Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Jesaja 43: 1 – 7 Wat aangrypend is, is hier geen verwyte, geen vermanings of voorwaardes. Net woorde soos ” moenie bang wees nie” en “Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, ...”. Wat nog meer ‘n mens in die hart ruk, is as jy die verse vooraf raak lees. Jesaja 42 se lelik van oorlog en straf en vlamme rondom hulle. Jesaja 42: 24 sê: “Wie het van Jakob 'n gevangene gemaak, wie het vir Israel oorgegee aan dié wat buit gemaak het? Is dit nie die Here nie, Hy teen wie ons gesondig het? Ons wou nie sy wil doen nie, ons wou nie na sy woord luister nie.” En dan net as jy verwag hier kom dit nou, nou gaan hulle kry wat hulle verdien, kom die ongelooflike mooi woorde wat sê “Moenie bang wees nie.” En “Omdat jy vir my kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet” . As jy begin besef “as jy deur vuur moet gaan dit sal jou nie skroei nie” van vers 2 lees teen die vlamme van oordeel van die vorige hoofstuk, dan begin jy besef hoe groot God se genade oor ons is. Maar moenie dink dit kos God niks. Dit is maar net vir Hom om te gee soos ons iemand anders se skuld kan afskryf nie. Dit kos Jesus Sy lewe aan ‘n kruis om vir my en jou genade te kan gee ipv oordeel. Besef dat God ook geregtigheid is. Dat Sy geregtigheid eis dat vir elke sonde betaal sal word. So vra jouself af, as dit nie ek is wat betaal nie, wie dan? Wie maak dit nie lewend deur die oordeel nie? Jesus. Die pragtige beloftes van vers 1 tot 7 kos God baie baie duur. Moet dit asb nie goedkoop maak nie. Moet dit asb nie voor die varke gooi of voor die spreekwoordelike honde van Matteus 7 nie. Jy doen dit as jy sonder gevoel of denke volhard in jou eie kop volg, leef op jou voorwaardes en God eenkant toe redeneer in jou lewe. Ons doen dit as ons Bybel lees maar dan nie werklik probeer om dit wat ons leer te gaan leef nie. Wat help ‘n respek vir die Bybel as woord van God maar ek doen nie wat daarin staan nie? Is dit nie juis wat Jesaja 42: 24 gesê het die rede vir Israel se verdoemende oordeel en ballingskap was? 1. In ruil vir. God is heilig. Hy is Skepper. Hy is Ewig. God is teenwoordig. So kan ek aanhou grootse dinge oor God sê.In omtrent elkeen van hierdie 7 verse is God die Subjek, die hooffiguur. Aan alle kante is dit God wat beskerm en omring. Dit is God wat Syne veilig bring tsv vloedwaters en vuur. U en ek, van ons kan ek net sê ons is deur God gemaak. En ons het ons rug op God gekeer. Ons is sondig. Ons is ... vanuit God se heiligheid gesien is daar niks positiefs te sê oor ons nie. Romeine 3 is duidelik: Almal het gesondig, almal is ver van God af. Niemand vra na die wil van God nie. Kry die besef hoe groot die kloof tussen jou en God is. Eintlik hoeveel miljoene ligjare groot die afstand tussen God en ons is. En kry dan nuwe waardering vir God en vir wat Hy hier sê. As ek vanaf die Nuwe Testament terug kyk dan gee God nie meer volke inruil vir Sy kinders se lewens nie. Ja, Hy gaan haal ons nog steeds van die uithoeke van die aarde af. En Hy verwelkom ons terug soos die Vader in die gelykenis van die verlore seun. Maar dit is Jesus, die Seun van God, Hy Wie in God is en God in Hom, Wie een is met die Vader, God self betaal aan ‘n kruis in ruil vir jou lewe. Die woordjie “losprys” sê duidelik dat ons vry gekoop moes word uit die mag van ander. Volgens die Heidelbergse Kategismus en die Skrif moes ons vrygekoop word uit die mag van Satan. En as ek mag byvoeg uit die mag en beheer van onsself. God handhaaf Sy eiendomsreg op elkeen van ons. Hy het dit nog nooit prys gegee nie. 2. Ooreenkoms God het met Abram ‘n verbond gesluit. ‘n Ooreenkoms as jy die nuwer ligter woord verkies. Persoonlik dink ek verbond is veel dieper en gewigteger. Hulle sê mos nie verniet dat ‘n ooreenkoms is iets waaruit ‘n goeie prokureur jou sal kan kry. ‘n Verbond wil jy nie uit nie. Jy wil hê dat God Sy verbond met jou sal hou. Jy wil hê dat God jou doop sal geldig en “lewend” hou. En kan ek maar daarop wys dat elke belofte van Jesja 43: 1 – 7 aan gelowiges vanaf die Nuwe Testament bevestig word deur die doop? Waar die name van Jakob en Israel staan kan jy as gedoopte maar jou naam gaan invul. Ook jy is aan God verbind deur Sy verbond. Jou teken is net die doop. Die verbondstaal van Jesaja 43 maak dat ‘n mens dit met dankbaarheid kan hoor. Met ‘n lied in jou hart. Neem asb net kennis dat daar nog ‘n Naam ter sprake is. Die Here gaan haal Sy seuns en dogters van die uithoeke van die aarde af. “... elkeen wat na my Naam genoem word, elkeen wat Ek geskep het tot my eer, wat Ek gevorm het, wat Ek gemaak het. (vers 7)”. God het Sy Naam op die spel geplaas met Sy verbond met Israel. En God het Sy Naam op die spel geplaas met jou en my doop. En die doop van ons kinders. Vers 1b se geroep by jou naam word in vers 7 gebalanseer met God wat sê “elkeen na My Naam genoem. Ons moet dit nie vergeet nie. Ons mag nooit vergeet dat met elke stukkie van ons lewens is nie net ons naam op die spel nie, maar ook God se Naam. Wees verantwoordelik. Bly reg deur jou lewe so leef dat God se Naam se glans net groter en groter kan word. 3. Om te leef uit Jesaja 43. Kom ons begin in ons huise. Jy het iemand in jou huis vir wie jy verantwoordelik is. Iemand vir wie God lief is en hoog ag en as kosbaar vir Hom beskou. Dit is jou man, jou vrou. Jou kinders. Onthou: Hulle is kosbaar vir God. Hy het hulle lief. Dink mooi hoe jy met hulle praat en hulle hanteer. Kyk nou om jou. Ook die gemeentelede wat nie hier is vanoggend nie. Hulle is elkeen iemand vir Wie God baie lief is. God dink ons ander is kosbaar. Ook ons is bevoordeeldes van Sy kruisdood en opstanding. Ook ons het Sy Heilige Gees ontvang. Wil jy regtig God ontstel oor jy mekaar hier liefdeloos hanteer? Sien Christus in ons. Sien Christus in jou huismense. En as jy sukkel laat dan die Christus in jou die Christus in ons ander lief hê. Daardie mens wat jy mee sukkel, hy of sy is nes jy uit genade alleen gered. Ook hulle het deur die vuur en diep waters gekom, gedra en beskerm deur God. Verander jou uitkyk, jou manier van dink oor hulle/ons/jouself. Kan ek vir die ouers sê (en vir almal wat sê hulle lewensmaat hou hulle weg van God en eredienste af): Jou kinders moet nie afhanklik wees van jou geloof nie. Hulle moet self wil bid. Hulle moet self hulle Bybellees tyd as kosbaar beleef en getrou aan God wees daarin. Hulle moet self in die Bybel soek vir hoe hulle God nog meer kan lief hê. Nog meer plek gee in hul lewens. Jou kinders moet vanself wil eredienste toe kom --- en moenie jy die een wees wat hulle terug hou of ‘n voorbeeld van erediens bywoon ontneem nie. Erediens is geleentheid om die God wat jou genade gegee het te kom loof en prys en eer. Dit vra dat hulle jou passie en liefde vir God eerstehands moet kan sien en beleef. En met beleef bedoel ek dat hulle orals moet kan sien dat jy so leef dat God se Naam se glans en eer net meer en meer kan word. Hulle moet jou liefde vir God in alles kan sien. En laastens, in die tye waarin ons leef, veral met al die gemors wat politieke partye gaan kwytraak of aanvang, en met al die misdaad ens, moet hulle kan sien waarheen jy jou vrese neem. Dat ons hierdie woorde ernstig opneem. Dat hierdie beloftes, wat in die doop bevestig is, van ons koppe afgesak het in ons harte en diepste menswees in. Ons leef uit God se beloftes uit. Ons leef uit die woorde “Omdat jy vir My kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe. Moenie bang wees nie, Ek is by jou.” Moenie uitstel nie. Begin vandag. Keer vandag nog terug na God.