Datum:
Opskrif:
Nuus:
Die dagbestuur het gisteraand as volg besluit: 1. Alle eredienste word tot verdere kennisgewing afgestel. ‘n Groot persentasie van ons lidmate wat die erediens getrou bywoon val in die risikogroep wat meer kwesbaar is vir die Covid-19 (corona) virus. Die kerkraad wil nie die risiko loop om enige iemand anders se lewe in gevaar te stel nie. 2. Die president se aankondiging rakende oa byeenkomste van 100 persone of meer asook die aanbevelings van die dagbestuur van die OVS Sinode (waarvan ons deel is) het ons genoop om bg besluit biddend te neem. Ons wil dit onderstreep: die besluit om tot verdere kennisgewing die eredienste af te stel is nie ligtelik geneem nie. U gesondheid is vir ons net te belangrik. Die aanbevelings vanaf Sinodale kant sal vir u aangestuur word ter insae. 3. Ons onderneem om op Sondae tussen 08:00 en 09:00 ‘n stemboodskap van die preek vir die dag uit te stuur wat u dan as gesin saam kan luister en ook verder aanstuur . Dit sal ook op die Seilespan toep (Android play store) beskikbaar wees. Of op die webblad by www.ngden.co.za. 4. Die hengelkompetisie van 28 Maart asook die konsert van 3 April word hiermee uitgestel. 5. Dit sou sinlik wees as ons afsien van ‘n stewige handdruk gee tot hierdie virus oorkom is. Doen asb die gereelde deeglike was van hande en indien siek, besoek die dokter eerder vroeër as later. 6. Hierdie is ‘n geleentheid om soos Christus mekaar te dien. Let asb op veral ons bejaardes wat dalk mag sukkel met voedsel tekorte of bang is om winkels te besoek. Help waar u kan asb. Hier is die skrywe vanaf die moderamen van die Vrystaat sinode: VIR AANDAG: Alle leraars, kerkrade, gemeentes en lidmate NG Kerk Vrystaat Liewe Vriende CORONA VIRUS (COVID-19) - RIGLYNE Die Interimkomitee het gistermiddag vergader. Ons wil graag vir u verseker dat ons ernstig oor die aankondiging van die Staatspresident gepraat het. Ons doen 'n beroep op gemeentes en lidmate om nie paniekerig te raak in hierdie tyd nie, maar om met moed en geloof die Here te bly dien, deur uit te reik na die gemeenskap en om te gee vir lede van die gemeenskap. Hiermee gee die Interimkomitee die volgende reëlings aan u deur, na aanleiding van die aankondiging wat die Staatspresident op 15 Maart 2020 gemaak het. 1. Teologiese Begronding Die Interimkomitee ondersteun die reëlings soos deur die Staatspresident gemaak is, in geheel. Romeine 13:1-7 roep ons op om gehoorsaam aan die Staat te wees, want die hierdie leiers is deur God oor ons aangestel. Romeine 13:10 herinner ons ook dat die liefde die naaste geen kwaad aandoen nie, daarom is die liefde die volle uitvoering van die wet. Hierdie liefde vra dat ons mense se blootstelling aan die virus so goed as moontlik sal probeer beperk, veral diegene wat minder weerbaar is. In die lig hiervan gee die Interimkomitee die volgende riglyne aan u deur doen 'n beroep op u om dit ten sterkste te oorweeg: 1.1 Eredienste: Ons versoek u om dit ernstig te oorweeg om alle eredienste tot en met ná Paasnaweek af te stel. U kan van sosiale media soos Facebook life streaming, WhatsApp (u kan u hele gemeente in WhatsApp-groepe per wyk/blok indeel, so kan u ook kontak hou met almal en dadelik weet as daar iewers 'n krisis is waaraan aandag gegee moet word), Potgooie (Anchor) en YouTube gebruik maak om elke Sondag die boodskap na lidmate uit te stuur. Indien u verkies om voort te gaan met die eredienste, gee ons aan u die volgende riglyne deur om te volg wanneer u eredienste hou: Op geen oomblik mag daar meer as 100 mense in 'n gebou teenwoordig wees nie, dit is 'n verbreking van die beperking wat die Staatspresident aangekondig het. Voorsien seep en water by die deure vir diegene wat die erediens bywoon om hande te was voordat hulle die gebou ingaan - hou papier handdoekrolle byderhand om hande af te droog. Laat lidmate en/of families ten minste 'n 2-meter radius van mekaar sit om die oordrag van die virus via hoes en speeksel te vermy. Ons rig 'n versoek dat lidmate wat ouer as 60 is, afgeraai word om eredienste by te woon en dat die predikant en die kerkraad verantwoordelikheid neem vir die geestelike versorging van hierdie lidmate. Wanneer kollektes opgeneem word, plaas die kollekteborde voor in die liturgiese ruimte en laat mense stelselmatig vorentoe kom om die kollekte in die borde te plaas. Sorg vir handskoene vir diegene wat na die tyd die geld moet hanteer. Alternatiewelik kan u oorweeg om geen kollekte Tel: +27 (0) 51 406 6719 | E-pos: kerkinfo@ngkvs.co.za | Posbus 11412 | Universitas 9321 Lig in die duisternis, hier vir God, mekaar en die wêreld op te neem nie en lidmate te versoek om kollektes na die gemeente oor te betaal via elektroniese metodes soos Zapper, ensovoorts. 1.2 Nagmaal: Die Interimkomitee versoek u om dit ten sterkste te oorweeg om vir ten minste die volgende maand nie voort te gaan met die bediening van die Nagmaal nie. Paasnaweekvieringe kan uitgestel word tot 'n latere geleentheid wanneer dit weer veilig is vir groepe mense om saam te kom vir eredienste. 1.3 Ander gemeentelike byeenkomste: Die president het ook versoek dat ander byeenkomste van meer as 100 mense tot die minimum beperk moet word, u word dus versoek om dit ernstig te oorweeg om nie in hierdie tyd wyksbyeenkomste, kleingroepbyeenkomste, of Bybelstudiegroepe te hou nie. U word ook ernstig versoek om nie openbare byeenkomste soos 'n basaar of makietie, of gemeentekonserte en gemeentefeeste te hou nie, want dit is nie moontlik om te beheer wie dit bywoon nie en almal teenwoordig word in sulke situasies blootgestel. Stel hierdie byeenkomste eerder uit na 'n latere datum. 1.4 Begrafnisse: Wanneer daar 'n begrafnis is, word u versoek om dit as 'n familie aangeleentheid te hanteer en word die breër geloofsgemeenskap versoek om eerder nie 'n begrafnis by te woon nie. U word ook versoek om weer na te dink oor verversings na die begrafnis, aangesien dit ook 'n verdere vergaderplek van groepe mense is wat vermy moet word. 1.5 Troues: U word versoek om aan bruidspare deur te gee dat byeenkomste van meer as 'n 100 mense verbied word. Dit sal dalk ook goed wees om aan bruidspare die versoek te rig om eerder die voorgenome troues uit te stel, of om dit te oorweeg om 'n troue ook 'n familie aangeleentheid te maak waar net die naby familie teenwoordig is vir die bevestiging van die huwelik. 1.6 Werkers: Ons versoek lidmate om in gedagte te hou dat hulle werkers, veral tuiniers en huisbediendes van die weerlooste van weerlose mense is en dat hulle direk geraak word deur die aankondiging dat vervoer deur busse, taxi’s en treine tot die minimum beperk word. Ons versoek lidmate om in hierdie tyd veral ook te let op die welstand van hulle werknemers en om voort e gaan met die betaling van lone, selfs al kan die werkers nie kom werk nie. Ons versoek ook lidmate om toe te sien dat werkers genoegsaam ingelig is oor die virus en dat daar vir hulle voorsiening gemaak word om ten minste aan die basiese higiënevereistes te voldoen. 1.7 Bejaardes: Die Interimkomitee het met Engo in gesprek getree oor die welstand van bejaardes in ouetehuise - sien bylae 1, 1a, 1b en 2 by e-pos aangeheg, hou dit asseblief byderhand vir vinnige naslaan. Vriendelike groete in Christus. Dr Carin van Schalkwyk (SKRIBA)