Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Psalm 40 en psalm 42. Albei is aangrypend. En albei begin op 'n soortgelyke manier: Psalm 40 vers "Ek het gesmag na die hulp van die Here. Hy het na my toe afgebuig en my hulpgeroep gehoor ...." Psalm 42: 2 "Soos 'n wildsbok wat smag na waterstrome, so smag ek na U, o God. Ek dors na God, na die lewende God. ..." Vra die Here, synde ons selde eerlik is met onsself, vra die Here of ons smag na Hom en of ons smag na dit wat Hy gee. Smag ons na die uitkomste wat ons so bitter nodig het, of smag ons verby die uitkomste na God self. Jare gelede toe ons straatwerk in Joubertpark gedoen het en van woonstel tot wonnstel geloop het en aan elke deur geklop het met die hoop op 'n gesprek oor God, het een man aggressief gereageer. Hy het gesĂȘ hy glo nie in God nie want sy broer was siek en hulle en almal het gebid en God het niks gedoen nie. sy broer het gesterf ten spyte van almal se gebede. Die detail van die gesprek los ek uit. Die feit van sy gevoelens jeens God laat my wonder of hy, en ek en ons almal nie dikwels meer smag na wat God bied as wat ons werklik na God smag nie. As ek ten diepste na God smag soos in Psalm 42 dan is my leefstyl heel anders. Dan draai alles om die dors in my te les. Soos 'n hert in dorre streke smagtend na die waterbeke word ek 'n mens in 'n dorre lewe wat met elke weefsel in my smag na God self. Dan is sonde nie meer 'n afleiding nie maar wel 'n doodsaak. Dan is om God te gehoorsaam soos my nood aan elke asemteug. Dan is my versugting na God 'n daaglikse soeke na die Lewende Waters en nie net as ek behoefte het aan uitkomste nie. Ek glo dat dit dan is waar jy passievol raak oor die onse Vader, oor God se Naam wat geheilig moet word en oor God se koninkryk wat moet kom en oor God se wil wat geleef moet word soos in die hemel. Gaan vra die Heilige Gees die vraag: Gaan dit in my lewe oor U of oor wat U bied? Mag die antwoord ons in groter oorgawe voor God inlei.