Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Lukas 24: 45 – 49 Dit is na die opstanding. Die Sondagaand. Jesus het sopas tussen die dissipels verskyn en hulle oortuig dat Hy is Wie Hy is. Dieselfde Jesus wat hulle voor die kruisiging geken het, nou net met die littekens van die kruisigng. Dit is die derde dag en Hy het uit die dood opgestaan soos Hy hulle vooruit geleer het. Nou neem Hy dit ‘n stap verder. Hy open hulle verstand om die Skrif te verstaan. Hy verbind die punte sodat hulle die Ou Testament kan uitbring by hulle hier en nou nl die opgestane Here. Drie dinge is tersprake: 1. Die Christus moes ly (sluit die kruisdood in) 2. Hy moes op die derde dag uit die dood opstaan Sover kon hulle altwee boksies ‘n regmerk gee. Dit het gebeur en hulle het dit gesien en kan dus wetlik gesproke as getuies in die howe van daardie tyd getuig. Dit is feite. Die derde punt of boksie is nog oop op daardie stadium: 3. “En in Sy Naam moet bekering en vergewing van sondes aan al die nasies verkondig word ...” Die dissipels het dit gaan doen. Die boek Handelinge is ‘n beskrywing van dit. Dit is opmerklik dat hulle veral oor die opstanding en die vergewing van sondes gepraat het. En ek meen ons is hopeloos te stil oor die opstanding. As ons nou vinnig vorentoe spring na vandag dan vra ons of ons al drie die boksies kan afmerk? Wat betref die eerste twee, ly en uit die dood opstaan, is die vraag of ons dit werklik diepgaande glo. Het Jesus se opstanding so tuis gekom in ons dat ons ons ganse lewe daarom bou? Dit is ‘n belangrike vraag want daar is hedendaagse mense wat nie glo in die opstanding nie. Of dit as ‘n metafoor sien. Ek glo dat Jesus geleef het, gely het, gesterf het en op die derde dag uit die dood opgestaan het. Ek glo, dat Hy ook my wedergebore gemaak het en ek op die manier reeds deel in Sy opstanding en ja eendag in die dood sal ek liggaamlik ook opstaan en ewig lewe. Ek probeer wys dat gelowiges nou reeds deel is van God se koninkryk en ons nie vir eendag hoef te wag nie. Nou reeds moet ons leef as opgestane nuwe mense. Nou reeds moet ons bekering en die vergewing van sonde verkondig. Die keerpunt vir die dissipels was juis die opstanding. Die uitstorting van die Heilige Gees het hulle die krag gegee om dit verder te neem. Dan wonder ek hoekom is die meeste gelowiges so stil. Hoekom is mense wat glo in die opstanding en gevul is met die Heilige Gees dikwels so stil. Het ons nie ook ‘n boksie wat afgemerk moet word nie? Naamliks die verkondiging van bekering en vergewing van sondes. Of is die opstanding nie so groot in ons gemoed nie. Hak ons vas by dood is dood? Soos die dissipels daardie Sondagaand toe hulle so geskrik het met Jesus wat skielik in hulle midde staan. Ek sou gesukkel het. Nou kan ek bid dat God Sy Seun se opstanding so in my lewe, ons lewens anker en tuisbring dat ons gedring daardeur nie langer kan swyg nie maar dit wil uitdra na almal toe. Hierdie land is so vol seerkry en saam dra van ou seer sonder vergifnis. Dink net die wonderlike nuus dat God vergifnis bied. Dat jy kan vry kom van haat en seerkry.