Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding (Ps 62: 2) Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting sodat ek vas en stewig kan staan. (v3). Ons bely maklik. En dit is mooi om te hoor as iemand byvoorbeeld bogenoemde deel of selfs ‘n ander mooi belewenis van God. Ek wens meer mense wil spontaan deel soos wat Dawid dit kon doen. Ek leer ook by Dawid om tot rus te kom in God. Ek wil vandag op grond van bogenoemde met jou gesels oor die ander kant van dit wat ons bely. Ek lees in Psalm 42: “ Soos 'n wildsbok smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. “ Hier word gesmag na die Here. In Psalm 40:2 word gesmag na die hulp van die Here. Watter een is ten diepste waar van my? Gaan dit werklik oor die Here of gaan dit oor wat ek hoop die Here vir my kan doen, of met my sal doen. In Psalm 63 skryf Dawid ook hoe hy smag na God. “Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water. Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. Ek sal U my lewe lank loof, my hande ophef om u Naam te prys. “ Sy verlange na God is intens. Die werkwoorde druk sterk behoeftes uit: soek; dors; smag. Ek wonder of jong getrouedes hulle gemis van meaar as hulle ‘n paar dae apart so intens sou beskryf en tog is dit hoe Dawid verlang na God. En in die lees kom die verlange los by my dat ook ons so gefokus op God sal leef, so afhanklik van God en so ingestel daarop om God lief te hê dat hierdie werkwoorde ook ons begeertes om met God te leef sal verwoord. As u wil dieper gaan, gaan sit met hierdie verse en vra: Is ek vir God lief omdat Hy God is of vir wat God vir my kan doen? U kan ook dink oor God se liefde vir jou en antwoord dan met liefde vir God. Begin verlang na die Here. Verlang na die oomblikke wat jy volledig op God ingestel by Hom is. Ek gee my oor aan U Here. Ek smag na U en wil in U teenwoordigheid bewustelik leef.