Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Goeie more. ek deel 'n besonderse stukkie (in my opinie) van Jaco Thom wat hy in sy weeklikse Bybelkoerant publiseer: Sonder vrees ’n Mens kan jou dit skaars voorstel: ’n vuil, ellendige sondaarmens in die teenwoordigheid van die vlekkelose, heilige God van hemel en aarde. Dit was die ondervinding van Moses en Jesaja. En albei krimp ineen van vrees. Jesaja roep uit (6:5): “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ’n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” En tog bly hy leef, want God stuur ’n seraf om hom met ’n kool van die altaar te reinig. En Moses bly leef, want God beveel hom om op ’n afstand te bly. Ons lees van nog iemand wat voor God verskyn het: Jesus Christus. Vir Hom was daar nie ’n gloeiende kool van versoening nie. Hy kon nie maar net op ’n afstand bly staan – Hy moes tussen hemel en aarde hang, deur God verlaat, verwerp! Dáár sien ons werklik die verskrikking van die sonde. Hy kon nie bly leef ten spyte van die sonde nie – óns s’n, nie Syne nie. Hy sterf daar op Golgota. Jesaja voorspel dit in 53:5: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.” Ons kan daarom voor God verskyn, soos Moses en Jesaja, én bly leef, omdat Jesus voor God verskyn en gesterf het. Die Hebreërskrywer sê (10:19): “Broers, ons het dus nou deur die bloed van Jesus vrye toegang tot die heiligdom ...” Vrye toegang! Sonder vrees! Sonder om op ’n afstand te huiwer! Dit is mos Evangelie! Prys God daarvoor, en “... laat ons tot God nader” (Heb. 10:22).