Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Josua 24: 1 – 8 en 13-15. Die lewe is vol keuses. Teen hierdie tyd vandag het jy al ‘n klomp besluite geneem. Die eerste was om op te staan en nie in die bed te bly nie. Daar was die besluit om na die erediens te kom. Ek waardeer die besluit van jou ongelooflik baie. Daar is meer gewigtige besluite ook soos loopbaankeuses. Of jy gaan trou of nie en met wie. Moet ‘n mens van werk verander? Verhuis of nie. Watter skool om die kinders in te sit. Om te emigreer of nie. Groot keuses waarmee mense stoei. Walther Bruegemann wys op ‘n ander verhaal in hierdie deel. Dit het steeds te maak met keuses. Dit draai steeds, veral, om God wat nuwe moontlikhede oopmaak. En ek deel vandag met jou dit wat ek hier hoor. Ek deel dit veral omdat ek in gesprek op gesprek hoor mense is al klaar moeg en dis nou eers Februarie. So al asof ons doel is om net nog ‘n jaar te oorleef. God wil hê jy moet vandag leef. Net vandag ... regtig lewe. En die lewe is in Hom. En more doen Hy dit weer saam met ons. Een dag op ‘n keer. Die dinge wat mense vang is die seerkry wat so volop is. En dan die rasse politiek. En dan nog die groep en daardie groep en op die een of ander manier is daar altyd n groep wat op jou toesak as jy waag om net te wees. En later maak jy jou wêreld al kleiner en al toe-er en jy haal skaars nog asem, wat te sê nog van lewe. Josua bring hier ‘n boodskap van God af vir God se volk. Hy het al die leiers van al die stamme hier by een. In Deuteronomium 31: 12 en in Nehemia 8 is die lys van betrokkenes uitgebreid. Ons word vanoggend uitgenooi om deel te wees op ‘n ander manier. Ons is sover verwyder van die geleentheid af deur tyd dat ons nie kan rond kyk om te sien wie is in die skare nie. Ek vra jou om aandag te gee aan drie mense of tipes mense. Jy sien hulle as jy dieper lees. Ek vra dat jy luister vir die ander storie ... die een wat nie uitgespel word nie. Die alternatiewe verhaal. Die verhaal oor God. En hoe God is met mense wat hom lief het. Die eerste groep is iemand of persone in ‘n disfunksionele gesin. Dan is daar ook ‘n besigheidsman, ‘n CEO. En dan is daar ‘n iemand wat niks het. Josua herinner hulle aan God se pad met hulle en hulle voorgeslagte.Hulle geloof is diep gewortel oor geslagte heen. God kom ‘n lang pad met hulle families saam. Vanaf Tera, Abraham se pa. Regdeur tot hier by hulle. En nou moet hulle hul lewens deur God laat lei. Ek weet my eie pad met God kom ‘n hele paar geslagte terug al aan. Dit is dieselfde geloof wat God aan my ma en my pa gegee het. En ook aan hulle ouers. En nes ek, is dit ook so vir jou: Ook jy moet vandag skoene van geloof volstaan wat jou ouers al voor jou oopgetrap het. Jy is deel hier van iets groters as jyself. Van voor jou geboorte af het God jou al gekies en geroep om Syne te wees. Ons praat nie hier van nuwe paaie nie. Ook nie van ‘n nuwe begin nie. Die klem verskuif net na my en jou wat ons lewe moet oorgee, oper maak vir God om in te kom woon. Die klem verskuif na nog meer gefokusd Christus te lewe. Maar ongelukkig bly die wêreld en die lelik nog om ons. Ons is in die wêreld, ons sal die kant van die graf altyd in die wêreld wees. Maar ons hoef nie meer soos die wêreld te wees nie. Ons is nie meer van die wêreld nie. Ons hoef nie meer die wêreld met sy leuens en idees te glo nie. En dit is ‘n keuse wat jy deurgaans moet gaan maak. Dieselfde keuse wat Josua stel. Betoon eerbied aan die Here en dien Hom of, gaan dien iets of iemand anders. Dien jouself as jy wil. Die disfunksionele gesin. Die vrou met haar bekommernis oor haar gesin wat uitmekaar val. Haar seuns baklei en praat nie meer met mekaar nie. Langs haar staan nog ‘n vrou. Sy is kinderloos en haar ouderdom begin ook teen haar tel. Sy het seer want die mense spot haar agter haar rug en soms sommer in die gesig. En dan hoor hulle van Abraham. En sy vrou was ... Sara. Kinderloos. En toe ook nie meer die kinderlose een nie. En daar is ook Rebekka en Ragel. Kinderloos. En in al drie gevalle het God ‘n wonderwerk verrig en hulle stories omgedraai en hulle het kinders gehad. En in hierdie geslagte wat Josua so opnoem het die boeties erg haaks geraak met mekaar. Ismael en Isak; Esau en Jakob. En dan is daar nog Josef en sy broers. Die gevegte was intens. Dit was oor toekoms en sekuriteit. En soos die mense geluister het het hulle ‘n ander storie hoor ontvou. Toe Abraham gesterf het het Ismael en Isak hom saam begrawe en gedeel in die erfporsie (Gen 25: 9). En so ook met Isak se dood is die twee broers Esau en Jakob wat hom saam begrawe (Gen 35: 29). Selfs Jakob met sy dood is die broers en Josef weer met mekaar versoen. Almal wat luister hoor hoe God gegee het. God het vir Abraham, Isak gegee. God het Jakob en Esau gegee. God het vir Esau die bergagtige deel gegee ... Hier is ‘n Krag aan die werk en ‘n Teenwoordigheid wat keer op keer iets nuuts laat gebeur. Hoor jy dit? Hoor jy hoe God die siklusse van kinderloosheid, van vrees, van binnegevegte en haat verbreek? En kom ons sê daar is ‘n jong vrou van Sigem af, wie se gesin klink soos die in die verhaal. En so met die luister besef sy dat ook haar familie is nie sonder God as Gewer nie en sonder die moontlikheid van nuwe beginne. Sy hoor dat God kan doen wat nie sy of enige ander mens kan doen nie. En sy begin lewe. In vers 5 tot 7 word die uittog vertel. Dit is deurtrek van God as die Een wat optree, God wat Moses en Aaron gestuur het; God wat die magtige wereldmoontheid Egipte met plae geteister het. En toe Sy volk uitgebring het uit Egipte. En jy hoor dat die staat nie altyd wen nie. Dat God ‘n staat magteloos kan maak. Jy hoor van God, van slawe en van die magtige staat. En die val kom deur slawe wat tot God bid. Roep om hulp. In die skare staan ‘n man vir wie die werksdruk net teveel raak. Kom ons sê hy is ‘n bestuurder by die steengroewe. En die Egiptiese base se eise en druk raak net meer en meer onhaal baar. Dit voel onmoontlik. Maar hy kan nie sy goed vat en loop nie. Hy is vasgevang met huislenings en rekeninge. Hy het ‘n familie wat versorg moet word. Hy kan nie net opgee en loop nie. En intussen word die kwotas stene verhoog en die druk al meer ondraaglik. Hy is moeg. Hy hoor dat God uitkoms bied. Dat God ‘n ander toekoms kan ontsluit. Die laaste persoon is ‘n randfiguur. Die lewe het hom hard geslaan en neergegooi. Hy glo al wat ander oor hom sê. Hy weet al hy is niks. Hy het geleer dat as jy hard werk sal jy iewers kom. So die feit dat hy nogsteeds nerens is nie is sy eie skuld. Hy was skaam, gebroke en magteloos. Hy hoor hoe hierdie God vir mense huise gee waarvoor hulle nie gewerk het nie. Wingerde wat hulle nie geplant het nie. Hy hoor dat God ook vir hom ‘n nuwe toekoms wil. Elkeen het daardie dag ‘n nuwe storie kon hoor en nuwe moontlikhede kon raaksien. Alles deur God. Die Almagtige wat gewone mense raaksien. Nie perfekte mense nie. Selfs mense met stukkende lewens raaksien en verander. Hulle hoor almal dat God kan en wil en dat wat hulle elke dag hoor en lees in die media is nie bepalend vir hulle lewe nie. Daar is ook ‘n ander storie vir hulle. Jy kan my nou sê: Okay. So wat nou? Dieselfde God gee jou vandag ‘n keuse. En ek is eerlik met jou, hierdie keuse gaan jy elke dag oor en oor maak. ‘n Paar keer elke dag. Dit is ‘n keuse om dinge op God se manier te doen. Die keuse om soos Jesus te wees. Josua gee drie bevele: 1. Vrees die Here. Dit beteken jy moet heilige eerbied en ontsag vir God hê. Moet nie lukraak met God omgaan nie. 2. Dien die Here. Kom staan in ‘n verbond met die Here waar jy jouself commit aan Hom alleen. 3. Vrees en dien die Here in opregtheid en getrouheid. As dit nie vir jou werk nie kan jy wegstap. Ek wil jou tog vra om nuut te hoor. Dieper te luister vir die Een wat jou liefhet, die God van ook ons voorouers. Die Here jou God. Ek wil jou vra om nie die stemme daarbuite te glo nie maar jou vrede en jou vreugde en hoop te vind in die Here jou God. Ons Vader. Ek wil vir jou sê dat die lewe kry sin by God. By ons wat begeer om net by Hom te wees en elke dag saam met Hom te wil lewe. Josua se keuse aan die volk was nie maar net ‘n eenmalig kies vir God of teen Hom nie. Dit was die keuse om die deur oop te maak en God in jou lewe te laat woon. Om God te gehoorsaam en te bly glo dat God ‘n alternatiewe wêreld skep waarin ons kan leef. Ek gee jou nou die geleentheid om jou keuse met God uit te praat.