Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
2 Timoteus 1: 3 - 14 Ek wonder wat sou Paulus vandag vir jou en my geskryf het? Sy lewe op aarde is amper op ‘n einde. Sy teregstelling is voor die deur. Hyself het geen berou of selfverwyte vir sy pad met Christus nie. Hy skryf: Ek het niks om my oor te skaam nie. En nou skryf hy vir oulaas vir Timoteus. Iemand vir wie hy lief was asof dit sy eie seun was. So ‘n mens verwag iets besonders. En ja die briefie beskaam nie. En dit laat my des te meer wonder: Wat sou Paulus vandag vir jou en my in ‘n afskeidsbrief wou skryf? My eerste gewaarwording is dat dit oor Jesus sou wees en oor ons getuienis taak. Dalk sou hy met pynlike presisie druk op wat agter baie van ons se stilswye oor Jesus en ons gebrek aan Christelike dade druk. Soos Paulus ook met Timoteus gedoen het. Wat weet ons van Timoteus? Hy was nog jonk op hierdie stadium. Sy ma was gelowig en sy het hom die geloofspad geleer. Sy gesondheid het soms gelol. En hy was bang. Ek het gedink dit is nie ‘n mooi ding om van hom te sê nie. Hy deins terug. Hy is skrikkerig, selfs bang. En tog diep komentaar na Bybel-komentaar dit op. Ons weet daar was teenkanting teen dit wat Paulus verkondig het. Van die Judaiste se kant. En daar was vervolgings gewees van Christene. Vanaf die Romeinse kant ook. Dit is die rede hoekom Paulus in die tronk is as ter dood veroordeelde. Is dit wat Timoteus terug hou? Skynbaar was Timoteus in ‘n krisis. Hy het in al die tye saam met Paulus krag kon put uit Paulus se teenwoordigheid en hulp. Hy kon agter Paulus staan en net sy leiding volg. Ja daar was geleenthede waar Paulus hom bv alleen na Efese gestuur het. Maar hier, met die druk hoog opgedraai, Paulus in tronk, is die jongman op die punt dalk om te onttrek. Wat skryf jy vir so iemand? 1. Ek dank God vir jou. Ek glo in jou. Onophoudelik, dag en nag, dink Paulus in sy gebede aan Timoteus. En hy dank God vir Timoteus. Hy dank God vir Timoteus se liefde, hy kon sien in die afskeidstrane dat Timoteus vir hom omgee. Ons neem aan dat dit was toe Paulus in hegtenis geneem is. En Paulus dank God vir die rivier van geloof stroom waarbinne ook Timoteus se geloof gevorm en ontwikkel is. Die geloof van sy ma en van sy ouma. Daar is ‘n stuk geborgenheid, gegrond wees, om te weet my geloof vloei in dieselfde bedding wat God geskep het vir my ouers. Sy pa word nie genoem nie, hy was ‘n Griek en waarskynlik dan ongelowig. Paulus praat mooi van Timoteus se geloof. Timoteus was op sendingreise saaam met Paulus. Hy ken die outjie se hart en oortuigings. Hy praat bemoedigend. Nie afbrekend soos vandag die mode is nie. Maar op ‘n mooi manier sê hy vir Timoteus ek het gesien jou geloof is opreg. Dit kom uit stoorkamer van opregte geloof, oa jou ma en ouma s’n. Ek sien God stap hierdie pad met jou en ek dank God vir dit en vir jou. Op hierdie pad, Timoteus moet jy fokus op God. 2. Fokus. Ek kon seker die woordjie “onthou” hier gebruik het. Onthou Timoteus, jou geloof. Onthou hoe ons jou die hande opgelê het toe jy jou roeping aanvaar het. Onthou die genadegawe wat God jou gegee het. Nou dit kan ‘n besonderse gawe gewees het soos in 1 Kor 12 se lysies. Of bloot net geroep om te verkondig en deur God toegerus. Fokus Timoteus. Fokus op God en wat God gee: geloof en gawes en roeping. In vers 9 God red. God roep. God wy ons toe aan Hom en Sy diens. God doen dit uit genade uit. Ek en jy het geen aandeel daarin. Die kommas in die vers lig dit duidelik uit. Vers 9 Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. God doen dit. God red en roep en wy ons aan Hom toe maar God doen dit nie op grond van ons dade nie. Jy kan nooit sê jy verdien die kans nie. Dit is alles net genade. ‘n Onbeskryflik kosbare geleentheid wat God ons gee. Die geleentheid kom te midde van ‘n wêreld wat nog altyd moeilik is en was en die Christendom verpes. Kan ek jou vra, waarop fokus ‘n mens? Fokus ‘n mens op die teenkanting wat daar is teen die kerk? Of teenkanting wat ons van mense verwag? Of moet ons fokus op die vervolging? Vir Timotheus van Romeine se kant af en dalk Jode ook. Vir ons: Die negatiewe in die media oor die kerk? Die hofsake teen godsdiens in skole? Teen die beoogde wetgewings teen die vry uitoefening van geloof. Wat is dit wat jou weerhou om as getuie van Jesus te leef en op te tree? Wat maak jou negatief oor die kerk? Dit is waarop jy nie moet fokus nie. Fokus op wat dit wat die Gees doen. En as ek kyk na wat die Gees doen dan sien ek dat die Gees verkondig Jesus. So, Timoteus, fokus op die Gees, en gaan sodoende aan met die uitdra van die evangelie. Jy moet Paulus en jou werk mee aangaan. In hierdie deur mekaar tye met al die spanninge wat daarmee saamgaan, waarop moet ons fokus? Of dalk waar is ons fokus tans? As ons soos Paulus glo dat Jesus die antwoord op die lewe is en dat Christus die oplossings inhou vir ‘n beter nuwer wêreld, moet ons dan nie besig wees, gefokusd besig wees, met die uitdra van die evangelie nie? En ek bedoel deur Jesus te leef en te praat oor wat Jesus in ons lewens doen. Waar is jou fokus tans? Volg jy net vir Jesus. Maak Hom jou fokus. 3. Daar is ‘n doel met jou lewe. Kyk weer na vers 9. Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het. Kyk na die drie woordjies wat sê wat God gedoen het. Die begin punt. Gered. Geroep. Toegewy. Deur God self. En ons praat ook van jou en my. Noem dit jou identiteit. Noem dit die doel van jou lewe. Die punt is dit is wat God in jou lewe nou wil sien gebeur. Dat jy Syne is deur wie Hy Sy hoop verder kan bring. Soos met Timoteus bestaan die gevaar dat geloof net daar kan stop. As Timoteus omdraai en wegstap, en Paulus word tereggestel, wat gebeur dan verder? ‘n Mens vra die vraag want die teks impliseer dit. En ja in vers 12 lees jy dat Paulus oortuig is dat God magtig is om dit wat Hy aan Paulus toevertrou het tot met die wederkoms instand te hou. Met of sonder Timoteus sou ek wou byvoeg. Maar Paulus dink nie so nie. Paulus in verse 8 en verder is reeds besig om vr Timoteus te sê blaas daardie vlammetjie van geloof weer aan in jou lewe soos jy ‘n vuur sou aanblaas. Gee aandag aan jou geloof en jou roeping. Raak besig daarmee. God het jou gered en geroep en toegewy om dit te doen. En so moet ons in ons eie gered en geroep wees opnuut besef daardie roeping is gevolg deur ‘n daad waarin God ons toegewy het aan Hom. Dit beteken soos ‘n priester wat eenkant gesit is en net moet fokus op die diens aan die Here. So is ek en jy wedergebore en toegewy, eenkant gesit, om net vir Jesus te leef. Ons ou gesegde: Jesus het gesterf as jy. Leef jy nou as Hy. Weet u wat is hartseer. Jy kan sien in watter kinders se lewe is die geloofstroom sterk vloeiend en in watter is daar nie ‘n geloofsrivier waarin hulle gevorm kan word nie. Ouers wat nie voorbeeld van geloof is nie. Ouers wat nie Jesus vergestalt voor die kinders nie. Gebrekkige verstaan van die Bybel. Oupa en Ouma, staan nader en wees die voorbeeld vir hulle, al is dit nie jou kleinkinders nie. Wees dit vir die gemeenskap se kinders. Wees Jesus by jou bure. Moenie hulle negatief hanteer of afkraak nie. Dalk weet hulle net nie van beter nie. Wys hulle die beter sodat jy later vir hulle van die beter kan vertel. Laat hulle Jesus beleef sodat jy hulle van Jesus kan vertel en aan Jesus kan voorstel. Om Jesus te ken is tog die mooiste en beste in ons lewens. Dit is hoekom Paulus kan sê “wat aan jou toevertrou is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon. Die Heilige Gees wat in ons woon. Volg Hom. Hy sal jou lei. Hy sal jou gee wat jy nodig het om te leef as iemand wat gered is, geroep is en aan God toegewy is. En onthou, die Gees van God maak ons nie lafhartig nie maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing. Jy het dit. Jy het die krag. Jy het die liefde, gaan leef die liefde. Jy het die selfbeheersing. Wat verhinder jou om te gaan?