Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 14 en voetnota by 13 Dit is pinkster vandag. Die uitstorting van die Heilige Gees. Vergun my om eers te praat oor die Heilige Gees want Hy maak die uitlewing van die ons Vader gebed moontlik. Dit is Hy wat in ons uitroep “Abba” wat beteken Vader. Om vervul te word met die Heilige Gees beteken nie dat ek meer van Hom moet kry nie. Dit beteken die Heilige Gees moet meer beheer oor my lewe verkry. Hy neem dit nie met geweld nie. Hy gaan jou nie in 'n kopklem vat en druk op jou plaas nie. Hy is nie verleë oor jou nie. Jy kan nie sonder die Heilige Gees nie. Hoe meer ek hieroor dink hoe meer besef ek dit gaan alles oor beheer. En solank jy in beheer wil wees gaan God jou in beheer laat wees. Met al die gevolge wat daarmee saam gaan. Dan gaan jy bitter min beleef van wat die Heilige Gees in jou wil doen. In jou koninkrykie gaan ja altyd maar sukkel. God se manier was nog altyd dat ons Hom op Sy Woord moet neem. Om absoluut te glo dat Jesus weet wat reg is. En daarom bly jy in wat Hy geleer het. En daarom volg jy Jesus se voorbeeld na. Jy doen soos Jesus gedoen het. Want jy het verstaan toe Hy gepraat het van die wingerdstok en die lote, dat Hy bedoel het jy moet Hom so nougeset volg dat Sy krag en Sy wysheid in jou are kan klop. Maar dis moeilik. Mense maak jou kwaad. Hulle treë onnosel op. Ander se selfsug maak jou lewe moeilik en baie dae is dit moeilik om Jesus se pad te stap. Boonop is die druk op jou want die kinders moet rondgery word, die baas soek meer as sy pond vleis. En soveel dinge moet net gebeur dat mens min tyd het vir Bybel lees. Dit is hoekom ons hierdie week so gebid het, eintlik gepleit het dat God Sy Naam in ons geheilig geleef sal word; dat God Sy koninkryk in ons sal laat kom en dat God sy wil in ons lewens sal laat geskied. Want ons weet, uit dure ondervinding uit, ons gaan dit nie uit eie krag uit reg kry nie. As jy nou dink aan Petrus wat vas oortuig en vas belsote was dat hy saam met Jesus sou tronk toe gaan, saam met Jesus sou sterf as dit moes, en toe die oomblik kom toe kon hy nie. Maar na die uitstorting van die Heilige Gees kon hy. Toe staan hy op en hy reek onverskrokke die einste Jesus wat Hy maande voor dit verloën het. Die verskil is die Heilige Gees. Die Heilige gees is die Een wat in ons lewens die onse Vader gebed uit werk. Hy laat die koninkryk van God in ons kom. Hy lei ons om God se wil te doen en gee ons die krag daartoe om dit te leef. Die Heilige Gees is die Een wat die woordjie “laat” in die ons Vader gebed moontlik maak. Kom ek wys u ‘n paar aanhalings uit Johannes 16: Johannes 16: 8 “En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.” Wie, of laat ek eerder vra, hoe sal ons by die punt kom waar ons ons sondes bely. En hoe sal ons oortuig word om ander te vergewe? Ons verdedig dan onsself ten alle koste? Pinkstergebeure, die Heilige Gees wat in elke gelowige kom woon en werk, maak dit vir ons moontlik om soos Jesus te kan vergewe. Johannes 16: 12 “Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle sal dit nie nou kan begryp nie. Wanneer Hy kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei. Wat Hy sal sê, sal nie van Homself kom nie: Hy sal net sê wat Hy hoor, en Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle verkondig. Hy sal My verheerlik, want wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle verkondig.” Die Heilige Gees sal ons dieper in Christus se waarheid lei. In Johannes 14 het Jesus gesê dat die Heilige Gees ons net sal leer en ons herinner aan alles wat Jesus geleer het. So bring die Heilige Gees ons terug na iets wat Jesus geleer het net na die Onse Vader gebed. Iets wat ongelooflik belangrik is vir God. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” Mag die Heilige Gees ons vanoggend oortuig dat ons mekaar, of wie ookal jou so die vieste in het dat jy ‘n wrok of selfs net negatiewe gevoelens in jou ronddra, om vir eens en vir altyd daardie mens of mense te vergewe. Dit is in die sondige mens se aard om nie te vergewe nie. Selfs die Jode het geleer ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand. Wraak neem. Terug kry, ja, maar nie vergewe nie. Jesus kom leer vergifnis. Jesus kom beliggaam vergifnis. Selfs aan die kruis toe die Gariseers en priesterhoofde en verby gangers Hom gespot en uitgelag het, het Hy gekies om uit te roep, te bid: Vader vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie. Onthou nou ook hierdie verse wat ek nou haan opsit is vasverbind aan die ons Vader gebed. Dit is ‘n verdere uitligting van iets waarvoor ons reeds oor gebid het. Dit is ook deel van God se wil ... en onshet gebid dat God se wil op dieselfde standaard as in die hemel deur jou en my nagekom sal word. “As julle ander mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle ander mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” Dit is iets wat ek en jy moet doen. Dit is God se wil dat ons moet vergewe. Maak nie saak hoe erg dit was wat jou aangedoen is nie, jy moet daardie persoon of persone vergewe. As jy dit nie doen nie dan gaan God jou ook nie vergewe nie. Kom ek sê jou wat vergifnis nie is nie. Vergifinis praat nie die verkeerde goed nie, is nie algemene kwytskelding nie, is nie toestemming om weer seer te kry nie, is nie gelyk aan tyd genees alle wonde nie. En nee, vergifnis is nie afhanklik van iemand anders se verskoning of nie. Vergifnis is ‘n keuse wat jy maak, diep bewus van dit wat jou aangedoen is, maar jy kies om die reg op bitterheid en wraak prys te gee. Vergifnis is barmhartigheid en genade in aksie. Dr Hennie Kotze sê vergifnis is ‘n innerlike toestand. En dikwels ‘n proses. Dit gaan nie oor die ander persoon as sulks nie. Jy laat jouself vry uit die tronk uit. Om nie te vergewe vat baie emosies en energie. Deur te vergewe stel jy jouself vry om al daardie emosies en energie beter te benut. Kom ek illustreer dit gou. Sal iemand my kom help. (Hou soos geweer in rug. Jy wil daardie persoon gevange hou. As hulle links beweeg moet jy ook beweeg. Regs dieselfde. Jy moet die heeltyd jou aandag by hulle hou.) Vergifnis begin by God. Vergifnis wys dat jy deur God vernuwe is en dat jy kies om eerder binne God se wil ‘n koninkrykslewe te lei. Om te vergewe wys dat jy al hoe meer word soos Jesus. Dat Jesus se lig deur jou skyn. En dit is deel van hoe ons God eer. Ten laaste: “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” In die oudste weergawes van Matteus ontbreek hierdie deel. Die tekskritiek reëls leer dat die oudste manuskripte wat mekaar ondersteun waarskynlik die mees korrekte weergawe is. Latere tekste bevat foute en gewoonlik invoegings. Die bede “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen” kom wel in manuskripte van die tweede eeu voor. Daarom is dit deesdae net as ‘n voetnota gedruk in ons Bybels. Omdat ons met dit groot geword het in die 1953 vertaling, en in die Heidelbergse Kategismus, sluit ons hiermee af. Die Heidelbergse Kategismus, Sondag 52 vraag en antwoord 128 vra: Hoe sluit jy jou gebed af? Dit is ‘n persoonlike vraag. Hoe sluit jy jou gebed af? Die onse Vader gebed begin met God in die hemel, maak ‘n draai deur ons aardse en eindig weer met hierdie laaste frase by God. Kan ek sê: God omvou ons.? Eintlik, dink ek, vra die Kategismus bloot of jou hart nou so gevul is met hoop dat jy in verwondering wil uitroep “Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen”