Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Oujaarsnagdiens 31 Des 2018 Efesiers 5: 8, 9 Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is. Hierdie is wat ek noem, ‘n skeidingsteks. Jy steek ‘n lyn oor. Jy is oor die Rubicon. Jy is deur die rivier en nou is daar geen terug kyk nie. Jy het die nuwe wêreld ontdek en nou verbrand jy jou spreekwoordelike skepe sodat jy nie in ‘n oomblik van swakheid kan terugkeer nie. Jy was die ene duisternis. Nou, in die Here, is jy lig. Vanaand maak ons klaar met die ou jaar. Koebaai 2018. Hello 2019. Om 00:01 begin ons weer met nuwe kanse en nuwe geleenthede. En ja, vir party mense gaan die nuwe jaar eers begin as hulle wakker word. As dit al lig is. Hou die woordjie lig vas. Daar is ‘n gesegde onder die woestyn vaders en moeders van die 3de eeu gewees: “Always we begin again.” 1. Begin weer. Elk dag van hierdie nuwe jaar, elke uur, elke oomblik gaan God jou geleenthede bied om weer te begin in Hom. Om ons sondes en ons foute te bely en weer te begin. Daar gaan geleenthede wees om weg te stap van ou dinge af en van vooraf te begin, of net om anders te begin. Ek sal 2018 vir oa een ding onthou. Die dag toe ek opnuut na 1 Johannes 1 gesit en kyk het. Na veral vers 5 en besef het: “God is lig in Hom is daar geen duisternis.” Dit bly my steeds by. In God is daar nie eers die kleinste stukkie duisternis nie. Geen valsheid, geen verskuilde agendas nie. Geen leliks of sonde of watter negatiewe jy wil uitwys nie. En ek het gedink, as ek ‘n foto van iets teen die lig in neem, dan kry ek ‘n silhoette. En as mense my sien moet hulle nie ‘n silhoette sien nie maar sien asof deur ‘n glas figuur, net God se lig. En vanaand sluit ek hierdie jaar af met ‘n boodskap dat ook ons so moet wees. Helder lig. Geen duisternis. Geen seermaak, geen haat, geen lelik nie. Net God in Christus in ons en ons in Hom. En nee, dit hoef nie ‘n nuwe jaars voorneme te wees nie. Jy hoef nie te sê hierdie jaar, in 2019 gaan ek lig wees nie. Of, ek gaan soos lig word nie. Want jy is dit reeds. Jesus het ons dit gemaak. Deur Sy kruisdood en opstanding het Hy ons tot lig gemaak. Sy lig. Matteus 5 “Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek 'n mens nie 'n lamp op en sit dit onder 'n emmer nie maar op 'n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” En ook, julle is die sout vir die aarde. In Efesiërs 4 skryf Paulus “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan nou as mense van die lig (vers 8).” Kom ek illustreer dit. (Sit die ligte af). Ons sukkel om mekaar te sien. Netso sukkel mense om die ware jy te ken want dit is doodgewoon te donker in ons en om ons. Die haat binne ons, die dinge wat ek nog nie vergewe het nie, die wrewel oor dit en dat en omgekeerde rassisme, ons vrese, ons veglustigheid en eie ek, en wat ookal ons hier wil byvoeg, dit alles maak dit net te donker. Ons het teveel mure om ons en ons selfverdedigingsmeganismes, ons pogings om ons brose ek weg te steek en te beskerm maak dit nag vir die mense om ons. Steek ‘n kers aan. Selfs net een kers maak al ‘n verskil. Dink net as ons reg deur die gebou kerse aangesteek het, hoe mooi sou ons mekaar kon sien. (Sit die ligte aan). Nou kan ons mekaar weer sien. En ek kan sien of iemand in die laaste minuut aan die slaap geraak het. Nou is dit anders. Jesus het ons skanse en mure begin afbreek en ons lig laat deurskyn. Hy is besig om die emmers wat ons oor ons lig gesit het weg te vat sodat Sy lig in Deneysville en SA helderder kan skyn. In hierdie gedeelte is Paulus besig om te skryf oor die uitleef van God se genade. Oor die nuwe lewe wat ons het. En maak nie saak hoe donker dit van te vore in en om jou was nie, jy is nou lig. Ek het ‘n houer vol kerse hier voor. Ek nooi jou uit om net na 12, as ek die seën van God oor jou uitgespreek het, vir jou ‘n kers te kom haal. • ‘n Kers om jou te herinner wie en wat jy is in Christus. • En jy kom die kers haal as teken van jou bereidheid om lig in Christus te wees. Daar is ‘n belangrike frase wat ek moet uitlig. 2. In die Here. Ons is net in die Here lig. Dit is soos ‘n loot van ‘n druiwestok. Die loot kan net druiwe voortbring as dit in die wingerdstok bly. Ek en jy kan net lig wees in Christus. In die Here. In hoe jy by Jesus bly en in hoe jy Hom gehoorsaam, in hoe jy uit Sy genade alleen leef en Hom toelaat om in jou te werk soos Hy wil, is hoe die lig gaan straal uit jou uit. Die verskil tussen of jy nag gaan wees en of jy lig gaan wees lê in hoe jy in Christus gaan leef. En in hoe Christus jou kan regeer. 3. Sien 2019 anders Ons dink dikwels verkeerd. Ons wonder oor wat 2019 gaan inhou vir ons. Moet ons nie eerder verwonderd wees en dankbaar wees vir die kanse wat wag om ander se lewe te gaan verlig nie? Moet ons nie besig wees om te dink oor hoe ons nog meer vir die Here bruikbaar kan wees nie.? Besig wees om te bid dat God ons in 2019 sal wys na wie ons moet gaan, wie ons moet ondersteun of help? Kom ons maak 2019 die jaar wat ons werklik in die Here bly en Hy in ons. Die jaar van lig wees in die Here. Kan ek net weer sê: in die Here is julle lig. As dit ook jou belydenis is kom haal ‘n kers as teken van jou onderneming aan die Here om 2019 veral in Hom te bly en in Hom lig te wees, en dan as ons almal weer sit gaan ek die seën uitspreek.