Datum:
Opskrif:
Nuus:
Ek deel die nuus soos ek dit via die Vrystaatse NGKerk se kommunikasie kry. Interesant is die verskil tussen die nuus en die dagblaai s'n. Die dagblaaie praat van faksies gevegte en stryd en lae vlak oorlog. Die beleweing is egter die teenoorgestelde. U kan ook die nuus volg by www.kerkbode.co.za Hier is die nuutste: Goeiemôre almal Ons gaan gedurende hierdie week van die Algemene Sinodesitting, daagliks probeer om terugvoer te gee oor die verloop van die vergadering: Algemene Sinode 6 - 11 Oktober Afgevaardigdes van die 10 samestellende sinodes kom vandeesweek by eMseni in Benoni bymekaar. Die waardes vir die sinode sluit in dat ons deur God ingenooi is en daarom een in die Gees en gelyk langs Christus is. Dag 1 (Sondag): Openingsgeleentheid: Die openingsliturgie word gelei deur ds Barnard Steyn, waarna die Centurion Cantus die aangrypende Heer ons dink aan Afrika sing. Dr Pieter van Jaarsveld van Bothaville gemeente en moderator van Vrystaat Sinode, hou die tema Maak 'n lewegewende verskil voor aan die hand van Johannes 7:37-39. "Ons sentrale getuienis is die boodskap dat elkeen wat bely dat Jesus die Christus is,’n kind van God is. Waarom worstel ons dan met die kernboodskap wat aan ons toevertrou is? Jesus is die Here - God werk lewe deur jou en waar jy kom, bring jy lewe. "Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Op elkeen van die dae wat die vergadering duur, word aan 'n spesifieke verbandhoudende subtema aandag gegee: - Maandag: Ons roeping en die toekoms van die kerk - Dinsdag: Ons getuienis in die wêreld - Woensdag: Die rol van die kerk in 'n verdeelde samelewing - Donderdag: Ons verbondenheid aan die land en konteks Konstituering: Die sitting word amptelik gekonstitueer met die ontvangs van geloofsbriewe van 192 gemeentes. Groener sinodesitting: In 'n poging om meer omgewingsvriendelik te wees, is daar talle herwinningsprojekte tydens vanjaar se vergadering. Spesiale houers vir die herwinning van plastiek, papier, glas en blik is reg voor die vergaderlokaal geplaas. Die gebruik van papieruitdeelstukke word tot 'n minimum beperk. Spesiale glasbottels is ook aan elke afgevaardigde beskikbaar gestel om die enkelgebruik van plastiekbottels te verminder. Verkiesing van moderator: Nelis Janse van Rensburg is verkies as moderator van die Algemene Sinode 2019. "Ek kan nie vir julle sê hoeveel welwillendheid ek gedurende die afgelope termyn ervaar het nie. Dit is'n enorme voorreg is om die voorsitter te wees van die sinode van ’n kerk van hierdie omvang." Hy noem ook dat hy die afgelope vier jaar deur die gebede van die gemeentelede, kerkrade, eredienste en gebedskringe gedra is. "Mag dit dan ook so wees dat ons met die oortuigings van liefde, vrede, geduld en liefhartigheid as werklikheid lewe en met respek vorentoe gaan. Ons moet ons gewoontes veredel - in die kerk en daar buite. Ons het nou weer ’n geleentheid om ’n lewegewende verskil te maak. In hierdie vergadering moet ons besluite neem wat ons opstel om daardie verskil te gaan maak. Kom ons maak gebruik van die geleentheid." Volg gerus ook die sosiale media van die NG Kerk - die belangrikste bron van inligting is Kerkbode se nuusdekking by www.kerkbode.co.za. 'n Span professionele joernaliste en helpers, gelei deur Le Roux Schoeman, doen hier verslag. Kerkbode het deurlopende dekking, asook nuusberigte. Natuurlik is die dagblaaie ook belangrik. Lesers moet in gedagte hou dat die koerante hulle eie blik op die nuusgebeure het en hul informasie by spesifieke bronne kry. Dit kleur die beriggewing. 'n Goeie voorbeeld is berigte in die Sondagkoerante wat die Algemene Sinode as 'n "geveg" tussen faksies uitbeeld. Die metafoor is 'n slagveld of 'n bokskryt. Lidmate mag dink die kerkleiers baklei alweer. Dit is nie hoe die vergadering verloop nie. Groete. Thea