg kry nie. Dit is iets waarmee jy Jesus absoluut vertrou dat Hy beter as jy weet hoe om te lewe. Jy vertrou dat Jesus die seerkry insident verder sal hanteer en jy laat dit gaan. Ter wille van Jesus laat jy dit gaan. As jy aanhou met jou sondes en jou kind of enige ander kind sien dit en hulle dink die oom of tannie van die kerk doen dit, so dis reg, is jy in die moeilikheid. As jy sukkel met iemand wat jou die heeltyd te nakom. Vergewe hulle. Dis Jesus se voorbeeld twee hier. Hoe gaan jy iemand vergewe? Sê my. Jy gaan in jou eie emosies vasdraai. Jy gaan vergelding soek. Jy gaan verwag dat God of iemand moet daardie mens uitsorteer en sommer nou ook. Mense is sulke slawe van hul emosies dat ons doodgewoon nie uit ons self uit ander kan vergewe nie. ‘n Kind wat dit sien, gaan nie kan glo in God se vergifnis. Hy of sy gaan nie glo in vergifnis nie. Want hulle sien dit nie in jou nie. Jesus sê: “Maar ellende wag vir die mens wat die oorsaak daarvan is. So 'n mens kan eerder met 'n groot klip aan die nek in die see gegooi word as dat hy vir een van hierdie kleintjies 'n struikelblok word. Wees dus self op julle hoede.” (Luk 17: 1,2). As ek dit so raaklees dan kan ek nie anders om te dink, die beeld van die moerbeiboom wat dit self wortels en al moet uittrek en in die see gaan plant, is goed gekies. Want vir die meeste mense is wat Jesus vra in die voorafdeel, amper moeiliker om reg te kry as om vir ‘n moerbeiboom te sê: trek jou wortels op en gaan plant jou in die see.. En tog wil die beeld sê selfs dit is moontlik. Jesus sê dis moontlik. Die apostels sê: Gee ons meer geloof. Jesus sê julle het genoeg geloof. Selfs al is jou geloof so klein soos een van de kleinste saadjies, dit is genoeg. Geloof so klein soos ‘n mosterdsadjie, en dis baie klein, is groot genoeg om ‘n moerbeiboom in die see in te laat skuif. Geloof so klein soos ‘n mosterdsaadjie is meer as genoeg om reg te lewe en ander te kan vergewe. Jy kan. Jy het geloof. Gaan leef soos Jesus sê. Want Jesus weet beter as ons hoe ons moet lewe.