Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kolossense 3: 14 – 15 Jy behoort. God sê jy behoort. Jy behoort nie net aan Hom nie, maar deur aan God te behoort behoort jy ook hier as deel van hierdie deeltjie van Christus se liggaam. Jy behoort! Kom ek vertel jou iets van die groep by wie jy nou behoort. Ons is mense wat deur God geroep en gered is en toe aan Hom toegewei is. God het ons geroep tot een liggaam. Christus se liggaam met Christus as ons hoof. En hierdie liggaam leef absoluut om God te verheerlik en te dien. Daarom gaan jy hier beleef, want dit is wat God hier wil sien, geduld met ook jou. En mense wat mekaar lief het soos Christus ons hoof ons liefhet en baie vrede. Die vrede wat ons Hoof ons gee. Verlede Sondag het ons gehoor hoe ‘n mens leef en optreë in God se koninkryk. En ek het afgesluit met: Het jy al gehoor dat iemand vir ‘n nuweling sê: Luister, hier doen ons dinge so!? Met die bedoeling as jy wil deel wees hier dan is dit hoe jy dinge sal doen. Mag ek nou vir ons almal dit sê: Hier is jy ‘n uitverkorene van God. Jy is ‘n deel van die uitverkore volk van God. En God het jou baie lief. Hier treë ons op en hanteer ons mekaar soos koninkryksmense. Hier is ons geduldig met mekaar en HIER het ons mekaar lief en HIER vergewe ons mekaar. Soos die Here ons vergewe vergewe ons mekaar. Want HIER het die koninkryk van God gekom. En hier hou ons God se Naam heilig en doen ons Sy wil. God het jou baie lief. Dit is die gemeenskap waarin jy jou nou tuis vind. En as deel van hierdie geloofsgemeenskap is dit ook jou identiteit. En dus wat jy nou leef. 1. Liefde Vanoggend 2 beelde. ‘n Goeie spoorsnyer kan vir jou baie vertel deur net na die spore te kyk wat iemand agter gelaat het. ‘n Spoorsnyer sal die spoor enige plek herken en sal ‘n prentjie begin vorm van jou gewoontes. En al verloor hy jou spoor sal hulle weet waar om te soek om die spoor weer te kan optel. As hy dus jou spoor moet sny, dan gaan hy begin opmerk, hierdie mens gee om vir ander; hierdie mens het lief en het geduld met medegelowiges. Hy gaan raaksien dat jy God lief het en dat ander, “mekaar” vir jou swaar weeg. Met hierdie beeld tel ons ook Jesus se spoor op in vers 14. En al gaan dit hier oor ons lewe as nuwe mense, kan jy Jesus se spoor nie miskyk hier nie: Ons moet mekaar liefhê. En jy sien Jesus raak in die hoe ons mekaar lief het. Jesus self het gesê “As julle mekaar lief het, sal almal weet dat julle dissipels van My is” Die tweede beeld: Met elke baba se geboorte begin die oumas en tannies praat oor na wie lyk die kind. Wie se trekke sien hulle raak in die baba. In groter kinders is dit makliker. Jy kan soms op ‘n myl ver sien na wie trek hulle. Ons is nie meer babas in die geloof nie. So ‘n bespreking van oor op wie ons trek is onnodig. Teen hierdie tyd moet jy op ‘n myl al kan sien ons trek na God. Jy kan iets van God se Vaderskap herken in hoe ons mekaar lief het. En jy kan God sien in ons geduld met mekaar en veral in hoe ons mekaar en ander vergewe. As jy die spoor fyner sny, of die gelaatstrekke mooi bekyk dan sal jy sien dat ons nie vyande het nie. Mense wat teenoor ons soos vyande optree, word bloot vergewe en liefgehê. Presies soos ons ons Vader sien doen het en self by Hom ervaar het. Van My is”.(Joh 13: 35) Laat ek dit tog maar sê: Nee, God het nie ‘n gesig soos ek en jy nie. God se “gesig”, dit waar aan jy God sal herken, is Sy liefde. En jy herken God se “gelaatstrekke” in hoe Sy kinders, hoe ons, lief het. As ons geduldig is met mekaar dan word God se gelaatstrekke duideliker in ons lewens. Want geduld is tog ‘n basiese aspek van liefde. As jy werklik lief is vir jou vrou of vir jou kind dan is jy geduldig met hulle. Anders is jy te lief vir jouself. En as ons mekaar vergewe dan volg ons in ons Here se voetspore van liefde, want is dit nie Sy groot groot liefde wat Hom kruis toe gedring het om vir ons vergifnis te gaan bewerk nie? Paulus gebruik in Efesiers 3 die mooi beeld van ‘n plant wat sy wortels stewig in die ryk groei medium instoot. En dan bid Paulus ook dat ons ons wortels al hoe dieper in God se liefde in sal stoot. God se liefde word die groei medium, die goeie grond, wat ons laat groei en laat vrug dra. En ons anker. Om lief te hê is ononderhandelbaar. Netsoos met die vergewe deel. Dit is van die basiese gedrag van koninkryksmense. Iewers lees ek hierdie week dat iemand gevra het op watter punt na haar bekering sal die vreugde van geloof in Christus deurbreek. En die antwoord was die oomblik as jy begin om ander lief te hê. As jy jouself in liefde gee vir ander. 2. Een. Paulus bring dit dieper in ons in: die liefde is die band wat ons tot volmaakte eenheid saambind. Die vreugde van Christen wees breek uit in jou as jy deur lief te hê jou plek volstaan in die een liggaam van Jesus. Onder Sy leiding as ons hoof. Ons kan nie eenkant alleen geloof wil uit leef nie. Kyk maar weer na vers 14: 14 ”Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.” Dis tog eintlik logies. Kyk na jou lyf. Jou liggaam is ‘n eenheid. Daar is nie stukke wat los rondswerf of agter bly as jy weg beweeg nie. Saam beweeg alles saam, werk alles saam. Dit is wat die beeld van die kerk as liggaam van Christus so sterk maak. Dit is nie iets wat ons net bely nie. Dit word hier geleef. En as dit nie so is nie dan moet jy jouself afvra waar is jy ten opsigte van Christus. Hy is die Hoof. Dit is Sy liggaam, ons is Sy liggaam. Die liefde waarmee God ons vul en wat ons onderling uit leef, is die band wat ons tot ‘n volmaakte eenheid saam bind. Die woord volmaak tref mens tussen die oë. En daarmee saam die feit dat dit ons liefde is wat dit vervolmaak. As ek vir ‘n oomblik hard kan wees: Kom oor jouself en jou eie ego en begin om almal in hierdie gemeente opreg lief te hê. Netso lief soos Christus jou lief het. 3. Vrede. En as daar ‘n haakplek kom, dan fokus jy op die vrede wat Christus tussen ons bewerk het. Sy vrede wat jou vul moet die laaste woord hê. Vredemakers is geseënd het die Here gesê. In Efesiërs 4 skryd Paulus dat ons die eenheid wat die Gees tussen ons gesmee het, moet handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Iets het verander, en dit is ons. Wat moet bly, nie verander nie is die vrede en die eenheid. Ons moet daarby inval, inval by wat die Gees doen en nie probeer om alles by ons te laat inpas nie. Ons ego’s, jou eie ek, moet gaan! Christus se ek moet bly. Onthou, Hy het in jou plek gesterf as jy. Jy leef in Sy plek as Hy! Jy is dood en begrawe. Christus leef. Dit wat jy nou leef is Christus Jesus wat in jou leef. Sy spoor is ‘n spoor van liefde en vrede en eenheid. Hy laat nie ‘n spoor van verwoesting na nie. Maar liefde. En aan ons liefde sal mense ons kan herken as God se kinders.