Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek dink vanoggend in terme van die Heidelbergse kategismus as ek oor groei praat. Die Heidelbergse Kategismus is in gedeel in drie dele. Die eerste vraag is wat moet jy weet om in hierdie lewe en in die dood werklik gelukkig (salig) te kan wees? En natuurlik is die deel wat ons uitvang die deel van in die dood. Die indeling van die kategismus is; 1. Ek moet weet hoe groot my sonde is. 2. Ek moet weet hoe ek daarvan verlos kan word. 3. Ek moet die Here dankbaar wees vir die verlossing. Wat hou ons groei terug? Ek meen dat die meeste van ons weet dat ons verlossing is in Jesus Christus. Ons is dalk ook nie aldag so opstryk met die derde een, dankbaarheid nie. Maar ek betwyfel sterk of ons ten diepste ons verlorenheid besef. Die dag as jou volle sondebagasie jou werlik tref, dan praat jy anders oor al drie hierdie dele. Die probleem is ons dink ons en ons verlorenheid. Durf ek sê dat jy dit eers werlik ontdek in God se teenwoordigheid? Daar waar Sy heiligheid so oorweldigend is dat jy nie kan staande bly nie. Jes 6 as voorbeeld. Ek praat dus nie van die sondes bely waar ons, as ons eerlik kan wees, dit bely wat ons pas om te bely en soms ook die sondes bely wat ons weet is verkeerd maar ons het nie ‘n diepgesetelde hartsbegeerte om daarmee te breek nie. Ek bepleit dat ons die Here vra om ons deur ‘n proses te neem van ontdekking. Sonde in my lewe ontdekking. So ‘n proses vra van jou: Tyd. Jy gaan moet stadiger leef sodat jy God kan hoor. As jy aan mekaar skarrel van die een besige punt na die volgende besige oomblik na die volgende moeilike afspraak, gaan jy nie regtig hoor nie. Jy gaan moet stiller leef sodat jy werklik die influistering van die Heilige Gees kan hoor. Dit is die Heilige Gees wat die wêreld, en dus vir jou en my ook, oortuig van ons sonde. Terwyl ek en jy besig is om te praat kan ons niks nuuts leer nie. Wat ek bepleit is dat jy buite jou gebedstyd om ruimte skep om in stilte by God te sit en na God te luister. Nie te dink of te praat nie. Net te sit en luister. Deur die loop van die dag sal jy bewus word van ‘n klomp goed in jou lewe wat tussen jou en God in beweeg. Bely dit. Ek waarsku net dit is nie ‘n lekker proses nie. Jy gaan dalk ‘n afsku in jouself ontwikkel. Byt vas. En hou deurlopend aan die genade in Christus vas. Kom ek gee ‘n beeld. Dit is God se wil dat ons gelykvormig aan die beeld van Sy Seun moet word (Romeine 8: 29). Dink nou beeldhouwerk. Ek en jy is hierdie groot blok graniet waaruit God die beeld van Sy Seun uitkap. Alles wat nie soos Jesus lyk nie kap Hy weg. Of as jy Johannes 15 se beeld van die wingerdstok en die lote verkies: alles wat nie vrug dra nie snoei Hy af. En dan breek ‘n dieper dankbaarheid deur. ‘n Lewe wat God werklik in alles wil eer en dank.