Datum:
Opskrif:
Nuus:
HERDERLIKE BRIEF VAN DIE RING VAN VAALRIVIER SE VERGADERING OP 30 JULIE 2018 TE VREDEFORT, AAN AL DIE GEMEENTES VAN ONS RINGSRESORT: Broers en susters in ons Here Jesus Christus Dit is vir ons as ringsvergadering ‘n voorreg om u só te mag groet! Ons was saam as vergadering in ‘n gebou wat byna honderd-en-vyftig jaar oud is! Dit laat ‘n mens nogal dink oor die relatiwiteit van ons tydjie hier op aarde. Die Vredeforters het ons met groot gasvryheid ontvang en onthaal – baie dankie! Ds Barry van Wyk van Parys-Wes het die vergadering op ‘n besondere wyse geopen met Rigters 3 as Skriflesing. “God werk altyd, onder alle omstandighede, en soms totaal onverwags!” Dr Johan Lötter is as voorsitter gekies en saam met die skriba, ds Willem Burger, het die span sake glad laat verloop. Neem asseblief in besonder kennis van die volgende: • Dr Jan de Man tree op as leraar vir beide Viljoensdrif en Taaibosspruit; • Die ring spreek sy medelye uit teenoor verskeie gesinne in ons ringsgebied wat intens geraak is deur gruwelike geweldsmisdade. U word opgeroep om ernstig teen die geweldspiraal in die land te bid en self op geen manier by misdaad betrokke te raak nie, deur bv. nie gesteelde goedere te koop, nie ‘n privaatoproep of fotostaat op u werkgewer se koste te maak nie, en nie u werkgewer se tyd te steel deur gedurig op u selfoon te wees nie. Die ring wys ook daarop dat ‘n praktiese wyse om by misdaadbestryding betrokke te raak, is om deel van Gemeenskapspolisieforums (GPF) in elke dorp te raak. • Die ring spreek ook sy moedelose frustrasie uit oor die ekologiese ramp wat hom afspeel in die Vaalrivier. Ons gaan as kerk poog om met verantwoordelike plaaslike rade hieroor in gesprek te tree. Ds Barnard Steyn, predikant in sinodale diens met opdrag, gemeentebegeleiding, het met die ring in gesprek getree met tema, “’n Nuwe rol vir ringe.” Dit was goed om net weer ons sinode se leuse te sien en te hoor: “Nasies kom na jou lig toe …” Jes 60:3. Ds Gerrie van Dyk is reeds vir 24 jaar in diens van die Bybelgenootskap. Saam met ons sien hy uit na 23 Augustus 2020 wanneer die Bybelgenootskap D.V. sy 200ste verjaardag vier. Bydraes vir die Bybelgenootskap is, soos in die res van die kerklike werksaamhede, ook onder druk. Die ring sê dankie vir mev. Elbie Ferreira (Najaarsrus, Parys) en mev Cobia Moelich (Ons Gryse Jeug, Sasolburg), vir hul onbaatsugtige diens in versorging van bejaardes. Die ring neem kennis dat daar veel meer tehuise vir bejaardeversorging in ons gemeenskappe is, dankie vir u werk! Ons wil u egter ook wys op ‘n reeks wenke oor vrae wat u kan vra as u op soek is na ‘n versorgingsoord vir ouer persone vir uself of ‘n geliefde. Die voorwaardes is beskikbaar by elke kerkkantoor (in die besluiteregister van die ringsvergadering) Werk onder ons jongmense is vir die ring van groot belang, daarom word John Matthews bedank vir sy aandeel aan die werk. Die Jeugsorgsentrums, vir wie ons verantwoordelikheid neem, trek swaar. U kan finansieël bydra, maar ook help deur kinders uit te nooi vir naweke en vakansies. Ons as ring sal oneerlik wees as ons nie ‘n opmerking maak oor finansies nie. ‘n Woord van opregte dank aan baie lidmate wat gehoorsaam bydra tot die kerklike werksaamhede in God se koninkryk. Dat lidmate se beperkte fondse egter ook sy effek het in ons gemeentes, is nie altemit nie. Baie instansies maak aanspraak op dankoffergeld – oorweeg tog of u nie dié offer na die gemeentes wil herlei nie? Broers en susters in die Here Jesus: Mag u die seën van God ons Vader, deur sy Heilige Gees ervaar, elke oomblik van elke dag! Amen