Datum:
Prediker:
Skrifgedeelte:
Tema:
Boodskap:
Matteus 6 Daagikse brood. Ons Vader. Die frase moet ons nooit vergeet nie. Ons Vader. Met die klem op Vader. Dit is gebore in die kruisiging van ons Here, as ek dit so mag uitdruk. Sy kruisdood en opstanding het dit moontlik gemaak dat ons deur geloof deur God aangeneem kan word as God se kinders. En dat ons mag bid ons Vader wat in die hemel is. Wetende dat dit ook is waarheen ons op pad is. Ons is op reis met Jesus na ons Vader in die hemel. Ek het met die lees gewonder, waaroor is kleuters bekommerd? Wat laat kleuters nagte wakkerlê? Ek kon nie eintlik aan iets dink nie. Dalk as maatjies by die kleuterskool lelik is. Maar ek twyfel. Wil Jesus nie dieselfde vir ons sê? Moet jou nie bekommer oor wat jy more gaan eet of gaan aantrek nie. Julle hemelse Vader weet wat julle nodig het nog voor julle Hom daarvoor vra. Jesus het dit gesê vir arm mense wat nie seker was of hulle vandag enigiets gaan hê om te eet nie. Dit laat my des te meer regop sit. Moet jou nie bekommer oor wat jy gaan eet of gaan aantrek nie. As ek kyk na waar hierdie bede “gee ons vandag ons daaglikse brood” inpas, dan sien ek dat Jesus dit plaas na dit wat God wil hê. Eers God dan ek. Eers God dan ek. En dit is reg so om twee redes: Ons lewens gaan oor God. Ons leef om God te verteenwoordig en te verheerlik. Die tweede rede is prakties: Ek kan God eerste stel, in my gebede ook, WANT, want ek weet dat dit wat ek nodig het geniet reeds ons Vader se aandag. ‘n Kleuter weet pappa en mamma sal sorg. Daarom slaap hulle in die nag. En as hulle bang raak dan is mamma net ‘n roep weg. Op daardie punt: Weet u wat, bang is aangeleerde goed. ‘n Pap baba is nie bang nie. Niemand het hulle nog geleer om bang te wees nie. Gee ons vandag ons daaglikse brood. Letterlik in die Grieks: Ons daaglikse brood, gee ons. Ons kan nie hierdie bede wil bid sonder geloof in God nie.Sonder die geloof dat God ons Vader kan en wil ons gebed verhoor. Geloof maak die skuif in ons lewens. En asseblief die klem is nie op ons geloof nie. Die klem is steeds op God. Ons word as’t ware uitgenooi om soos Jesus totaal op God te vertrou. Om soos Jesus te glo. Nie net in Jesus te go nie maar ook soos Jesus te glo. Jesus het by geleentheid ‘n paar broodjies geneem, God gedank en ‘n skare mense kos gegee daarmee. Ons. Dit gaan nooit ooit oor onsself nie. Ons is altyd deel van Jesus se liggaam. Ons is altyd verbind aan iemand. En ons treë altyd op onder ons hoof, Jesus se beheer. As ek bid vir ons daaglikse brood dan bid ek vir ander se basiese behoeftes ook. Met brood word bedoel dit wat ek vir vandag se oorlewing nodig het. Ek kon nie help om te dink aan twee goed wat ek deur die jare gelees het nie. Die eerste is van ‘n katolieke priester Sep Anthover, wie se lewens motto is: “I live a simple life, so that others simply may live.” “Ek leef ‘n eenvoudige lewe, sodat ander eenvoudig die geleentheid kan kry om ook te leef.” Leef minder luuks en minder rojaal sodat jy ook kan meehelp dat ander darem die mees basiese op die tafel sal kan hê. Sommiges het die lekkerte van gee vir die Here en van gee vir ander, verloor. Die tweede was Veldkamp. ‘n Nederlandse teoloog in ‘n kommentaar op die Heidelbergse Ketegismus, spesifiek tov die ons Vader gebed. Hy het geskryf dat as ek bid gee ons vandag ons daaglikse brood dan bid ek ook vir die landbouer wat die koring verbou het en die meulenaar wat die koring gemaal het en die bakker wat die brood gebak het. As jy dit so bedink dan bid mens ruimer as net vir jou eie behoeftes. Gee. Gee leer ons om weer anders te dink. Ons maak met hierdie bede ‘n belydenis. Ons is besig om vir God en vir mekaar te sê ons is afhanklik van God. Dit is God wat vir ons sorg. Dat dit God is wat ons gee wat ons nodig het. Ons leef in ‘n tyd en era met sieninge waarvan ek glo die Here al in Moses se tyd gewaarsku het. Toe het Hy, in Deutronomium gewaarsku dat in die beloofde land hulle nie moet begin dink dat hulle alles self verwerf het nie. Hy het gesê hulle moenie vergeet dat dit die Here jou God is wat jou al hierdie dinge gegee het. Deutronomium 8:12 ev ” As jy nie gehoorsaam is nie, kan dit gebeur dat jy genoeg eet en mooi huise bou en rustig woon, dat jou grootvee en jou kleinvee baie word, dat jou silwer en goud vermeerder en jou besittings al hoe meer word, en dat jy dan hoogmoedig word en die Here jou God vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het.” Vandag dink ons dat dit wat ons het is te danke aan ons harde werk. En ons is ingestel op rykdom vergader, en voorsiening te maak vir die oudag en vir sou ons ons werk verloor. En op die end dink jy aan alles wat jy opgespaar en belê het. En raak jy krampagtig met jou hande toegeklem want ek het nog nie genoeg weg gesit vir eendag nie. Die probleem is nie die voorsorg tref nie, maar die hart wat die Here vergeet en te besig raak vir getrouheid aan die Here. En so minder bid, minder afhanklik word, minder glo. Dit wat ek reeds ingesamel het vir more en oormore ook moet nooit word dit waarop ek staat maak nie. Ons vertroue bly op de Here wat more by my sal wees en oor more ook. Dieselfde kan ek nie sê van dit wat ek ingesamel het nie. Die realiteit is dat die Here kan Sy beskermende hand more weg trek, die markte kan in duie stort, en wat dan? Deur die Here se genade is ons wat en wie ons is. Deur die Here se genade eet ons nog, het ons dakke oor ons koppe en warm klere. Daarom is dit is ons belydenis dat dit God is wat ons versorg. God wat ons die krag en gesondheid gee om mee te werk. God wat vir ons geleenthede gee. God wat ons help as ons moeg en moedeloos is. God wat vir so vir ons sorg dat ons ook vir ons oudag voorsiening kan maak. Ons is nie soos die ryk dwaas in Jesus se gelykenis wat nog groter skure wou bou en dan terugsit en niks doen en lekker leef nie. God het dit van hom weg geneem (Lukas 12: 16 – 21). Die slotsom is daar: “S ogaan dit met hom wat vir homself skatte vergader en nie ryk is by God nie. Ons weet ons het God nodig. Ons weet ons kan nie sonder God leef nie. Daarom bid ons en bid ons ook hierdie bede van die Ons Vader gebed uit ons harte uit. Die ons Vader gebed bring ons terug in nederige afhanklikheid voor God. Dit gryp my aan dat Jesus hierdie gebed geleer het vir mense wat nie seker is waar hulle volgende maaltyd vandaan gaan kom nie. Ook die verse wat sê moet jou nie bekommer oor wat jy more gaan eet of aantrek nie ... is gesê vir mense wat in armoede geleef het. En Jesus? Hy het so op Sy hemelse Vader vertrou dat Hy self as mens op aarde niks besit het nie, dalk net die klere aan Sy lyf. En God het gesorg. Vandag. Soos die eerste hoorders van Jesus wat nie geweet het waar die volgende maaltyd vandaan gaan kom nie en of daar iets gaan wees, word ons gewys dat dit om vandag gaan. Vandag is belangrik. More kom dalk nie vir ons nie. More ruineer die Regerings se besluite, die petrolprys stygings en ‘n Rand wat val ons heeltemal. Daar was ‘n gesegde in Engeland in die vorige eeu dat geen mens se eiendom, huis of geld veilig is as die regering in sitting is. Ons beleef dit ook so. Dit is nie bedoel om jou bang te maak nie. Dit sê bloot God wil elke dag met ons praat. God wil elke dag ons sien draai na Hom toe en vra oor dit wat ons op hierdie dag nodig het. As jou kinders uit die huis uit is, dan is elke oproep lekker. Jy is bly as hulle bel al vra hulle soms hulp of geld. Is ek reg? En kom hulle kuier dan is ons eers bly.Dan kan ons ook verstaan dat God elke dag met ons wil wees. Vandag se brood. ‘n Mens moet seker ook dink aan die manna in die woestyn. Hulle moes net genoeg vir daardie dag opgetel het. Wat ekstra was het verrot. En op die Sabbat niks. Die ekstra opgetel die dag voor die Sabbat het gehou. Ek meen die Here wou hulle leer om uit Sy hand te leef. Nee. Vandag se brood is nie die manna van toe nie. Jy kan harder werk en meer inoes. Jy kan die vrugte van jou arbeid geniet. Jy kan ryk wees. Wat jy nie kan doen nie is om van die Here jou God te vergeet en begin dink ek het God nie nodig nie. Ons kan nie bekostig om ons vertroue te plaas op wat ons insamel of op ons salarisse nie. Ons vertroue moet ten alle tye op God alleen wees. Ten laaste: Nehemia (9: 21) haal aan uit deutromium 8:4 en herinner die mense dat God in die woestyn vir 40 jaar die mense versorg het met manna en dat hulle skoene en klere nooit verslete geraak het nie. Die woord manna beteken letterlik “wat is dit?” Iets wat voorheen onbekend was en deur God voorsien is. Here, gee ons vandag ons dag se brood.