Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Handelinge 1: 1-8 Soms vra ons die verkeerde vrae. En ons kry of geen antwoord of ons kry nie die antwoord wat ons soek nie. Dit kan ook wees dat ons teen die verkeerde goed vaskyk. Kom ons vat die dissipels as voorbeeld. Hulle wou weet: “Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk vir Israel weer gaan oprig?” As ek na Jesus se antwoord kyk, dan is hierdie die verkeerde vraag. Die vraag mis dit wat God wil hê ons moet snap. En as jy dit miskyk dan mis jy nes die dissipels jou antwoord in die antwoord wat Jesus gee. Jesus het geantwoord: “Dit is nie vir julle om die tyd en omstandigheid te weet wat die Vader in sy eie mag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.” Die dissipels wou gehoor het wanneer dinge gaan gebeur. Wanneer gaan God die ewige ryk oprig. Jesus antwoord hulle, maar Jesus se antwoord vermy die wanneer en gaan direk na die nou toe. Kyk mooi na die deel. Hy sê tussen die lyne eintlik ook die wanneer. Die wanneer is nou reeds daarmee besig. Die wanneer lê in hulle opdrag. Wat hulle dalk eerder moes gevra het is waarheen? As U, Here, nou van ons af weggaan wat moet ons nou gaan doen? Waarmee moet ons ons besig hou terwyl ons wag dat U klaar gaan plek berei het en weer terugkeer om ons te kom haal?