Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 7: 1 – 6 Moenie oordeel nie! Kom ons kyk na Wie dit sê. Die woorde kom oorspronklik uit Jesus se mond uit. Jesus sê: Moenie oordeel nie. Dieselfde Jesus wat stukkend geslaan aan ‘n kruis in Sy sterwens uur bid Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie. Hy wat met vergifnis na jou en my toe uitreik en nie met oordeel op ons afkom nie. Hy sê: Moenie oordeel nie. Jesus druk Homself sterk uit in hierdie deel. Daar is twee woorde wat in die Grieks met herhaling gebruik word in hierdie deel. Oordeel en meet. Oordeel = krinete word krithete word krithesesthe. En nou is ons by die punt waar dit nie meer net ‘n mooi leerstelling is, bv moenie oordeel nie. Ons is by die punt waar Jesus sê: Stop dit! Hou op daarmee. Dieselfde met meet. Sit nou in jou gedagtes die “moenie oordeel, hou op daarmee om te oordeel” langs Jesus aan die kruis en jy sien iets nog sterkers: Jesus self het dit geleef. Hy het hierdie woorde vleis gegee. Sigbaar gemaak. Die nodigheid en dringendheid van hierdie verse spreek vanself. Ek glo hier sit nie een van ons wat nie al iewers geweeg, geoordeel en afgeskryf is nie. Almal het iewers al aan die verkeerde kant van iemand se oordeel en woorde beland. Nie almal oorleef dit ewe goed nie. En ons almal oordeel daagliks. As jy die komentaar luister van mense op landsgebeure of sport, of jy lees dit in die elektroniese media, dan besef jy hoe groots en hoe nodig is Jesus en Sy woorde vandag. So, neem vandag die besluit om nie meer te oordeel nie. 1. Besluit: Ek sal nie oordeel nie. Kom ek gee jou redes vir jou besluit. Hierdie verse is deel van die bergrede. Die bergrede begin by Matt 5:3 met die saligsprekinge. Geseënd is die wat weet hoe afhanklik hulle van God is. Geseënd is die wat barmhartig is want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (5:7). Geseënd is die wat barmhartig is is die positiewe kant en moenie oordeel is dieselfde gedagte negatiewe gestel. Oordeel is genadeloos en hard. Oordeel sluit barmhartigheid uit en so ook geseënd wees uit. Ek weet ons leef in ‘n tyd waar mense in oortreffende trap dinge sê. Bv Iemand is nie net sleg nie maar die persoon is ..... (uiters) sleg, selfs totaal nutteloos. Dit is onbarmhartig en dit is oordeel. Jy het nie in ag probeer neem wat het alles in daardie mens se lewe gebeur om hulle juis so te vorm of so te breek nie. Dit is ook selfregverdigend en selfverheffend: Een mens wat hulself verhef tot god. Die oordeel kom ons nie toe nie. Die oordeel kom God toe. (Romeine 12). Moenie oordeel nie sê Hy wat deur God se liefde gegee is aan die wêreld sodat die wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie ... En so bietjie verder in Johannes 3: 16 – 21, vers 17 “God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” God doen dit nog nie (dit kom later), dit pas ons ook nie om te wil oordeel nie. Matteus 7 impliseer die oordeel kom vorentoe en God sal oordeel dan. Ons sal by ‘n ander geleentheid oor dit praat. Vir nou is die koninkryks lewe ‘n oordeel vrye sone. God is liefde. Ons moet volgens die aard van ons Hemelse Vader leef. Die groot gebod is tog duidelik: ons moet liefhê. Juis hieraan, aan ons liefde vir mekaar sal mense weet dat ons Jesus se dissipels is (Joh 13:35). Anders is ons nes klinkende metaal, soos simbale. Net geraas (1 Kor 13). En as ek dinge vir ‘n oomblik kan vooruit loop: Ons is juis geroep om anders as die ander mense in ons gemeenskappe te wees. Dit is juis hier waar gemeentes faal. Die wêreld oordeel soos dit hulle pas, en hulle skryf mense af. Ons moet anders wees en juis ook daardie mense gaan liefhê en help om in Christus die ware lewe te kan ontdek. Jesus het in hierdie deel, teen die oordeel van mense wat vergeet het dat hulle self ook onder God se oordeel staan. Jesus het dit teen mense wat bly vergeet dat ons almal net leef uit Sy vergifnis uit. Om te oordeel is eintlik maar om te erken ek self is skuldig! Ook ek is skuldig voor God. Ook ek is ‘n gebroke mens. Sondig! Hierdie deel moedig ons aan om met ons medemens te identifiseer, om hulle behoeftes en gebrokenhede te hanteer asof dit ons behoeftes en ons eie gebrokenheid is. Ons leer om teenoor ander op te tree asof hulle eintlik ons self is. Maw met dieselfde genade en deernis wat ons sou wou gehad het. Kom ons wees wat Jesus vra, ‘n oordeels vrye gemeenskap. Van nou af, is waar ookal ons is, ‘n oordeelsvrye sone. Ons oordeel niemand. Kan ek waarsku? Ons oordeel meer as wat ons dink. En dit doen skade aan God se koninkryk. In die eerste 30 of so sekondes wat jy iemand ontmoet, het jy klaar ‘n oordeel geneem. Jy het klaar besluit reg of weg. Ek hou van jou of ek hou niks van jou nie. Jy sê dit nie maar jou liggaamstaal en dit wat jy onbewustelik uitstraal verklap dit. Ons hou daarvan om mense in kategoriee te plaas, of in boksies as jy wil. Want dan weet ek wat om met jou te maak. Die volgende stap is ek hoef jou nie lief te hê nie want ... en nou kan jy die sin vol tooi met die boksie waarin jy daardie mens geplaas het. Kom ek sê dit reguit: Oordeel verdryf die liefde. En liefde is dan juis waartoe ons geroep word. Dit is die groot gebod. 2. Waarskuwing. Wie meet word gemeet. Jesus gee ‘n waarskuwing hier: Jou meetband gaan op jou gebruik word. Dit waarmee jy ander meet en dan hanteer, gaan deur God netso teen jou lewe geplaas word en jy gaan dan netso afgeskryf moet word. Ek sê dit reguit soos die teks dit sê sodat ons onder geen illusie kan wees nie. Dink terug oor hierdie week. Waar het jy gesê dit was nou lekker en waar was iets slegs. Maandae het al ‘n slegte naam want ons praat van blou Maandae. En eintlik is dit net nog ‘n dag. Nog ‘n dag wat God ons op Sy aarde gun. Alles in ons lewens word gemeet aan goed of sleg. Dit was goed. Of dit was niks lekker nie. Die heeltyd evalueer en oordeel ons. Boks ons dinge, skei ons die skape van die bokke. Probeer ons die onkruid tussen die korings uittrek ter wyl Jesus in daardie gelykenis duidelik gesê het op die oordeelsdag sal die suiwering wees. Dit waarmee jy meet, daarmee sal ook jy gemeet word. God sal die meet werk doen. Op Sy tyd. Voor ek die laaste praktiese goed sê, net dit: Dit is ook duidelik dat daar tye is wat jy iets of ‘n situasie moet beoordeel vir jouself, ons sal by ‘n ander geleentheid dit probeer hanteer. Vir nou: ons oordeel nie. 3. Die hoe van my besluit om nie te oordeel nie. Om ‘n oordeel vrye mens te wees moet jy by jou gedagtes begin: Bybel sê so. Romeine 12. Die plek om dit in te oefen is in jou stil word by God. Leer om elke dag buiten jou gebedstyd, vir n paar minute in stilte in God se teenwoordigheid te sit. Jy dink aan niks. Jy sit net by God. Hy is daar so moenie eers wonder daaroor nie. Sit net by God in stilte. Die gedagtes gaan bly opvlieg soos ‘n klomp voëls wat skrik. Moenie die gedagtes hanteer nie. Laat hulle gaan. En belangrik: Moenie oordeel oor die gedagte nie. Al voel dit asof die gedagte van God self af is, vir daardie paar minute laat jy dit gaan ... jy oordeel nie of dit goed of sleg is nie. Dit is net wat dit is, ‘n gedagte. Laat dit gaan. As jy begin met jou dag se dinge dan vat jy dit verder. Iets gebeur. Moenie dit beoordeel in terme van goed of sleg nie. Dit is wat dit is. Dit is bv ‘n kar wat voor jy ingedruk het. Dit is nie ‘n so en so wat nie weet hoe om te bestuur nie. Dit is net iemand wat voor jou ingedruk het in die verkeer. Dit is net ‘n geleentheid om die Here te sien werk. Gebruik dit as ‘n geleentheid om weer bewus te word van die Here. Ek kies om nie te reageer nie maar om eerder te kyk na God. Wat jy gaan ontdek oor tyd is ten eerste dat jy agter kom hoeveel jy eintlik oordeel. Hoe maklik en hoe vinnig jy mense oordeel. Jou besluit om nie te oordeel en jou gewoonte om in stilte by God te sit gaan die ruimte skep waarbinne die Heilige Gees jou gaan skuif vanaf ‘n mens wat oordeel na ‘n mens wat liefde kan leef. Tot waar ons deur die Heilige Gees se werking mense word in wie ander Jesus kan sien (Gal 4: 19). Ek sê weer. Neem ‘n besluit om nie te oordeel nie. Begin bid en begin om in stilte by God te sit. Ek self beleef hoe God my skuif, nie net wat oordeel betref nie maar ook dieper in die vrug van die Gees in.