Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Leer by Jeremia, daardie stroom-op profeet van God deur Stephan Joubert Jeremia is die seun van Hilkia, ‘n profeet van Anatot, ‘n dorpie 5 kilometer noord van Jerusalem. Hy tree op vir ongeveer 40 jaar, vanaf ongeveer 626-585 voor Christus, kort na die profeet Sefanja in 639 vC en ook in die tyd van Esegiël (593-571 vC). Jeremia beleef die donkerste uur van Juda se geskiedenis, naamlik die val van Jerusalem en die vernietiging van God se tempel. Hy beleef ook die laaste vyf konings van Juda, naamlik Josia (639-609 vC), Joahas (609 vC), Jojakim (609-598 vC), Jojagin (598 vC), en Sedekia (597-586 vC). Ook beleef Jeremia die kortstondige goewerneurskap van Gedalja oor Juda nadat Jerusalem deur die Babiloniërs verwoes is. Hierna word Jeremia deur ‘n groep Israeliete weggevoer na Egipte, waar hy sy laaste oordeelswoorde teen die nasies uitspreek en ook sterf. God sien, God doen! Die boek Jeremia verloop nie kronologies nie, aangesien dit eers na afloop van Jeremia se profesieë deur ‘n onbekende redaktor saamgestel is. Oorhoofs sou ons egter die volgende verdeling kon sien: Jeremia 1-25, wat Jeremia se oordeel oor Juda aankondig. Geloofkrisisse en belydenisse vanuit Jeremia se eie lewe kom hier voor wat sy opstand en lyding verwoord (bv 11:18-23; 12:1-4; 15:10-18; 17:14-18; 18:18-23; 20:7-18) Jeremia 26-45, wat die historiese omstandighede beskryf waarbinne die meeste profesieë plaasvind wat in hoofstuk 1-25 opgeskryf is. Jeremia 46-51 bevat oordeelspreke teen verskillende wêreldvolke wat deur die profeet gelewer is tydens sy verblyf in Egipte. Jeremia kondig oordeel aan oor die inwoners van Juda (asook oor die nasies). Israel het in ‘n valse gerustheid verval vanweë hul vertroue op die tempel as God se aardse heiligdom. Afgodery, ontrou, uitbuiting en geweld kenmerk hulle leefwyse. In die lig hiervan kondig Jeremia ‘n reuse ramp oor hulle aan, naamlik die vernietiging van Jerusalem. God is nie afhanklik van hierdie stad of die tempel om sy eer in stand te hou nie. Die Babiloniërs gaan Jerusalem oorneem. Orals in die boek, maar veral in Jeremia 30-33, word daar ook van hoop gepraat. Ons hoor met name by Jeremia dat God sy Gees sal uitgiet oor sy mense en sy wet in hulle harte oorskryf. Die Here sal self ’n nuwe begin met sy volk maak. Hyself sal sorg dat hulle ’n toekoms het. Nooit skryf die Here sy handewerk finaal af nie. Hy bedink nuwe dinge en goeie dinge oor sy mense wat in ballingskap is. So hoor ons in Jeremia 29. En hierdie nuwe dinge is dat die Here vir mense ’n nuwe hart sal gee wat sal smag na Hom. En waarmee hulle Hom sal dien. God self sal vir sy volk rus gee. Jeremia beliggaam die teendeel van dit wat William McNamara een keer geskryf het: “There are no free men to lead me. No saints to inspire me. No sinners sinful enough to either impress me or share my plight. It is hard to linger in that dull world without being dulled. I stake the future on the few humble and hearty lovers who seek God passionately…” Jeremia was onverskrokke en dapper. Hy was diep aangegryp deur God se eer en sy heiligheid Sy geloof was sy passie. Tog is baie mense vandag verveeld en passieloos wat hulle godsdiens betref. Hulle soek eintlik net na kits-geluk en kits-antwoorde. Daarom dat daar soveel kits-godsdiens op die mark is, want ‘godsdienstige verbruikers’ soek na ’n God wat blitsvinnig tot hulle diens moet wees. Alle diepte is weg. Oppervlakkigheid seëvier. Die oplossing? Wel, ons moet opnuut weer saam met Jeremia in eerbied voor God buig. Ons moet weet dat God se hart in ons binneste klop. Ons moet Christus waagmoedig navolg. Dan raak ons geloof regtig inspirerend, soos Jeremia s’n.