Datum:
Opskrif:
Nuus:
HERDERLIKE BRIEF vanaf die Vrystaat Sinode Alle leraars, voorsitters van kerkrade en lidmate NG KERK VRYSTAAT Geliefdes in ons Here, Jesus Christus Die 53ste sinodesitting van die NG Kerk Vrystaat by Nampo-Park naby Bothaville is pas agter die rug. Dié sinodesitting was gekenmerk deur ‘n gees van versoening waar afgevaardigdes daarop uit was om die eenheid onder mekaar te bewaar. Die woorde van dr Wollie Grobler in Volksblad van 20 Junie 2017, vat dit mooi saam: “Die hele sinode behandel mekaar, ondanks verskille, met ‘n waarderende en oop gemoed.” Dit was in lyn met die waardes waarop vooraf ooreengekom is. Die agenda was gelaai met beswaarskrifte en beskrywingspunte rondom selfdegeslagverhoudings. Die Sinode het besluit om die pad van versoening te loop. Daar is lank besin oor die wyse waarop sulke sensitiewe sake bespreek kan word om verdere verdeling en polarisasie te alle koste te vermy. Die Sinode het eerstens die besluite van die buitengewone sitting van die Algemene Sinode in 2016 aanvaar, maar toe besluit om in die volgende vier jaar-periode, die gesprek oor dié saak voort te sit. Dit sal ‘n inklusiewe gesprek wees waar met mense van verskillende oortuigings gesprek gevoer sal word. Die NG Kerk was teenwoordig by die onlangse kongres van die Suid Afrikaanse Raad van Kerke. Die Vrystaat Sinode ondersteun die standpunt dat die huidige Suid Afrikaanse regering morele legitimiteit verloor het en dat daar gevolglik ‘n oproep gedoen word dat die huidige parlement ontbind en daar so gou moontlik ‘n regverdige, demokratiese verkiesing uitgeroep word. Die Sinode het haar ook verbind om met ander kerke saam te werk vir die heling van ons gemeenskappe, vir die herstel van geregtigheid en versoening, menswaardigheid, respek, deernis en diens. Hiervoor word ‘n ondubbelsinnige, helder profetiese stem van die kerk gevra, maar ook ‘n beroep op alle gemeentes gedoen om aktief mee te werk. Ons is ‘n geseënde kerk, geroepe om hierdie seëninge met ander te deel. Tydens die sinodesitting is ‘n herindeling van die ringe goedgekeur. Ons vertrou dat die herindeling nuwe lewe in ringe sal blaas. Om gemeentes groter inspraak in die visionerings- en besluitnemingsprosesse te gee, het die Sinode besluit om die Moderamen uit te brei sodat elke ring sitting in die Moderamen sal hê. Die Sinode verbind haar opnuut daartoe om met smeking, voorbidding en danksegging te bly bid vir alle mense, vir dié wat slagoffers van geweld en onreg is, vir almal wat weerloos en veronreg is, vir dié wat regeer en gesag uitoefen, sodat ons ‘n stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God waar ons ou mense weer op die pleine van ons stede en dorpe en op ons plase sal sit, waar ons seuns en dogters weer rondom hulle sal speel en die mense vir ons sal sê: Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor God is by julle.” (Sag 8:23) Vriendelike groete in Christus.