Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Efesiers 4: 1 – 6 Ek lees die storie die week van ‘n man wat in spitsverkeer sy motor laat stol net toe die robot groen slaan. En ten spyte van alles wat hy probeer die motor wil nie weer aanskakel nie. So begin die ander motors agter hom toeter blaas. Selfs die motor reg agter hom, die een waar die bestuurder self kan sien die ou hier voor het probleme, lê te lekker op sy toeter. En toe die man moeg gesukkel is toe klim hy uit en hy loop na die bestuurder reg agter om en sê: Ek kry nie my motor aan die gang nie. Wil jy nie asb dit gaan aanskakel vir my nie. Ek sal hier sit en die toeter blaas namens jou. Paulus begin hierdie deel met “Ek druk julle op die hart”. En dan voeg hy by “ek wat ‘n gevangene is omdat ek die Here dien.” Paulus is nie maar ‘n kundige wat sy geleerde opinie kom deel nie. Paulus is ‘n man vol littekens, en nou in die tronk, omdat hy Jesus verkondig. Sy hele lewe is gecommit aan Jesus. Iemand het iewers gesê oppas vir die mens wat vir jou sê gee jou hemp vir iemand anders maar hy hou sy eie hemp aan. Dis nie Paulus nie. Hy gee sy lewe vir die evangelie en die kerk van Jesus. En hy verwag dieselfde toewyding van jou en my. Hy verwag dat jy uitklim en help stoot aan die stukkende motor voor jou by die robot asof dit Jesus se motor is en nie agter sit en lawaai maak en iemand anders se dag nog slegter maak nie. 1. Lyn jou lewe presies op met Jesus. Toe God jou gered het en jy wedergebore is deur Sy Gees, toe het God dit met ‘n duidelike doel gedoen. God het ‘n rede gehad vir jou lewe, ‘n plan met jou lewe. Ons het die laaste paar weke oor gered, geroep om aan God toegewy te lewe gesels. Vandag is ons weer by roeping. In die oorspronklike Grieks is dit letterlik om geroep te wees tot 'n sekere taak of verhouding. Ek dink dit is ‘n groot voorreg. Ek en jy kry die kans om Jesus te gaan leef tussen die mense saam met wie ons werk en bly en kuier. En tussen mense wat ons pad kruis. Ek en jy mag die grootste Mens in die geskiedenis verteenwoordig: die Seun van God. En so ook God self. God kies om jou te vertrou om Sy Reddingsplan ten toon te stel in jou lewe. Jy is God se reuse advertensiebord, wat leef en beweeg en op verskilende maniere God bekendstel aan mense. Kom ek verduidelik dit so: In die Ou Testamentiese tyd, het God duidelik gesê hoe mense moet lewe. Maar die mense kon die kloutjie nie by die oor uitbring nie, hulle kon nie die teorie by die praktiese uitkry nie. Hulle het gedink dit is ‘n klomp moets en moenies wat hulle iewers moet inpas. Verder hoef dit nie hulle lewe te raak nie. Toe stuur God Sy Seun, Jesus, as mens om vir ons te wys hoe leef jy as kind van God. In Jesus kan ons nou prakties sien hoe word dit gedoen. Dat dit ‘n hart saak is, ‘n dis wie ek is tipe lewe is. Jesus is God se gestuurde en Jesus maak ons, Sy kerk, Sy gestuurdes na die wêreld. En nou kan die wêreld na ons kyk en weet maar dit is hoe ‘n mens met God leef. Dit vra egter twee dinge: Ek moet besef ek is ten alle tye God se gestuurde in Deneysville, Vaaldriehoek en waar ookal ek beweeg. Ek is dit ten alle tye. Ek is ‘n voorbeeld van Christus. Nie ‘n voorbeeld van my eie idees en konsepte nie. Ek is ‘n voorbeeld van hoe Christus is. En as ek dit nie is nie dan moet ek my lewe inlyn bring met Christus. In Romeine 8 skryf Paulus dit anders: 28 Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29 Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. God het jou volgens Sy besluit geroep. Wat 'n voorreg! Jy vra: Waartoe is ek geroep? Om gelykvormig te word aan die beeld van Jesus. Om soos Sy Seun te word. Om Jesus se gesindheid teenoor mense na te leef. Om mense soos Hy lief te hê, geduld met hulle te hê en hulle te verdra in liefde. Kyk na die deel wat ons saam gelees het: beskeie, vriendelik en geduldig en verdra mekaar in liefde. Pas Jesus nie perfek hierin nie? Dink aan hoe Hy die voortvarende Petrus hanteer het. En Judas. En hoeveelkeer het die dissipels nie begryp wat Hy doen nie maar Hy het nie een van hulle weg gejaag nie. Die skares het Hy jammer gekry en versorg en geleer, Die vrou in owerspel betrap het genade by Hom gekry en ja, ook die duidelike woord van moenie aanhou sonde doen nie. En nou is dit ons beurt, ons is God se gestuurdes. Ons moet die dinge namens Jesus leef. Dis jou roeping. Dit is nie nog iets wat jy by jou lewe moet voeg of inpas nie. Dit is wie jy is, hoe jy is, wat jy leef 24/7. Dit is hoekom hierdie woorde van Paulus so belangrik is: Kry jou lewe in lyn met jou roeping. En as dit nie in lyn is nie dan trek jy jou lewe reg. Jy water nie God se roeping af nie, jy verander jou lewe. Jy begin by vers 22: “Julle gees en gedagtes moet nuut word.” Dit is hoe jy jou lewe in lyn kry met Jesus. Jy vra God in gebed om dit in jou te doen. “Laat julle lewenswandel in ooreenstemming wees met die roeping wat julle van God ontvang het.” (1983 vertaling). “Laat jul roeping julle leefstyl bepaal.” (NLV). In die hele hoofstuk word die leefstyl verder omskryf. Dit gaan oor hoe ons mekaar moet hanteer; oor hoe ons die eenheid wat God tussen ons gesmee het moet handhaaf; oor gawes en hoe ons almal moet saam dien sodat die Here se gemeente in liefde opgebou kan word. En dan praat Hy oor dinge soos lelik praat, kwaad word, verbitterd wees en hy eindig met vers 32: “Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Soos God jou vergewe het. Hoe ons ander hanteer moet iets wys van hoe God ons hanteer. Dit is geen wonder dat baie mense al gesê het Efesiers 4 is die handboek vir kerk wees. Gemeente wees. 2. Wees altyd. Kyk nou mooi na vers 2. Sien u 'n uitsondering daar? Sien u enige tyd of situasie daar waar jy 'n medegelowige – enige mens – anders kan hanteer as wat hier staan? Wees altyd ... wees altyd beskeie. Wees altyd vriendelik. Wees altyd geduldig, en verdra mekaar in liefde. Lê julle daarop toe om die eenheid ... te handhaaf deur in vrede met mekaar te leef. Is daar iets in hierdie 2 verse wat iemand hier nie verstaan nie? Ek sal verduidelik! Okay. Kom ons maak een honderd persent seker ons lewe lyn mooi op met hierdie verse. In ‘n gemeenskap waar mense jaloers is, en mense nie iemand anders 'n plekkie in die son te gun nie en hul eerder verdag te maak, of af kraak of beskinder, wees jy die een wat anders is, wat nie meedoen of saampraat nie, maar Christus se liefde en genade leef. Wees jy die een wat geduldig is met iemand anders se swakhede. Wees jy die een wat nie op die toeter van die lewe lê nie, maar uitklim en gaan help. Gaan wees jy die Jesus wat die wat jou kruisig vergewe en vir hulle bid, wat jou vyande probeer liefhê, goed doen aan alle mense, ook aan die haatlikes (ons sal hulle nie so noem nie). Wees jy die een wat anders is. 3. Hoe doen ek dit? Paulus spel dit nie uit in die teks direk nie. Ek kyk vir my antwoord na Jesus. Hy het vanuit gebed geleef. Hy het Sy krag by Sy hemelse Vader gekry. Vanuit Sy gebedstye met Sy Vader het Hy hier kon leef as voorbeeld van hoe Sy hemelse Vader is. Jesus was soos ‘n loot in die wingerdstok. Nou is ek en jy die loot in die wingerdstok. Nou moet ons vanuit gebed lewe. Nou moet ons in alles by Jesus hoor wat om te doen of te leef. Nou moet ons vir so al wat ons werd is seker maak dat ons in Jesus bly soos ‘n loot aan ‘n wingerdstok. Ook Paulus het vanuit gebed geleef. Jy sien die spore van gebed deur al sy briewe. En ons moet begin uitreik na mense. Stap oor die straat. Skep die soort verhoudinge wat vir daardie mens die kans bied om Christus te sien in jou lewe. Sodat jy iewers die kans kan kry om Christus te deel met hom of haar. Die woordjie mekaar kom 144 keer in die Nuwe Testament voor. “Mekaar” is duidelik ‘n belangrike woord. Maar ons moet dit reg verstaan. Kom ek illustreer. Vra ‘n paar vrywilligers. Staan asb in ‘n sirkel. Ek sien julle kyk na mekaar. Dt is ‘n skrale fraksie van wat God met mekaar bedoel. Draai asb om en kyk elkeen na buite. Wie sien julle? Ander wat buite die kring is. Dit is deel van die mekaar wat God wil bereik. God stuur ons na ander, na buite ook. Kom ons as gestuurdes van God maak seker ons lewens is in lyn met Christus. Amen.