Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Hierdie Lydenstyd hou my vas by die gedagte om meer eenvoudig te lewe sodat ander eenvoudiglik ook net kan lewe. Dit beteken dat ons minder "luuks" leef sodat ons twv Christus meer het om ander mee te help. Hierdie gedagte is niks nuuts nie. Ek het dit in die sg woestynvaders en -moeders se oordenkings raakgelees. By Paulus was dit reeds 'n leefstyl saak. Van homself sê Paulus in Handelinge 20:35 dat hard gewerk sodat die swakkes iets kon hê om te eet. En in Efesiërs 4 as hy skryf oor die uwe lewe en hoe dit prakties kan raak in ons lewens skryf hy dat 'n skelk moet ophou steel. So 'n persoon moet deur harde werk nou self in sy / haar eie lewensonderhoud begin voorsien. Dan vat Paulus dit verder en skryf dat so 'n persoon iets sal hê om vir die armes te gee. (Die vollediger teks: " 4:28 As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee.") Die aspek van dat Paulus diewe hier aanspreek laat ons dalk voel dit is regtig nie op ons van toepassing nie. Dit is so. Wat belangrik is is die "om iets te hê om vir die armes te gee". In Lydenstyd deursoek ons onself voor God vir sondes, gesindhede, gedagtes en dade wat nie in lyn is met wat God wil nie. Ons soek vergifnis en om skoon gewas te word sodat ons ligter kan leef. Bedoelende sodat ons nie meer die las van onbelyde sonde saam hoef te sleep nie. God gee ons die vergifnis, en Hy reinig ons van alle ongeregtighede. God dink nie meer aan ons sondes nie. Het dit nie tyd geword dat ons ook ander terreine van ons lewens "ligter maak" nie? Bv ons klerekas van dit wat ons dalk nooit weer in sal pas nie of in die laaste twee jaar (kies eie tydperk) nog nie weer gedra het nie.. Dalk, as jy relatief gereeld uiteet, dalk een keer minder per maand uiteet en dit wat jy sou gespandeer het mee voedsel koop en vir 'n gesin gee wat jy sien sukkel. Ek is seker dat as ons hieroor bid en daarmee saam kreatief dink, selfs krities na ons leefstyle kyk, sal ons baie vind wat ons kan sonder klaarkom en dit dan deel met ander. Hierdie is nie 'n gemeente aksie nie. Hierdie is 'n uitnodiging om indivdueel op ander maniere met God besig te raak oor ons lewens en dan te reageer soos God jou lei. Ons motivering is en bly Jesus wat Homself op soveel maniere en uiteindelik aan die kruis selfverloën het ter wille van ons. Mag hierdie lydenstyd verdieping in ons almal se lewe bring.