Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
1 Tessalonisense 5: 12 - 26 My pa het teen sy studeerkamer muur ‘n selfgemaakte pret gehad waarop gestaan het “Loben ziet nach oben; danken shutz vom wanken.” Om God te loof trek jou op en om God te dank keer dat jy wankel. En tog het beide ook ‘n aantrekkingskrag van hulle eie. Behalwe vir die vreugde en dankbaarheid wat dit in ons losmaak, trek dit mense aan. Ons almal raak gou vies as mense nie dankbaar is nie. As kinders as vanselfsprekend neem wat ouers vir hulle doen. ‘n Mooi dankie veral as dit met ‘n glimlag reg uit die hart uit kom, is vir ons almal kosbaar. Almal sukkel met die lewe. Die lewe stel baie meer vrae as wat dit antwoorde gee. En tog is dit ‘n spontane getuienis as jy sien dat mense ten spyte van moeilike omstandighede ‘n vrede en vreugde uitstraal. Sulke mense trek jou aan. Nie ‘n oppervlakkige glimlag nie. Maar ‘n vreugde en vrede wat dieper lê. Ons grootste aantrekkingspunt om mense na Christus toe te trek, is as ons Sy vrede en Sy vreugde en Sy liefde uitstraal. Paulus skryf in hierdie deel oor juis dit. Hy skryf hier oor goed wat ‘n gemeente behoort te doen en ‘n paar goed wat ‘n gemeente liewers nie moet doen nie. Daar is maw drie goed wat ek en jy elke dag behoort te leef en te doen. En natuurlik drie goed wat ons elke dag liewers moet nalaat. Vir vandag net die drie moets. 1. Wees altyd bly. Dit is ‘n blydskap wat diep lê in ‘n mens. Dit is die blydskap oor God jou genade gegee het en jou in Jesus Christus gered het, verlos en die ewige lewe gegee het. Dit groei deur ‘n oopheid vir die Heilige Gees om in ons te werk. ‘n Oopheid wat die ruimte gee aan die Heilige Gees om jou lewe te beheer en bestuur. In gewone afrikaans: As die Heilige Gees jou hier binne kan inrig soos Hy wil as God se tempel. Kan ek byvoeg: Dit is vir my die blydskap wat kom van die besef God is altyd by my. ‘n Besef wat nie teorie is nie, maar ‘n bewustheid wat sterker en sterker word hoe meer jy jou instel op God reg deur jou dag. My doelbewuste bewus bly van God hier by my maak selfs ‘n moeilike dag, ‘n beter dag. Dit alles is genade. En ek en jy deel in daardie genade. Ons het rede om bly te wees. Jesus het toe Hy by Simon die Fariseers aan huis was vir ete, ‘n gelykenissie vertel van twee mense wat by ‘n geldskieter, iemand wat geld uitleen, geld geleen het. Die een het R50 geleen en die ander een R500. Nie een van die twee kon die geld terug betaal nie. In daardie tyd kon jy of van jou kinders verkoop word as slaaf om die skuld te delg. So dink jou in die blydskap toe die geldskieter hulle albei se skuld kwytskeld. Watter een gaan die blyste wees? Natuurlik die een wat die meeste geskuld het. Mag ons nooit vergeet hoe groot en hoe duur die genade gekos het waardeur ons gered is. Hoe groter ons besef van die genade, hoe groter gaan ons blydskap wees. Hoe meer spontaan gaan hierdie opdrag om altyd bly te wees in plek val. Daar is ook meer hier aan. Paulus het besef dat die gemeente in Tessalonika in moeilike omstandighede die evangelie ontvang en aangeneem het. En dat hulle te midde van al die druk en negatiewe, toegeneem het in blydskap. Hy het besef dit is die werk van die Heilige Gees (1:6) in hulle. Die apostels het nooit vir die gelowiges gesê hulle swaarkry en lyding te ignoreer nie. Dit is deel van Christen wees om ter wille van Christus selfs te ly sou dit gevra word. Christene het ontdek dat hulle juis in moeilike omstandighede vervul word met hoop en blydskap. Dit is die werk van die Heilige Gees in hulle. Dink maar aan Stefanus wat vol van die Heilige Gees vir die Joodse Raad kon sê hy sien Christus staan aan die regterhand van God. ( Hand 7:55-56). Blydskap gaan verder terug. Die engel van die Here het vir die skaapwagters gesê hy bring vir hulle goeie nuus van groot blydskap (Luk 2:10-11). Dink aan Filippense 4 vers 4: Wees altyd bly in die Here. Ek herhaal: Wees bly!” En in Johannes 16 (v22) hoor ons hoe Jesus sê dat niemand ooit die blydskap van Sy opstanding van die apostels af kan weg neem nie. Al hoe meer het blydskap een van die kenmerke van die kerk geword. 2. Bid gedurig. Die Ou Vertaling: Bid sonder ophou. Gebed is om te praat met die Een wat jou die liefste het en vir wie jy lief het. Gebed is om jou diep dinge met God te deel, te luister en ook net in stilte met jou volle aandag by God te sê. ‘n Mens leer om van uit gebed te leef. Om ook deur die loop van jou dag kort gebedjies op te sê oor iets moois wat jy sien of oor bly is. En soos Nehemia skietgebedjies in moeilike omstandighede. Nehemia is ‘n wonderlike voorbeeld van kort gebede sommer so tussen die werkery deur. Of soos Paulus wat heel party van sy briewe begin met ek dank God elke keer as ek aan julle dink. Of soos in 1:2 Ons dank God altyd wanneer ons in ons gebede aan julle dink. En in 2:13 ons dank God gedurig oor julle die evangelie aangeneem het. So ‘n manier van leef hou jou gedagtes by God. By Hom wat jou dag kan omdop, uitkoms kan gee en sommer net vir jou lief is. 3. Wees dankbaar. In alle omstandighede! Moenie dat jou omstandighede maak dat jy vergeet dat daar altyd baie dinge is waarvoor jy kan dankbaar wees nie. Studies het al in die laat negentigers uitgewys dat die negatiewe maklik in mense se lewens die dominante verhaal word. Heel eenvoudig, dit laat mense net praat oor hoe sleg dit met hulle gaan, hoe swaar hulle kry en en. Terwyl daar baie meer dinge in hulle lewens is wat goed en mooi is. Moenie so iemand wees nie, sê Paulus. Vind altyd iets om oor dankbaar te wees. Moenie kla oor die vrag wasgoed nie. Wees dankbaar jy besit soveel klere. Wees dankbaar vir die mooi wat God om jou sit. Victor Frankl het in die Nazi gevangenekampe die sonsondergange gebruik om God te dank voor. Dit het hom gehelp om dinge in homself bymekaar te kon hou en nie te knak nie. Danksegging is die brood en botter van ons verhouding met God. Dit is meer as net dankie sê vir ‘n gebed wat verhoor is en ander uitkomste. Dit is ‘n manier van wees by God. Ek is dankbaar vir God se teenwoordigheid. Ek is dankbaar vir Sy nabyheid. Dankbaar dat Hy my raaksien en ten alle tye presies weet wat in my klein lewetjie aaangaan. Ek is dankbaar vir mooi blomme langs die pad. Selfs sonneblomme wat sukkel om te groei op die harde skouer van paaie, maar hulle blom. En mag ek maar sê, die aand voor Sy kruisiging, die aand van Sy gevangeneming, was ‘n geleentheid waarna die Here baie uitgesien het (Luk 22:15). Op daardie aand, net na Hy gesê het hoe Hy uitgesien het om die paasmaal saam met hulle te eet voordat Hy ly, het die Here nog die beker geneem en ‘n dankgebed gedoen. Kan dit ‘n swaarder oomblik wees vir Hom? En tog steeds eers ‘n dankgebed. God se liefde, die krag wat God gee, is genoeg rede om selfs al gaan dit hoe sleg steeds God te dank. Dit gaan nie oor die omstandighede nie. Omstandighede wil net jou aandag van God af trek. Soms dank ek God net omdat ek weet Hy is reeds besig met ‘n uitkoms al weet ek nie wat die uitkoms is of hoe lank voor dit gaan gebeur nie. Ons kan God dank omdat Hy altyd en in alle omstandighede vir ons daar is. Om in alle omstandighede dankbaar te wees, is om te sê God in beheer. God regeer. Ongeag hoe dinge miskien lyk. God sal selfs dit vir ons ten goede laat uitwerk (Rom 8: 28) 18 “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.” As die Here wil by ‘n ander geleentheid hanteer ons die drie moenies. Weet net dat as jy die Here vra sal Hy voorsien. En onthou, dit gaan oor onberispelik wees wanneer die Here kom. En oor onberispelik lewe nou reeds. Kyk maar na vers 23: “23 Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, so bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom!”