Datum:
Opskrif:
Nuus:
6 Oktober 2020 Alle leraars, kerkrade en lidmate NG Kerk Vrystaat Geagte kollega en gemeentes PLAASMOORD: PAUL ROUX Ons het met skok en afgryse kennis geneem van die koelbloedige moord op die 21-jarige plaasbestuurder van Paul Roux, Brendin Horner. Ons sukkel om ons emosie oor hierdie sinnelose daad in woorde om te sit, maar wil langs hierdie weg vir die familie en vriende van die jong Brendin, die gemeente en gemeenskap van Paul Roux en die landbougemeenskap van ons geliefde provinsie verseker van ons opregte meelewing. Ons huil as NG Kerk Vrystaat saam met julle. Die NG Kerk Vrystaat herbevestig vorige verklarings in hierdie verband. Ons spreek ons andermaal teen enige vorm van geweld uit. Ons spreek ons andermaal teen die neem van onskuldige lewens, uit. Ons spreek ons by name, weer teen plaasmoorde uit. Ons het kennis geneem van die verklaring van AgriSa in verband met plaasmoorde. Ons het kennis geneem dat die regering ernstig aandag aan die saak van plaasmoorde gaan gee. Ons het kennis geneem dat daar planne in plek geplaas is, maar ons kom nou sê dat ons nie langer kan wag nie. Dit is nou tyd om op te tree en ons doen ‘n ernstige beroep op die president, regering en verantwoordelike partye om op te tree. Ons versoek al ons lidmate andermaal om nie op te hou om vir ons boere, plaasarbeiders, plase en die landbougemeenskap as ‘n geheel te bid nie. Kom ons vat hande en bid dat die Here ‘n laer van engele rondom ons elkeen sal oprig. Seënbede. Dr Pieter van Jaarsveld (Voorsitter) Ds Riaan van Zyl (Ondervoorsitter) Dr Carin van Schalkwyk (Skriba Ds Anton Meiring (Addisionele lid) Dr Bertus Celliers (Addisionele lid - STK) INTERIMKOMITEE, MODERAMEN