Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
MATTEUS 9: 35 – 10: 1 Hierdie deel lê soveel van Jesus se hart en Sy ingesteldheid bloot. Jesus gaan nie vir die groot verhoog en om naam te maak in Jerusalem nie. Hy gaan na die klein dorpies en klein plekkies (vers 35). En in die klein plekkies het Hy die mense van God geleer. Hy het die evangelie van die koninkryk verkondig. Hy het elke soort kwaal en siekte gesond gemaak. ‘n Mens beleef iets van Sy omgee in Sy gerigtheid op die mense in die klein plekkies wat dikwels geignoreer en agter gelaat word. En in vers 36 word dit uitgespel: Hy het die mense innig jammer gekry. Hy het gesien hoe moeg en moedeloos hulle was. Kom ons haak net vir ‘n oomblik vas by hierdie gedagte. Jesus het hulle innig jammer gekry want hulle was moeg en moedeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Ons fokus net vir eers op Jesus. Ons weet dat God wil hê ons moet gelykvormig word aan die beeld van Sy Seun (Rom 8: 29). En ons ken Paulus se woorde in Gal 4: dat Jesus al meer gestalte in ons moet verkry. Maw Jesus moet duideliker sigbaar word in ons elke dag se lewe. Mense moet na jou en my kyk en Jesus beleef. As jy dan weer kyk na vers 36, en dan kyk na wat ‘n mens al meer en meer sien: mense wat moeg en moedeloos is met misdaad, korrupsie en politici. Mense wat moeg is oor die eise van die werkplek, ander onreg. Mense wie se verhoudings en huwelike uitmekaar val. Hoe voel jy? Dit is al gesê dat ons afgestomp geraak het oor al die geweld. Jesus se wêreld van destyds was niks beter. Korrupte politici. Herodus wat laat moor het. Romeinse oorheersings en belastings. Kyk Jesus se hart. Kyk ons harte. Kan ek hier stop en as eerste stukkie gehoorsaamheid aan Jesus soos ons in hierdie deel lees, vir ons almal bid om Jesus se hart te hê. Daardie innige jammerte oor wat met mense gebeur. Kom ons bid. Hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie. In die oorspronklike Grieks: eskulmenoi -- “distressed.” Volgens die woordeboek: ontsteld, onthuts, verontrus, met kommer gevul, beangst, in die nood gedompel. En crimmenoi: sonder rigting. Doelloos rondstrompel. Die hele prentjie is een van mense wat 'n breekpunt bereik het, genoeg gehad het. Mense wat met die lewe sukkel. Dis so tipies ook van ons, as die elektrisiteit styg, of jou medies, maar jou pensioen daal. En bo op dit al die politiekery waarvoor ons almal al keelvol is. Ek sien in die prentjie mense wat nie meer weet hoe met die lewe nie. Nou ... Jesus kyk na die menigte wat so moeg en moedeloos is, en Hy doen in effek 5 dinge: 1. Hy sê vir Sy dissipels: Bid!! Bid want die oes is groot maar daar is te min werkers. Bid dat die Here meer werkers sal gee om die werk gedoen te kan kry. Let tog op dat Hy hier iets baie belangriks oor die “oes” sê. Die oes, of as u wil, die skape, behoort aan God. Vra vir die Een aan Wie die oes behoort ... Bid en vra die Here om nog meer werkers te stuur want die werk is te groot. 2. Hy gee hulle 'n visie. Hy wys hulle die nood. Dis nie die eerste keer wat Hy dit doen nie. In 4: 23 staan daar hoe Hy orals siekes gesond gemaak het en die mense die evangelie geleer het. In 9: 35 kon hulle weereens prakties sien hoe Hy die mense leer, die evangelie verkondig het en elke soort siekte en kwaal gesond gemaak het. 3. En dan roep Hy hulle. In 4: 18 – 22 Volg my! In 10:1 roep Hy hulle weereens nader en die keer Hy stuur hulle uit om dieselfde te gaan doen as wat Hy gedoen het. Hy wys hulle self eers wat om te doen. Hy vra nie van hulle wat Hy nie self bereid is om te doen nie. Jesus se werk is hier besig om 'n skuif te maak. 'n Nuwe dimensie aan te neem. Aan die een kant word dit baie duidelik dat wie Hom volg moet ook doen wat Hy gedoen het. Elke volgeling, elke kind van God het die roeping om Jesus na te doen. Na te leef. Hier is nie loskom kans nie. Wie glo moet soos Jesus dien, getuie wees en omgee. Die ander deel wat begin loskom in die deel is die Fariseers se reaksie. As die skare agter Jesus aanstroom want Hy doen iets oor hulle nood .. dan skop die Fariseers se jaloesie in en hulle probeer Jesus met woorde afbreek en afsit. (9:34). Jesus op Sy beurt waarsku Sy volgelinge dat ook hulle soos Hy beledig en weggestoot gaan word en selfs sal ly. Dis duidelik dat as jy vir die Here werk – as jy Hom volg – kan jy verwag om iewers in onaangenaamhede vas te loop. Moet dan nie opgee en bedank en in jou huis gaan wegkruip nie. Maar hou aan om soos Jesus ook daardie mense lief te he en te vergewe. Al bid jy net “Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hul doen nie.” 4. Hierdie is die verrassing. So baie mense dink dat as ons vir iemand gebid het dan het ons ons deel gedoen. Hier roep Jesus die bidders nader en Hy stuur hulle. Hy stuur hulle uit as 'n antwoord op hulle eie gebed. In 9:36 sê Hy hulle moet bid en in 10: 1, 5 stuur Hy hulle uit. Sien u dit? God kan jou die antwoord op jou eie gebed maak. 5. Hy belowe om te voorsien. Vers 10: In hulle fisiese behoeftes; Vers 19 en 20 in wat hulle sal sê. Die Heilige Gees sal op daardie oomblik vir hulle voorsê. Vers 1: Bemagtig Hy hulle. Hy gee hulle mag om bose geeste uit te dryf en om elke soort siekte en kwaal gesond te maak. Ons het in hierdie deel te maak met 'n deel van die hart van ons Here. Hy sien ons raak in ons stukkendheid en nood en moedeloosheid en Hy maak 'n plan daarmee. Maar die Here sien ook die nood van die res van die gemeenskappe raak. En Hy stuur ons na hulle toe. Hy stuur ons na die dorpies soos Deneysville om hoop te bring en om oor Jesus te praat. Ek wonder of ons as kerkraadslede ooit besef hoe groot ons voorreg is om in mense se lewens toegelaat te word om vir hulle hoop en goeie nuus vanaf die almagtige God te bring. En weet ons hoe sleg dit is as ons die einste mense verraai deur nie die nuus te bring nie. En ek weet ‘n mens hakkel en stotter en voel onopgewasse vir die taak. En tog is dit duidelik dat die Here vir ons sal gee wat ons nodige het om die taak te doen. Nie vooruit nie maar daar op die oomblik waar jy dit nodig het gee Hy die woorde vir die gebed en die woorde om mee te getuig of te bemoedig. En vir die vooraf het Hy vir ons Sy woord en Sy voorbeeld gegee en die voorbeeld van Sy dissipels en ander gelowiges. En Sondag vir Sondag Sy woord gepreek. So lei Hy ons op vir die taak van bid en gaan. Dit geld nie net vir die kerkraad en die dominie nie, maar ook vir elke gelowige. Niemand wat Jesus bely as Here word kwytgeskeld nie. In Joh 20:21 en Markus 16:15 ev staan geskryf: Soos die Vader My gestuur het stuur Ek julle.” Gaan dan. Bid en gaan wees lief vir die mense. Gaan kyk na hulle en na mekaar soos God na ons kyk. Sien raak dat hulle nes ons ten diepste weerlose skape wat smag is na God al weet sommige van hulle dit nog nie. Vergewe hulle soos God hulle vergewe en veral soos God jou vergewe het. Gaan gee hulle dieselfde geduld wat God met jou het. Luister na hulle soos God na jou elke woord luister. En soos die Here, sien hulle nood raak. En weet God sal jou gee wat jy nodig het om hulle te help. Bly bid om met God se oë na ander te kyk en Jesus se hart te hê. Amen. FORMULIER Kerkraadbevestiging