Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Matteus 4. Jesus se versoeking in die woestyn. Wat is die drie versoekings as ons dit oordra na vandag? Om relevant te wees. Om spektakulêr te wees. Om mag te hê (duiwel wat al die nasies van die wêreld wys). As jy hierdie nou gaan lees aan die hand van Jesus se gesprek met Petrus na die opstanding, waar Jesus keer op keer vir Petrus vra “Het jy My lief?” dan gaan interesante perspektiewe oop. 1. Wees relevant. Bewys dat jy verdien om gehoor te word. Bewys dat jy klippe in brood kan verander. Die teenvoeter vir hierdie versoeking is Skrifkennis en gebed. Ek weet dat Jesus met Bybelverse geantwoord het. Daarom sê ek ook leer die Bybel ken. Groei in jou kennis. Sien egter raak dat die Versoeker eers gekom het na 40 dae en veertig nagte wat Jesus niks geeet het nie. Dit word aanvaar dat hierdie periode in gebed en in luister na God deurgebring is. Trouens reg deur Jesus se aardse bediening vind jy dat Hy Hom keer op keer onttrek om te gaan stilword by God en te bid. Met bid bedoel ek wat ons almal doen en met silword bedoel ek luister: om in stilte te luister na God sou God wou praat. Om te wees waar God jou volle onverdeelde aandag geniet en in jou kan uitwerk en vorm soos Hy wil. Petrus was die leier in die groepie dissipels. Hy het dikwels vorentoe getee om namens die groep te praat. Juis in so ‘n oomblik het hy verwoord wat hulle almal gevoel het: Hy (hulle) is bereid om saam met Jesus in die gevangenis te gaan en selfs saam met Hom te sterf. En toe faal hulle Jesus en hulsel deur Hom te verloën en of weg te vlug. Kan ek sê op daardie tydstip met daardie belydenis wou hulle relevant wees? En hoe maak Jesus Petrus heel? Deur hom drie keer te vra het jy my lief? Dit is ‘n vraag wat ons baie mee moet stilword voor God. Het ek U werklik lief Here? En die manier om te keer dat ook ons wil relevant wees (soort van “step up and be counted”) is om soos Jesus meer te bid en te luister. 2. Die versoeking om spektakuler of uitsonderlik te wees. “As U die Seun van God is, spring af ...” Petrus het gehoor dat hy die groep na die kruis moes lei. Na hy tot sy sinne gekom het, as ek die woorde reg onthou. In die Johannes 21 gesprek hoor jy niks van lei en bou nie. Jy hoor van dien. Laat My lammers wei. Pas My skape op. Laat My skape wei. Jy hoor van dienswerk, van Iemand anders se kudde versorg. Die grond in Johannes 21 van bg is belydenis. Petrus wat moes oopbreek en bely. “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Ek meen dit is ook ‘n verskuiwing vanaf die ek na die U. Ek wat my lewe te lief het en daarom U verloën (of in die nag van gevangeneming weg gehardloop het) na iemand wat net bedroef kan stotter “Here, U weet alles. U weet dat ek U lief het”. Daar is ook die stem van vergifnis en heel word. 3. Om magtig te wil wees. Mag te wil hê. Om die skuif te maak na iemand wat gelei word. Ons is nie mense wat lei nie. Ek kan nie onthou dat Jesus ooit gesê het ons moet leiers wees nie, maar wel dat ons moet dien. Mekaar moet dien. Mense wat mag soek dien nie werklik nie. Dien, om ander te dien soos God dit wil is die teenvoeter vir magslus. Petrus sou ontdek dat op die einde sal iemand hom vasbind en vat waar hy eintlik nie wou wees nie. Later het dit geblyk sy dood aan ‘n kruis. Oordink dit in hierdie lydenstyd. Bekyk jou eie motiewe. Wees pylik eerlik met jouself. Vra God om jou te lei. Hierdie drie versoekings is steeds relevant vandag. Trouens elke keer as die kerk geswig het, of mense in die kerk voor hierdie versoekings geswig het het die Christendom ‘n bitter lelike pad geloop. Dink aan die mag en hoe dit in die kruistogte gebruik is. Mag hierdie oordenking vir ons van betekenis wees. (Gedagtes geleen en aangepas uit Henri Nouwen: In the Name of Jesus.)