Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Kolossense 3: 12 – 13 Glo jy? Glo jy in wonderwerke? Kom ons kyk: Wie glo dat God mense kan verander? Glo jy dat God jou kan verander? Ons wil gewoonlik ander mense verander hê, God se wonderwerk moet hulle verander. Maar wat as God vanoggend by jou en my begin? Ek vra die vrae want hierdie deel gaan oor mense wat verander is en verder verander word deur God. In Vers 10 word gesê: “en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.” Die wonderwerk het reeds in jou gebeur. Nou gaan dit verder. Kyk na die werkwoord: al hoe meer vernuwe. Dit is iets wat aangaan. ‘n Proses wat besig is om uit te speel in jou lewe. Die goeie nuus is dat jy nie so hard op jouself hoef te wees nie. Ja jy is nie perfek nie maar jy is ‘n “work in progress.” En NEE, ons kan nie bly soos ons is nie. Want die vernuwing is nog aan die gang. So ons begin vanoggend met wie God sê jy nou is. Vergeet wie jy jouself laat word het, en vergeet daardie mens wat jy onder die druk en die invloed van mense geword het. Vers 12 “Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie liefhet. ...” Ek het so ‘n ‘n paar punte aan die einde gesit sodat ons bewus kan bly dat die vers aangaan. 1. Is. Julle is. Jesus het gesê julle is die sout vir die aarde. En Jesus het ook gesê julle is die lig vir die wêreld. Dit is wie jy in Jesus se oë is. Dit is wie Hy jou herskep het. Paulus sit sy stem hierby en sê julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Mag ek vra: Wat beteken hierdie woorde van Jesus en van Paulus vir jou? Wat beteken dit vir jou om te hoor ook jy is uitverkies deur God. ‘n Deel van God se uitverkore volk? Hoe voel dit om te hoor God het jou baie lief? Hoe verander dit hoe jy jouself sien? Op ‘n manier word ons uitgedaag om nou op te staan om getel te word, by wyse van spreke, en om nader te staan en verantwoordelik te wees vir die uitleef van wie Jesus ons maak. Ons word uitgedaag om te word wat God ons reeds gemaak het. Om te leef as uitverkorenes. Op skool, as jy hoor jy is gekies om in die eerste span te speel, dan het iets hierbinne in jou verander. En die ander het anders na jou gekyk. En jy het hierdie besef gehad ek sal nou eers hard moet werk en my beste moet gee om hierdie verkiesing waardig te wees. En hopelik het jy nederig gebly. Hoor net weer dat jy deel is van God se uitverkore volk. Jy is eerste span. God s’n. God het jou baie lief. Hierdie deel is nie daar vêr – iets vir kennis name of ‘n interesantheid nie. Dit is vir jou hart om in te neem. Jou eie te maak. Dit is hoe God oor jou voel. Dit is hoe God jou sien. Ook jy, ons, is die uitverkore volk van God vir wie Hy baie lief is. Moenie gaan staan en wegraak in die bondel nie. Dit is nie waarvoor jy gekies is nie. Ons was dit nie altyd nie. Dit was nie wie ons nog altyd was nie. Paulus sê dit duidelik in vers 7. Vroeë was julle ook so ... het julle ook meegedoen aan die wêreldse maniere. Vroeër was ons ook gierig. Het ons ook slegte begeertes gehad. Ons het gevloek. Ons woedebuie ken ons ook, maklik kwaad geword en almal dit laat ontgeld. Jaloers. Ons het selfs mense gehaat. En die wat ons nie gehaat het nie het ons ‘n veer voor gevoel. Niks. Maar dit is nie meer wie ons is nie. Dit is nie wie jy nou is nie. ‘n Wonderwerk het plaasgevind. God het jou verander. Jy is deur Jesus gered en deur die Heilige Gees wedergebore. Jy is saam met Christus uit die dood opgewek (v1). Nou strewe jy na wat vir Christus belangrik is. “Julle is die uitverkore volk 2. Daarom. In ‘n nuwe land leer jy nuwe tale en nuwe gebruike aan. Rusland vir een, as jy jou elementere taaltoets dop is jy uit. In ons geval leer ons die koninkrykstaal aan. Die taal van liefde en vergifnis. Van geduld en vriendelikheid. Die vrug van die Gees as jy dit so wil uitdruk. Ons leer om mense so te hanteer, soos Jesus ons hanteer. Ons leer om te vergewe soos Jesus ons vergewe het. En ons het alle mense lief soos Jesus ons lief het. Paulus noem hier 5 dinge wat ons gaan help om geduld met mekaar te hê en om mekaar werklik te kan vergewe. Wat ons moet raaksien is: Dieselfde 5 woorde word gebruik om God e se optrede te omskryf en dieselfde 5 woorde beskryf Christus. Ek en jy word geroep om dieselfde kenmerke uit te leef as wat God in Sy besig wees met ons uitstal. Maw Gaan doen soos Christus. • Meelewend: Die Griekse woordjie dra iets van die hart, om uit die hart uit met iemand saam te leef. Diepe meegevoel. • Goedgesind: Dit is die teenoorgestelde van kwaadwillig. Tot hulp bereid. Bereid om te vergewe, nog kanse te gee. • Nederig: Ander hoër te ag as jouself. • Sagmoedig: Mekaar te help sonder om te oordeel. (Prof IJ du Plessis se definisie) • Verdraagsaam: om met geduld met mense om te gaan. Ons leer dit by God vanuit hoe Hy met ons is. Ons leer dit namate ons ons eie diepgesetelde gebrokenheid in die oë kyk. ‘n Nuwe Christen het dit nie. ‘n Ouer een wat diep bewus is van hul sondige aard, ken dit. Hierdie gebrokenheid wat maak dat jy jou niks aanmatig nie maar eerder nederig bly, vol verdraagsaamheid want sukkel jy ook nie maar ook met sekere dinge nie. 3. Mekaar. Drie keer in vers 13 en nog ‘n keer in vers 14 duik hierdie woordjie op. Christenskap word nie alleen eenkant uitgeleef nie. Dit word tussen mense saam met mense geleef. En in hierdie saam wees kom die wederkerige woordjie voor: mekaar. Wedersyds. Oor en weer. Ek vir jou en jy met my. • Geduldig met mekaar • Vergewe mekaar • En dan weer ‘n keer vergewe mekaar. Maar hierdie keer met ‘n maatstaf by. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. • En in vers 14 “Bo dit alles moet julle mekaar liefhê.” Dit is hoe ‘n mens leef en optreë in God se koninkryk. Het jy al gehoor dat iemand vir ‘n nuweling sê: Luister, hier doen ons dinge so!? Met die bedoeling as jy wil deel wees hier dan is dit hoe jy dinge sal doen. Mag ek nou vir ons almal dit sê: Hier is jy ‘n uitverkorene van God. Jy is ‘n deel van die uitverkore volk van God. En God het jou baie lief. Hier treë ons op en hanteer ons mekaar soos koninkryksmense. Hier is ons geduldig met mekaar en hier het ons mekaar lief en hier vergewe ons mekaar. Soos die Here ons vergewe vergewe ons mekaar. Want hier het die koninkryk van God gekom. En hier hou ons God se Naam heilig en doen ons Sy wil. God het jou baie lief.