Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Een van die diakens vertel by die mees onlangste kerkraadsvergadering dat iemand in sy wyk vir hom sê dat tiendes in die Bybel beteken nie net geld nie maat ook 'n tiende van jou tyd. Dus, volgens die diaken se berekening moet ons dus 2.4 uur elke dag ook aan die Here spandeer.Ek stem nie saam nie. My begin put is my oorgawe aan die Here. Die Here het my vrygekoop. (1 Kor 7: 23; 1 Petr 1: 18-19; Gal 4: 3-5). Uit die mag van sonde, uit die mag van die bose. Ek behoort nou aan God. Let daarop dat ek nie nou by God behoort nie maar aan God behoort. Dink besit. Eiendom. Ek is God se eiendom. Hy besit my. God het my vrygekoop. My hele lewe, elke oomblik behoort aan God. Orals en ten alle tye moet (wil) ek Christus lewe. Om te wil tyd bereken wat ek aan God moet wy is om wetties te dink en wie volgens die wet lewe lewe nie vanuit die geloof in Christus nie. Ek betwyfel sterk dat enigeen somme doen as hul wil praat oor hoeveel tyd moet jy eintlik saam met jou geliefde spandeer. Die ding is dat ons soveel as moontlik tyd saam wil spandeer. Wie vir God lief is doen nie somme nie maar probeer soveel moontlik by God leef. Wat ons ons moet afvra is of my hele lewe aan God behoort. Of is daar groot dele wat ek vir myself en vir my eie goeddunke leef. Ek sien ons eerder as 'n bestuurder van ons lewe namens God. Met verantwoording aan God. Bestuur onder leiding van die Heilige gees tot so 'n mate dat ook ons eendag sal kan uitroep ek leef nie meer nie, maar dit is Christus wat in my lewe. As ek kan afsluit met die oorspronklike vraag se beginpunt: Tiendes. Maleagi se hele strekking is die eer van God. Dat ons God ook met ons dankoffers moet eer. Met die beste wat ons het. Bring 'n volle tiende sê die Here. Die Nuwe Testament sê niks van tiendes nie, net van mense wat gee en selfs meer gee as wat hulle kon bekostig. Jesus maak 'n opmerking oor 'n weduwee wat haar laaste geldjie gee vir God. In die Nuwe Testament is ons nie meer onder die wet nie maar staan ons onder die geloof. Die tiende is nie meer 'n vereiste nie. Ek self gee 'n tiende (10% van wat in my bankrekening ingaan) omdat ek God wil eer en omdat dit my geloof versterk. Dit versterk my geloof omdat ek minder besteëbare inkomste het en baie meer op God ingestel moet wees vir alles om te klop. En ja, ek ontdek dat ek nie gebrek ly nie. Dit raak alhoemeer 'n liefdes saak en ek bly verwonderd dat God my van alles wat Hy my gee, nege tiendes laat behou. Meer nog dat Hy my soveel genade gee.