Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Lukas 9: 57 – 62 Kort voor hierdie tonele uitgespeel het het Jesus met Sy dissipels gepraat oor Sy kruis, die dood en opstanding. (9:44) Terwyl almal verbaas was oor alles wat Jesus gedoen het, sê Hy vir sy dissipels: “Wat julle betref, hou hierdie woorde goed in gedagte: Die Seun van die mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.” God het gevra. En Jesus het gegee en gedoen. Dit is so eenvoudig. Jesus het Sy heerlikheid op Godgegewe wyse prysgegee om mens te word. Hy het alle gerief versaak, nie eers ‘n kussing besit om sy kop op neer te lê nie. En later lees jy hoe Hy vasberade die pad kies Jerusalem toe wetende wat kom: die geseling; die kruisiging; die vernedering van dit alles; Sy dood. Dit is Jesus. Kom ons lees Lukas 9: 57 – 62. En so begin die verskonings kom. Die bedoeling is daar. Die mense is opreg. Die eerste persoon sê so mooi, en ek glo uit die hart uit, “Ek sal U volg waar U ook al gaan.” Die “waar U ookal gaan” sou ‘n lelike wending aan neem. ‘n Kruisiging is een van die wreedste maniere van teregstelling. ‘n Mens dink aan Petrus wat gesê het ek sal saam met U sterf. En toe nie wou nie en ten sterkste ontken het dat hy ooit Jesus geken het of een van Jesus se dissipels was. Dalk het hierdie persoon dit nie besef nie. Dalk het die persoon om die verkeerde redes Jesus wou volg. Dalk was die skares wat van tyd tot tyd spontaan om Jesus saamgedrom het die persoon aanloklik. Maar na Jesus gesê het dat Hy wat Jesus is nie eers ‘n rusplek vir sy kop het nie, hoor jy ook niks meer van die persoon nie. Net weggeraak. Nie gehou van opofferings maak en swaar kry twv die evangelie nie. Vreemdelinge wees in hierdie wêreld is selde aanloklik. En tog is dit die werklikheid: Wie glo sal nêrens in hierdie wêreld inpas nie. Aan iemand anders langs die pad het Jesus gesê “Volg My.” Dieselfde woorde as aan Petrus en van die ander “Volg My.” Hierdie een het nie net verdwyn nie. Hy wou net eers sy pa gaan begrawe. Dit beteken nie sy pa was reeds dood en hy is besig met begrafnisreelings nie. Hy wou wag tot sy pa eendag nie meer in die prentjie is nie en dan sal Jesus kom volg. En al sou dit dalk kon wees dat sy pa reeds dood was (geleerdes verskil) dan moet die wat geestelik dood was hom begrawe. Kontak met ‘n dooie het volgens die wet van Moses jou onrein gemaak. Die Rabbies het om jou ouers te begrawe gesien as deel van die gebod “eer jou vader en moeder.” Nogsteeds staan Jesus se punt: Om Jesus te volg is ‘n hoër eis as enigiets in God se gebooie. Jesus se antwoord klink gevoelloos. Maar Hy sny terug na die punt. Hierdie man wil sy besluit om Jesus te volg uitstel vir later. Eendag. Hy wil eers net nog dit en dat doen. Hy glo maar Hy wil nie nou al alles prysgee en Jesus volg nie. En so het ook hy met die mooi bedoelings en al weg geraak. Die derde een het homself kom aanmeld en gesê: “Ek sal U volg Here, maar laat my toe om eers my familie by die huis te gaan groet.” Om familie by die huis te gaan groet is tog sekerlik iets wat nie lank sal vat nie. Dalk ‘n dag of drie? Die woordjie “maar” is die probleem. Ek sal U volg MAAR ... Die verhaaltjie van die ryk jong man is ook so ‘n verhaal. Hy was iemand vir wie Jesus lief gekry het. Hy was ‘n voorbeeldige godsdienstige jong man. Hy was ook ‘n man met ‘n “maar”. Toe Jesus wys op dit wat keer dat hy God met volle oorgawe kan dien, toe kon Hy nie. Sy baie besittings was sy “maar”. Ek gaan jou nie vandag vra wat is jou “maar” nie. Ek gaan nie vra wat is jou verskoning hoekom jy nie Jesus voluit met alles wat jy is en het lief het nie. Of hoekom jy nog vasklou aan jouself nie of hoekom dit makliker is om te bly soos jy is ..... Dis nie my taak vandag nie. Ek moet net Jesus se woorde namens Hom kom sê: “Volg My!” “Volg My” al kos dit jou jou vriende. “Volg My” al stap My en jou padjie kruis toe ... na jou dood toe. Moet net nie dink jy “volg My” in rykdom en voorspoed in nie. Jesus se paadjie is nog altyd een van diens en self prysgawe. Jesus het Homself gegee. Hy het geleef ten koste van Homself. Jesus vra jou hart en jou lewe 100%. Vir die jongmense wat vandag belydenis aflê, hoor Jesus se beeld. Moenie loop en omkyk terwy jy ploeg nie. Alles gaan krom en skeef uitkom. Fokus op die ploeg en op die lyn wat God gee en ploeg reguit. As jy bly terug verlang na die wêreld en die dinge van die wêreld, as jy bly terug verlang na jou ou lewe, na die tye toe Jesus nie jou groot liefde was nie, gaan Hy nooit nou die liefde van jou lewe wees nie. Daar sal altyd ‘n maar wees, ‘n iets wat jy voor liewer gaan wees as vir Jesus en jy gaan Hom ook nie volg nie. Die oproep is “Volg My!” laat staan maar die “maars” en volg Jesus.