Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Timoteus 2: 1 – 10 Daar is d ie ou grappie waar die man sê hy gedra hom altyd. Soms gedra hy hom mooi en ander kere gedra hy homself sleg. Iemand het iewers gesê: jy is altyd ‘n voorbeeld vir iemand iewers. Die vraag is net of jy ‘n voorbeeld van Jesus is of van wie anders. 1. Dra jou deel. Volg Jesus. Leef Hom na. Wees jy Sy dissipel vandag. Moet Jesus nie afwater of verdun of op enige manier probeer inpas in jou lewe nie. Pas jy in Sy lewe in. Pas jou lewe by Hom aan. Dit in kort is wat van die komentare sê die kern van hierdie deel is. As ons dan dissipels maak en hulle alles moet leer wat Jesus geleer het, soos ons verlede week gehoor het, dan moet ons hulle ‘n voorbeeld gee om na te kyk en ‘n voorbeeld om na te volg. Ek en jy is daardie voorbeeld. Ons hartsbegeerte is tog om gelykvormig te word aan die beeld van God se Seun, om te beleef hoe Jesus al hoe meer gestalte in ons lewens kry. Wat ons nie kan doen is om slim te raak met wat Jesus geleer het nie. Ons sit teveel energie in om die evangelie by ons te laat aan pas. Ons moet by die evangelie aanpas. Ons het goed geraak met die weg redeneer van gebooie wat ons ongemaklik maak. Ons het sommiges nie lief nie want ons redeneer dit is nie ons naaste nie. En ons ignoreer die deel waar Jesus sê jy moet selfs jou vyande liefhê. Ons ignoreer die duidelike opdrag om te vergewe. Christene praat die vals getuienis weg, skinder. Neee ons ruil net inligting uit. Of, maar dis so lekker is van die slimmighede wat ek al gehoor het. Dis dalk lekker maar dis nie Christus nie. Moet asb nie eers vir ‘n oomblik dink dit is maklik om ‘n voorbeeld van Christus te wees nie. Dit is makliker om stroom af te dryf as om teen die stroom in te swem. Dit is makliker om saam met almal praatjies te maak as wat dit is om uit te staan en Jesus te verkondig en te leef. Paulus het erge teenkanting beleef. Dit was sy deel van sy pad met Jesus. Hyself het by geleentheid gesê dat die Heilige Gees in elke dorp vir hom wys dat hy gaan ly. Timoteus se lyding was anders. So sal ook ons s’n verskil. Dit is nie iets om te vrees nie maar aanvaar maar ook daar sal teenkanting wees. Moet dan nie soos Timoteus terug deins nie. Volg jy Christus. Dien jy Christus. Laat Christus meer word in jou en jy minder. (Johannes die Doper se woorde so bietjie anders gebruik.) 2. Wie/wie gehoorsaam jy? Ek vra niks nuuts nie. Wie is in beheer van jou lewe? Ons sê maklik die Here is. Hoekom is ek en jy dan agter die stuur van ons lewens? Die punt is dat op teveel plekke en oor teveel sake lyk ons en klink ons nes ongelowige mense. Is ons nie lewende getuies van God se liefde en genade en krag nie. Paulus gebruik drie beelde in hierdie deel. Kom ons noem dit waardes. Die drie dinge is ononderhandelbaar vir elkeen van ons. • Soldaat – Prioriteite. • Atleet – Dissipline • Boer – Volharding. Aanhou. In die eerste twee beelde is gehoorsaamheid voorop. ‘n Soldaat gehoorsaam bevele. Dit is wat soldate doen. Hulle voer die bevele van die bevelvoerders uit. En ‘n atleet ding mee binne die reëls van haar sport. Sy gehoorsaam die reëls. En die beeld van die boer vul dit aan deur te suggereer jy hou daarmee aan. In ‘n komentaar het iemand geskryf van prioriteite. Ek hou nie van die woord prioriteit nie. Of van die ideë dat ek moet kom sê ons moet ons prioriteite regkry. Wat my pla is dat dit wat Paulus hier skryf veel dieper gaan as ‘n nuwe prioriteitslysie. So kom ons los die prioriteitslysie uit. As jou beroep die van soldaat is, dan is dit wat jy is. Jy het nie ander bronne van inkomste of werk nie. Jy is ‘n soldaat en jou grootste fokuspunt is om jou opdragte uit te voer tot op die letter. ‘n Soldaat is altyd op sy pos. Altyd reg aan getrek en goed opgelei en ingeoefen. Ons staan netso onder die gesag van Jesus. Die selfde gefokusde, toegewyde gehoorsaamheid aan opdragte en lojaliteit gee ons Here. Ons tree op soos Hy ons leer. Ons doen dinge soos Hy ons leer. Ons volg nie ons eie kop en denke nie. Maar Christus. As jy ‘n atleet is, veral in vandag se professionele era, dan het jy nie ‘n ander werk nie. Jou sport is jou werk. Jou fokus is op fikser beter vinniger of wat ookal jou sport vereis. Jy is gefokus en enigiets wat tussen jou en jou mikpunte staan werk jy weg. Gewoontes wat jou terughou breek jy mee. Atlete in hul dryf om te wen, meet selfs hoeveel kaloriee hul verbrand en pas dan hul inname van kaloriee daarby aan. Chris Froom wat tans Tour de France ry, eet meer koolhidrate op die platgedeeltes en minder op die opdraande dele want dan is dit ekstra gewig wat hy die bulte moet uitsleep. Jy kan jouself indink watter dissipline en selfdissipline so ‘n leefstyl verg. Veral as die mense om jou roomkoek en lekker kos eet. Dit is Paulus se punt. Ons begeerte na Christus moet so groot wees dat ons enige iets wat ons van dit af weghou of ons terughou uit ons lewens uit haal. As die mense by die werk disrespekvol en neerhalend is, of met die minimum probeer wegkom, wees jy gelowig: hanteer jy almal met dieselfde respek, praat jy wat opbouend is (Efes 5) en as jy kwaad word moenie sondig nie. Hê die selfdissipline om jou werk te doen asof jy dit vir jou Verlosser Jesus Christus doen. Vir Hom doen ons tog net ons heel beste en gee ons net die beste. Kyk hoe gebruik Paulus die beeld van oefen. Om absoluut gefokusd en gedissiplineerd vir Jesus te leef. In 1 Tim 4: 7b – 8 Oefen jou liewer om in toewyding aan God te lewe. Om jou liggaam te oefen, het wel 'n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat 'n belofte van lewe, vir nou en die toekoms. 3. Toewyding. Dit waarvoor ons geroep is, toewyding vra ook volharding. ‘n Boer verstaan dit. Dit vra 100 persent “commitment” om goed te kan boer. En vertroue in God en geloof en en en. En dit vra dit elke dag. Elke dag moet jy opstaan en doen wat jy moet doen. Stephen Covey praat van die wet van die plaas. Dit is anders as baie studente se maniere. Sommige studente sal heel jaar speel en kuier en laat slaap en dan ‘n week voor die eksamen dan soek hulle notas en begin leer. Dan wil hulle ‘n jaar se werk in een week doen. Dink nou as ‘n boer so sou leef. Heel jaar speel en kuier en laat lê en dan ‘n week voor oestyd dan staan hy op en hy ploeg en plant, strooi kunsmis. En die volgende Maandag verwag hulle ‘n oes. In jou verhouding met God werk dit net so. En in jou gebedslewe en jou liefde vir God ook. Elke dag tyd met God. Elke dag, elke oomblik Christus lewe. Maak nou die kopskuif dat jy onder die beheer van die Heilige Gees staan. En dat jy ook by jou werk steeds Christus kan dien. En al mag jy nie godsdiens praat nie, verseker ek jou as jy die volgende lewe, gaan almal dit raaksien: Dit wat die Gees in ons bewerk is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Ons moet die kompartemente weg vat. Ons tref teveel onderskeid tussen werk, huis, sport, kuier en en. Ons is een mens by die werk en ‘n ander by die pelle en ‘n ander by die huis. En Sondag is ons gelowig, en o ja, as die dominee huisbesoek by jou doen is mense ook baie meer gelowig as voor dit of selfs na dit. Maar jy is nie soveel mense nie. Jy is net een mens. Enkelvoud! En daardie mens is ter alle tye soos Jesus. Daardie een mens volg Jesus oral. Wees soos ‘n soldaat 24 uur per dag tot Jesus se beskikking. Wees soos ‘n boer elke dag besig om jou geloof te groei en soos ‘n atleet wat alles wat nie bydra tot jou groei nie afskud. Wees jy die mens in wie ander Christus duidelik kan sien. En wees dit orals.