Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 13 Versoeking. Die ons Vader gebed begin met die grootheid van God en “eindig” hier met die swakheid van die mens. Dallas Willard het dit vir my treffend gestel: Moet ons asb nie toets nie!!!! William Hendricksen weer het geskryf: As dit U wil is laat ons nie in situasies beland waar ons blootgestel kan word aan versoeking wat ons kan laat struikel en val nie. Want ons is swak en geneigd tot sonde. En hou die Bose van ons af weg. Albei wys daarop dat ons nie moet dink ons kan nie val nie. Dit is makliker as wat ons dink. En dit is gewoonlik as dit goed gaan dat ons seker is ons sal staande bly. Kyk maar na Jakobus en Johannes: So Jakobus en Johannes het by geleentheid na Jesus gekom en gevra: “Wanneer U as Koning heers, laat ons dan langs U sit, die een aan U regterhand en die ander aan U linkerhand.” Jesus het gesê dat hulle nie weet wat hulle vra nie. En gevra “kan julle die lydensbeker drink wat Ek drink, of met die doop gedoop word waarmee ek gedoop word?” (Mark 10: 35 ev). Waar was die twee toe die soldate en tempelwag in Getsemane gekom het om Jesus te vang. En waar was hulle tydens Sy verhore en kruisiging? Dit pas by ons om nederig te wees. Absoluut oortuig dat net God ons sal kan staande hou. Wat vir my kosbaar is is dat Jesus geweet het Petrus sal in al sy sekerhede Hom verloën en voor dit nog ter sprake gekom het reeds gebid het tot God (Luk 22:31) dat Petrus se geloof hom nie sal begewe nie. Ons volg in Jesus se voetstappe hier.Ons bid ook om staande te kan bly. Net ons bid dit vir onsself eerste en dan ook vir ander. Die ons gee tog erkenning aan die feit dat elke ander mense net soos ons vatbaar is vir sonde en struikeling in die geloof. So ons bid dit vir ander ook. Vir mekaar. Hierdie bede gaan oor wanneer slegte dinge met ons gebeur. So ons bid dat God ons bewaar van sulke krississe en pyn. Want dit hou die potensiaal in dat ons opstandig teen God kan raak of sonde doen. Dit is ook ‘n bede teen die Bose. Teen die duiwel en alles wat hy probeer doen. Veldkamp in sy komentaar op die Heildebergse Kategismus praat van ‘n baie ongelyke stryd waarin ons gewikkel is. Dat ons elke oomblik bestook word deur ‘n oormag wat met mag en lis ons bedrewe toetakel. Ons het hulp nodig. Ons is besig om hier te bely dat ons nie die druk van die lewe altyd kan hanteer nie. Ook nie die aanslae van die duiwel nie. En dat lyding en swaarkry nie goed met ons akkordeer nie. Dit is soos ‘n “no-confidence vote” in on self. Ons is werklik in alles afhanklik van God. Die grootste fout om te maak is om te dink ek kan op my eie glo. Ek kan uit eie krag die pad met God loop. Ek kan nie. Hoe meer ons die bede bid hoe meer raak ons bewus dat God ons wel beskerm van baie teenspoed en pyn en siektes. En van die Bose. En ons ontdek dat slegte dinge wel gebeur in ons lewens. Niemand word dit vrygeskeld nie. En tog ontdek ons ook dat God ook Sy hand oor dit hou. En dat wanneer die goed gebeur is die lydende Jesus reg daar by ons. Ons is nie alleen nie. Ons kry krag. Dit is as ons op ons swakste is dat God op Sy sterkste in ons werk. Ons ontdek dat elke ding wat gebeur deur God gebruik word in ons lewens. (Romeine 8: 29) Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. Goed gebeur. Die lewe gebeur. Maar ons is nooit alleen daarin nie. En God het ‘n visie waarheen Hy met ons oppad is. Om gelykvormig te word aan die beeld van Sy Seun. Iemand het eendag vir Coert Steynberg gevra hoe kry jy ‘n perd uit ‘n blok graniet. Hy het geantwoord dat jy alles wat nie soos ‘n perd lyk nie wegkap. Tot net die perd oorbly. As ek nie Jesus volg nie en nie wil groei nie dan word daar gesnoei. Snoei is nooit lekker nie. Maar dit bring vrugte voort. Dit is beter as om glad nie meer aan die wingerdstok verbind te wees nie. Dink in terme van Johannes 15. Jesus leer ons dat lyding en swaarkry is nie hoe God met ons wil werk nie. Dat God eintlik ‘n lewe vry van sulke dinge wil gee. Die nuwe hemel en nuwe aarde se omskrywing in Openbaring 21 wys dit ook uit. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan.” Ons bid daarom dat God ons sal bewaar. ‘n Nota: God self versoek ons nooit nie. Jakobus (1: 10 ev) was duidelik hieroor: Gelukkig is die mens wat in versoeking standvastig bly. As hy die toets deurstaan het, sal hy as oorwinningsprys die lewe ontvang wat die Here belowe het aan dié wat Hom liefhet. Iemand wat in versoeking kom, moet nooit sê: “Ek word deur God versoek” nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar 'n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood. Sien u die toets deel? Sien u ook hoe maklik ons dit skeef laat loop. ‘n Begeerte wat kos gegee word en groei en dan weg hardloop met ons. Dit is waarteen ons bid. Die Heidelbergse kategismus sê ook dat God ons bevry van die Bose. En net voor dit dat ons nie aan onsself behoort nie maar aan Jesus ons getroue verlosser. Ek glo dat Jesus my ook van myself moet verlos en bewaar. Van die destruktiewe verkeerde keuses wat ek so maklik maak, en so maklik vir versoekings kan val.