Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6: 12 Vergeef ons ons oortredinge Die heel week was dit vir my opmerklik dat ons nêrens iets doen nie. Ons bid laat U Naam geheilig word; En ons vra laat God se koninkryk mag kom en ons pleit dat God se wil geskied. En dan kom vra ons nog boonop vir dit wat ons nodig het om te leef. Maar wat doen ons? Toe ons kinders kleuters was sou ons vir hulle gesê het “omdat jy is en omdat ek jou liefhet hoef jy niks te doen nie. Ons geniet jou. Wees net by my.” Ek beleef met God dieselfde. Hy wil ‘n verhouding met ons hê. Kyk maar na Genesis en hoeveel ander dele. Maar kom ons antwoord tog die vraag. Want hierdie bede sê duidelik dat ons iets het om te doen. Hierdie bede sê ons moet glo: • Ons moet glo in Glo en dat God ons wel sal vergewe in Jesus Christus. Dit is goed om te onthou dat vergifnis kom teen ‘n prys. God se vergifnis aan ons het Sy Seun se lewe gekos. • Ons moet ander vergewe. Ons moet gaan doen soos God doen. In hierdie geval ons moet gaan vergewe soos God vergewe. Ons gaan dit nie regkry nie. Ons weet dit. Ons het dit waarskynlik op die harde manier al geleer dat dit nie maklik is om mense te vergewe nie. Daarom leer Jesus ons iets baie belangriks: Bid dat God jou kan help om ander te vergewe soos God jou vergewe het. Maw jy vra dat God jou sal leer om ander te vergewe uit hoe Hy jou vergewe het. Ons maak nie hier net ‘n voorneme om te vergewe nie. Ons vra hulp om dit te kan regkry. God se vergifnis staan altyd eerste. Ons begin altyd weer by God en by wat God doen. By God leer ons dat die persoon wat ek sukkel om te vergewe, of dalk weier om te vergewe omdat wat hulle gedoen het vir my net te groot en weersinswekkend was, netso min verdien om vergifnis te ontvang as wat ek dit verdien. Kom ons stop vir ‘n oomblik. Tot hiertoe het God ons eerste vier bedes verhoor. God het ons so vernuwe dat Sy Naam heilig is vir ons en ons alles in ons vermoeë sal doen om dit heilig te hou in ons lewe. En ons is reeds so ingetrek in God se koninkryk in dat ons daagliks leer hoe om as koninkryksmense te leef. En om God se wil netso volledig te doen as in die hemel word elke dag meer en meer ons hartsbegeerte. Ons kom by die tyd agter dat ons in die basiese middele elke dag genoeg het. Want ons ontdek daagliks hoe God ons versorg. God het so ‘n skuif of verskuiwing in ons lewens bewerk dat ons nou nie anders wil as om as nuwe mense God se pad van vergifnis te kies nie. Ons is rypgemaak vir liefhê en vergewe. Ons DNA is herstel tot liefhê en vergewe. Ek sê dit omdat ek glo dat ek verhoor is en dat God, omdat ek volgens Sy wil gebid het, dit vir my so laat wees het. Ek is verander. As ek in die koninkryk om my kyk en in my kyk dan sien ek sonde in my raak. Ek besef tot my hartseer ek oortree teenoor God en teenoor God se ander kinders. En teenoor wêreldse mense. Dit pla ons. So ons vra om vergifnis en God gee dit. Ons vra letterlik Here, moet ons nie hanteer soos ons verdien nie!” Moet ons nie straf vir dit wat ons verkeerd doen nie!” En God in Sy groot liefde en genade verhoor ons gebed en vergewe ons in Christus Jesus. En netso voor jy wil weg stap sê Hy: Gaan doen jy netso. Gaan vergewe daardie lysie mense wat jy ‘n wrok teen hou. Soos Ek jou vergewe het. Onvoorwaardelik. Moenie langer hulle foute teen hulle hou nie. Moenie hulle om elke hoek en draai wil probeer straf nie. Sal jy kan? Nee. So ons bid vir hulp. Nee. Dit vat nie die natuurlike oorsaak en gevolg weg nie. Die reg moet bv sy pad loop. Jy moor of verkrag. Jy gaan tronk toe. Ons gaan net nie langer wat hulle gedoen het woonplek in ons lewens gee nie. Ons gaan nie meer van ons hart ‘n moordkuil of ‘n tronk maak nie. Nee, met moordkuil bedoel ek nie jy kan nou laat waai en hulle met woorde uit mekaar skeur nie. Ek bedoel dat jy soos God jou vergewe het nie meer teen hulle sal hou nie. Jy laat dit gaan. Jy laat God se helende genade jou herstel. Dit is soos ‘n tronk waaruit jy bevry word. Kom ek illustreer dit prakties: As ek dinge teen my oortreder hou dan is ek in die tronk. Dis moeite om dit die heeltyd teen so ‘n mens te hou. Bv druk stok teen iemand se rug, as hulle links beweeg moet jy skuif om die stok in plek te hou, ens. Dit vat energie om te haat. Dit vat tyd om mense terug te kry. En ja dit vat ook moeite om nie te haat nie. Die vraag is nie of hulle dit verdien nie. Geen een van ons verdien genade nie. Geen mens verdien genade nie. Ons verdien ook nie beter nie. Ons toestand is verdoemend. Moet nie vir een oomblik dink ons verdien beter nie. Ons verdien niks. Jammer as ek my sterk uitspreek maar dit is die waarheid. Gaan lees maar net Romeine 3. En in Efesiers 2 sê Paulus baie mooi dit is alles net genade. Net God wat ons maak wat ons vandag is. God se liefde en goedheid wat ons in Christus Sy kinders maak. Ek moed dit ook sê: As jy God se kind is en wil leef as ‘n koninkryksmens dan moet jy vergewe. As jy self vergifnis wil hê dan moet jy die pad van om ander ook te vergewe begin stap. Biddend dat God jou moet help. Kom ons raak baie prakties vandag. (Met dank aan dr Hennie Kotze) Jy het hierdie velpapier ontvang met kolomme op. • Kolom 1: Wie. Wie is verantwoordelik vir jou pyn? • Kolom 2: Wat het gbeur? • Kolom 3: Wat is die effek van wat met my gebeur het? • Kolom 4: Identifiseer die emosies wat betrokke is? Bv vernederd gevoel. Haat en bitterheid moet ook hier wees. Moet dit nie vinnig vinnig wil afhandel nie. Vat tyd. Doen dit ordentlik. Hier begin koninkrykslewe. Vergewe sodat jy jou vergifnis “volledig” kan maak. En as jy klaar ingevul het: dan bid jy. En as jy die persoon vergewe het dan bid jy: Here vergewe my my haat en woede en watter emosies jy daar genoem het. Vat hulle een vir een. Neem dit tyd en doen dit volledig. Op die einde is daar nog ‘n letsel maar dit is nie meer ’n wond nie. Dit bloei nie meer nie. Die pyn is weg. Dit is vir God belangrik. Doen dit asb ordentlik. Sodat ons as gemeente ook kan begin om alle mense ordentlik en na behore lief te hê. Laastens wil ek hê jy moet iets fisies gaan doen bv. • Vat die papier en gaan brand dit. • Of Stap in die veld in. Skryf die name neer van almal wat jou seer gemaak het op klippe. Gooi daardie klippe dan sover jy kan. En stap weg. • Of was jou hande in skottelwater as ‘n simboliese gebaar dat jy dit nou finaal van jou afwas. En gooi die water buite op die gras uit. Jy vergewe die persoon en jy vra vergifnis by die Here vir jou woede of haat of wat ookal. Mense wat nie wil vergewe niie is bang vir die pyn . Hulle wil nie die waarheid in die oë kyk nie .. Die feit dat hulle steeds in ‘n tronk sit. Dit is God se wil. Gaan vergewe.