Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Efesiers 4: 3 - 6 In Waterloo, Iowa, Amerika, wou die mense ‘n kerk bou maar klip was skaars. So ‘n ent buite die dorpie was ‘n groot klip. Dit het so 8 voet bo die grond uitgesteek. Hulle het die grond om die klip oopgegrou en hierdie massiewe klip bloot gelê: 28 voet hoog, 30 voet lank en 20 voet breedt. Die werkers het hierdie massiewe klip begin verwerk in stene in en toe daarmee die kerk gaan bou. Hierdie storie is vir ons vanoggend ‘n beeld. ‘n Metafoor. As jy om jou kyk na al die mense hier dan besef ‘n mens ons verskil almal van mekaar. Ons verskil op baie terreine van mekaar. En dit kan ook wees dat heelparty van u sal nie juis met mekaar oor en weer kuier nie. Maar hier is die ding. Ons is ‘n eenheid. En dit hou ons by mekaar. Ons is gekap uit een klip uit. En gebou op een Rots. Wat ons bymekaar hou is die genade van God. Die feit dat ons op dieselfde manier gered is nl deur Jesus se kruis en opstanding. En ons is deur die Heilige Gees saam gevoeg tot ‘n eenheid. 1. Eenheid is God aan die werk. Vers 3 sê duidelik dat ons die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, moet handhaaf. Paulus stel dit as ‘n feit: Ons is ‘n eenheid. Wat ons hier het, dit wat ons saambind, is God gegewe. Dit is God se handewerk. Ek en jy saam as ‘n gemeente is God se werk. Die Bybel gebruik baie beelde om die eenheid te beskryf. Byvoorbeeld: liggaam, gebou, volk van God, kerk. Elke keer enkelvoud. Selfs die geloofsbelydenis praat van een algemene Christelike kerk. Enkelvoud. Dit is belangrik om te besef: met die kerk het jy te make met iets wat God geskep het. Die gemeente is God se handewerk. Dit is ‘n gebou op en deur die bloed van God se Seun aan die kruis en deur Sy opstanding. Hierdie eenheid is duur gekoop. Baie duur! Dit sou vir my ‘n verskrikking wees as ek of iemand anders hulself aanmatig om hierdie God geskepte eenheid te verbreek. Ons rol is om die eenheid te handhaaf deur ons lewens in lyn te hou met die roeping wat ons elkeen van God af ontvang het. Soos ons nuwe lewe vir ons die mees kosbaarste in ons lewens behoort te wees. 2. Die klem op een. 7 keer in twee verse gebruik Paulus die eerste helfte van die woord eenheid. Die woordjie een word elke keer beklemtoon. Hy koppel dit elke keer aan of ‘n belangrike moment in ons lewens of aan ‘n belangrike Persoon (hoofletter). Kom ons begin by die een belangrike Persoon: God. Paulus noem die 3 Eenheid hier in al Sy dimensies: Gees, Here, Vader. Daar is net een Gees. Daar is net een Here. Daar is net een Vader en een God. God is ons almal se Vader. Hy is oor ons almal, Hy werk deur Sy Gees in ons almal en Hy woon in ons almal. Paulus skryf hier aan gelowiges oor ons gelowig wees. Onthou, dit is die hoofstuk vir die kerk, die handboek vir gemeente wees. Dit gaan dus nie oor nie-gelowiges nie. Dit gaan oor jou en my. En ons is hegter aan mekaar gebind as wat ons ooit kan besef. Hierdie saamgebind wees kom uit in die een doop in die naam van die Vader Seun en Heilige Gees wat ons deel. In dieselfde hoop op die ewige lewe en op God se genade wat in ons leef. So ook in geloof. En in 1 Korinthiers 11 skryf Paulus ook van die een brood en een beker wat ons deel, dws die nagmaal. Een geloof. U en ek glo nie op verskillende maniere nie en ons word nie op verskillende maniere gered nie. Ons geloof deel ons in Christus. Dit is ‘n geloof in dieselfde Here Jesus. Dit bind ons saam. 3. Die pot of die inhoud? Hoe kan enige mens ooit daaraan dink, ek kan los leef van ander gelowiges? Ek hoef nie deel te wees van die gemeente van God nie. Of ek kan net los weg deel wees. Iemand het so twee weke terug die opmerking gemaak dat mense gaan na groot gemeentes van duisend of meer sodat hulle kan wegraak in die massas en nie hoef deel te wees nie. In die teologie praat ons van verbruikers godsdiens: Jy gebruik soos jy nodig het maar jy dra niks by nie. Dit is alles oor jou wil, jou behoeftes ens. As eenheid deur God geskep is, vir wat wil ‘n mens dan ongehoorsaam wees en los staande van die een liggaam van Christus leef? Dit is mos om jouself en jou wil bo God se wil te verhef. Dit maak net nie sin nie. En in die lig van vers 3 tot 6 dink ek dit skreeu ten hemele. Ek moet wonder of ons nie die diepte en intensiteit van die nagmaal en die doop en van geloof verloor het nie. En ek vra dit in die lig van hoe mense wegbly en van hoe mense mekaar hanteer. Ek weet vir baie mense is geloof ‘n belangrike aspek van hul lewens. Maar, sonder dat hulle besef, is dit nie hul lewe nie. Dit is iets wat hulle doen as hulle nie met iets anders besig is nie. Dit verander nie eintlik aan hoe hulle lewe of werk nie. As dit so is dan kom die eie ek en die verwêreldliking navore en dit lyk so: Jakobus 4: 1 – 6 leer ons dat jy jouself as “gelowig” kan beskou en steeds nie Christus lewe nie. Selfs in jou gebede. Kyk wat het hy vir gelowiges van sy tyd geskryf: Waar kom die stryd vandaan, waar kom die rusies onder julle vandaan? Kom dit nie van julle selfsugtige begeertes wat gedurig binne-in julle woed nie? Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op 'n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie. As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig. Weet julle nie, julle ontroues, dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie 'n vriend van die wêreld wil wees, wys daarmee dat hy 'n vyand van God is. En in Gal 5: 19 noem Paulus dinge soos vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, en al sulke dinge. Hy noem dit as praktyke van die ou mens, dus die onbekeerde mens. Die hartseer is dit is orals in gemeentes. Wie opreg stilword by God en luister ontdek weldrae hulle eie selfsugtige begeertes. Soos jy dan bewus word van selfsug, bewus raak van die greep wat jou eie ek op jou het, bely dit viir God. En vra die Here om jou te help om Christus bo alles, bo jouself ook te leef. Dit is hoe jy begin om die eenheid te handhaaf. Ek lees ‘n beeld raak waar die skrywer van ‘n kleipot praat. Jy vat hierdie stuk klei en jy vorm hierdie houer wat jy vir iets spesifieks wil gebruik. ‘n Mooi kleipot. Okay, so what? Die kleipot is nie die belangrike ding nie. Wat eintlik belangrik is, wat jy eintlik wou hê toe jy die kleipot gevorm het, is die leë ruimte in die kleipot. Want jy wil iets daarin kan sit. Jy wil dit kan vul. Anders is dit net ‘n ornament. Toe God jou geskep het, het Hy jou geskep om ‘n ruimte te hê wat Hy kan vul. Wees nou daardie ruimte wat God met Sy Gees kan vul. Moenie jou lewe oor jouself maak en jou selfsugtige begeertes nie. God het jou nie geskep om ‘n ornament te wees nie. God het jou geskep om ‘n ruimte te kan hê wat Hy kan vul. Daarom gaan dit nooit oor doen in die eerste plek nie maar oor wees, om te wees. Om soos Christus te wees. Christus se krag en getuienis was in hoe Hy is. In Sy gevul wees met God se Gees. Dieselfde Gees waarmee God vir jou en my wil vul. Dieselfde Gees wat die eenheid tussen gelowiges geskep het. As ek dan my lewe in lyn bring met my roeping wat ek van God af ontvang het, dan beteken dit dat ek myself leeg maak aan myself en vir God daardie ruimte gee om te vul met Sy Gees. Die oomblik wat ons dinge oor ons self maak is die oomblik wat dit oor die pot gaan en nie meer oor die Skepper of oor die inhoud nie. Dit is die oomblik waar die eenheid van God se kerk vir jou irrelevant raak en jy nie moeite doen om die eenheid te bewaar nie. Dan bly jy weg want jy kan daardie mens nie uitstaan nie. En daardie een is skynheilig en en en. En daardie een moet liewer wegbly. Want dit pas ons. En Jakobus se waarskuwing van eeue terug word ons waarskuwing. Vir dit wat ek so pas gesê het om sin te maak, moet ons ‘n baie duidelike prentjie hê van Wie Jesus regtig is. Trouens, vir die eerste vier verse om sin te maak moet jy 'n duidelike prent in jou kop hê. Dit is die prent van Wie Jesus is. Hy is die Verlosser aan die kruis. Hy is die oorwinnaar oor die dood. Hy is die opgestane Here. Hy is die Koning oor die ganse Skepping. In Hom het God se koninkryk by ons uit gekom. Ons staan onder Hom. Hy is die Magtige Een om Wie alles gaan. Die kerk is Syne. Die gemeente is Sy eiendom. Ek en jy, ons leef omdat Hy ons laat leef. Ons is nie losstaande stene nie. Ons is uit een Rots gekap, en ons word deur daardie Rots, Jesus die Christus saamgebind in een liggaam sodat God se glorie meer kan word. ‘n Verdeelde wêreld is oor bekend. Ek het Woensdagaand gesit en kyk en luister hoe die eie ek van mense iets mooi uitmekaar skeur. Vol van hulself, met geen ruimte vir ander, en nog iets moois sterf. ‘n Saamgebinde mensdom in Christus trek ander aan. Mense wat saam voel, leef en doen en is in Christus. En dit eer God. En dit kan slegs gebeur as ons leeg word aan onsself en ons eie belang en gevul word met God. Onder Wie se beheer is jy regtig? Wie vul jou? Daar is geleentheid om in gebed leeg te word aan jouself.