Datum:
Opskrif:
Nuus:
Beste susters en broers Die inperking van individuele vryheid om rond te beweeg en te werk is vir ons ’n nuwe ervaring. COVID-19 is egter ’n geleentheid vir die kerk om te doen wat sy die beste doen – om mense in nood te bedien en hoop en lig te bring na donker plekke en omstandighede. Dit is ook ’n tyd om mekaar se harte aan te raak – deur wat ons sê, wat ons deel, wat ons doen en deur wat ons nie doen nie – en om die lewens te beskerm wat God so liefhet. In hierdie liefde moet ons die manier waarop ons aanbid en gemeenskap met mekaar het, aanpas by die veranderende tye gedurende die pandemie. Ons moet die risiko om bronne van oordrag te word vermy, maar moet draers van genade bly. In die lig van COVID-19 reageer die wêreldgemeenskap met drastiese stappe om die verspreiding van die siekte te beperk en die impak daarvan te verlig. In ons reaksie as ’n kerk is dit baie belangrik om te luister na die raad van gesondheidsorgkundiges, met kundigheid oor hoe om die gemeenskap te beskerm en te verhoed dat die virus verder versprei. Ons moet ook op hoogte bly van openbare aankondigings. As kerk is ons deel van gemeentes en gemeenskappe waar ons na aan mekaar woon en werk. Ons moet op hierdie nuwe situasie reageer op maniere wat met ons visie ooreenstem. Ons moet hulp verleen aan die weerloses, aan dié wat angstig of geïsoleer voel. Terwyl ons dit doen, moet ons voldoen aan die sosiale maatreëls en protokols wat ingestel is om verdere infeksies te verhoed. As plaaslike kerke dink julle reeds anders oor aanbiddingspraktyke, insluitend die bediening van die nagmaal, die oordra van vrede en om mekaar te groet op maniere wat ons gemeenskaplike lewensdoel weerspieël terwyl ons ook luister na die gesondheidsadvies van kundiges. Die situasie verander vinnig. Bly daarom ingelig deur die amptelike gesondheidskanale van jou plaaslike regering of gebied. Jy sal in hierdie tyd ook vanuit kerklike kringe op hoogte gehou word deur briewe soos hierdie en Kerkbode by kerkbode@tydskrifte.co.za Intussen het daar ’n oproep van president Cyril Ramaphosa gekom om deel te wees van ’n nasionale gebedsgeleentheid. Die tyd wat vir hierdie gebedsgeleentheid voorgestel word, is 26 Maart 2020 vanaf 18:00 tot 18:30. Die NG Kerk wil graag hieraan deelneem. ’n Beroep word gedoen dat elke gemeente, op watter manier ook al binne die voorgeskrewe maatreëls, daaraan sal meedoen. Vir vandag se gebedsgeleentheid en vir die tyd vorentoe vra ons dat daar vir die volgende sake voorbidding gedoen sal word: • ons regering, regeringsamptenare en personeel in departemente • almal wat sal werk om noodsaaklike dienste te lewer – mediese en verwante beroepe, sekuriteitsektor, kleinhandelsektor, bankwese, vervoer, en so meer • mense wat die virus opgedoen het en familie wat daardeur geraak word • die armste van die armes en dié wat liggaamlik meer blootgestel is aan die virus. Saam in Sy diens Gustav Claassen ALGEMENE SEKRETARIS