Datum:
Opskrif:
Nuus:
AANGESTUUR DEUR KOMMUNIKASIE NG KERK VRYSTAAT Goeiemôre almal Algemene Sinode: Dag 3 (Dinsdag) Anandie Ons getuienis in die wêreld Ds Anandie Greyling lei die dagwyding. Sy praat oor gasvryheid na aanleiding van Lukas en haal Adele Calhoun aan: Hospitality is to be a safe person, who offers others the grace, shelter and presence of Jesus. Gasvryheid kan geleen of geruil word, maar is meer radikaal volgens die Bybel. Nelus Niemandt stel die vraag: Hoe moet die NG Kerk in hierdie tyd in sy konteks die gasvryheid waarvan die evangelie praat, uitleef? Klik hier om 'n berig hieroor, sowel as 'n videogreep, op Kerkbode se webwerf te lees. Gendergeregtigheid: Dr Carin van Schalkwyk van die NG Kerk Vrystaat vertel haar verhaal. Dit is vanjaar 29 jaar vandat die NG Kerk vroue tot die amp van leraar toegelaat het en Carin vertel dat haar mede-teologiestudente daarna laat hoor het dat die sinode sonde met die besluit gepleeg het. Die vergadering kyk na die video Regtig? met opmerkings wat vroue en mans teenoor vrouepredikante gemaak het. Dit dui op 'n belangrike kultuurskuif wat dringend nodig is in die kerk. Sinodegangers het die volgende riglyne opgestel om leiding te verskaf vir die kyk en gesprekke rondom die video. 1. Amptelike gendergeregtigheidsbesluit: Die Algemene Sinode moedig kerkvergaderinge aan - in lyn met vorige besluite - om doelgerig moeite te doen met verteenwoordiging, beginnende reeds by kerkrade. 2. Die Algemene Sinode versoek gemeentes weereens - in lyn met vorige besluite - om vroue as kerkraadslede na sinodesittings af te vaardig. Lees hier verder. Hierdie besluite kom uit die verslag van die Moderamen (ASM) en die agtergrond kan daar gevind word. Grondhervorming: Grondhervorming is sedert 1997 ’n kritiese punt vir die NG Kerk. Dan Kriek, president van AgriSA, gesels hieroor. As deel van President Ramaphosa se adviespaneel, het hy die kabinet gedien met ’n alternatiewe verslag wat die privaat sektor verteenwoordig en onder andere die beskerming en uitbreiding van eiendomsregte aangespreek. Ons in die landbou is boodskappers van hoop. AgriSA is gekant teen enige wysiging van die grondwet soos voorgestel. Ons is bewus daarvan dat dit massiewe onsekerheid in die landbousektor veroorsaak oor die pad vorentoe. Ons is nie negatief oor grondhervorming nie. Ek dink ons maak vordering. Die rol van die kerk is om voorbidding te doen, gesprekke te fasiliteer en mense bymekaar te bring. Dit is waar die oplossing van grondhervorming gaan wees - tussen gewone mense wat net ’n beter lewe wil hê en saam vorentoe wil gaan. (Grafika: Kerkbode) Willie van Heerden van die Taakspan Ekologie, spreek die vergadering toe oor klimaatsverandering, volhoubaarheid en hernubare energie. Hy sê: Geloofsgemeenskappe word deur hierdie ekologiese insigte uitgedaag om ’n etiese verantwoordelikheid te neem ten opsigte van die florering van die skepping. Een van die gespreksvrae wat by die tafels bespreek is, lui: Wat is die grootste ekologiese uitdaging in die omgewing waar jou gemeente geleë is? Selfdegeslagverbintenisse: Die vergadering het vroeër in die dag 'n voorstel aanvaar wat inhou dat die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudings ter syde gestel word. 'n Beskrywingspunt van die Wes-Kaapse sinode is voorgelê en ’n uitgebreide debat is daaroor gevoer. Volgens Nelis Janse van Rensburg was dit ’n geleentheid waartydens die sinodes saam kon besin oor hoe daar oor selfdegeslagverhoudings gedink word. Die voorstel was dat ons moet ruimte maak vir mekaar en het baie respek vir mekaar verklank. Dit gee riglyne, maar word op niemand afgedwing nie. Die voorstel is tydens ’n geslote stemming deur ’n oorgrote meerderheid aanvaar. Lees die volledige besluit op Kerkbode se webwerf. Ten laaste: Tydens 'n dag wat gekenmerk is deur komplekse gesprekke, was dit opvallend hoe die gesindheid van die vergadering in een van die gesange wat gesing is, Waar liefde en deernis is, daar is die Heer..., gereflekteer is. Volg die regstreekse nuusdekking van die vergadering hier. Mooi dag vir almal, tot môre...