Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Ek deel 'n stuk wat vir my betekenis gehad het en steeds het. Versoekings Dis mos iets waaraan ons almal blootgestel is: versoekings. As die duiwel kans gesien het om Jesus te versoek (Matteus 4:1-11) moet ons weet ons gaan ook deurloop. Dis nou as jy dit nog nie talle kere aan jou eie bas gevoel het nie. Die ding is net, die versoekings is nie altyd so maklik herkenbaar nie. Dikwels is dit so subtiel dat jy dit glad nie herken as ’n versoeking nie. Want Satan kom nie altyd na ons in die gedaante van ’n brullende leeu nie (vgl. 1 Petrus 5:8), want dan was dit makliker om die gevaar te sien. Soms verskyn hy subtiel, soos ’n engel van die lig, skryf Paulus in 2 Korintiërs 11:14, en kan jy jou selfs verbeel hy is jou vriend wat jou belange op die hart dra. Dis wat hy met Jesus gedoen het in die woestyn. Jesus is honger ná veertig dae se vas, en Satan kom ewe besorg na Hom en stel voor dat Hy vir Hom brood uit die klippe moet maak. “Jy kan nie so honger aangaan nie, man. Jy het jou kragte nodig. Jou liggaam het kos nodig. Jy het nou lank genoeg jouself gepynig; dink vir ’n slaggie aan jouself ook!” Só fluister Satan in Jesus se oor. En: “Jy moet jou nie so bekommer oor dinge soos seerkry nie, wat. God sal jou bewaar. Dit staan dan as ’n belofte in die Bybel.” Satan gebruik ook die Bybel Ja, die duiwel ken ook die Bybel, en gebruik dit baie subtiel om ons van God af weg te kry en met onsself te laat besig hou. Want solank ons met onsself besig is, is ons vir God en sy wêreld niks werd nie. Dít was sy strategie met Jesus – laat Jesus op Homself fokus: sý honger, sý beskerming, sý aansien onder mense. Solank Hy daarmee besig is, is Hy skadeloos. Satan doen dit vandag nog met ons. Hy gebruik selfs die Bybel, soos hy dit teenoor Jesus gebruik het. Hy fluister in ons oor, en gaandeweg word die Bybel ’n beloftekissie vol teksverse wat vertel hoe God vir ons sorg en bewaar, wat God vir ons kan en wil beteken. En die hele tyd bly ons met onsself besig, vra ons wat die Bybel ons bied om ons te troos en te bemoedig en te versterk. Darrell Guder skryf hieroor: “It is possible to hear the gospel primarily in terms of what God’s grace does for me, or for you. It is possible to take the Bible seriously, persuaded that it is primarily about one’s personal salvation. It is possible to preach the Bible in such a way that the needs of persons are met but the formation of the whole community for its witness in the world is not emphasized.” Jy kan Bybel lees sonder om ooit by die vraag uit te kom: “Wat verwag God van my?”, omdat jy te besig is met die vraag: “Wat kan ek van God verwag?” Dít, dink ek, is vir ons as gelowiges ’n wesenlike versoeking. Want dan dink ons in ons Christenskap oor die hemel en geloofsekerheid (wat natuurlik belangrik is), maar ons kom nie by die belangriker vraag uit nie, naamlik: Hoe volg ek Jesus na in die wêreld? Dalk is dit ’n vraag wat ek en jy behoort te oordink? Seënwense! Jaco Thom Ns. Gaan loer gerus in by www.bybelkoerant.co.za om te sien watter ander goed ek skrywe. As jy van iemand weet wat hierdie e-pos nodig het, kan jy dit gerus vir hom/haar aanstuur. Jy kan ook info@bybelkoerant.co.za in die CC-blokkie sit. Ek sal hom/haar dan kontak.e]