Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Amos, die skaapboer wat preek deur Stephan Joubert E-kerk My naam is Amos. Ek kom van Tekoa af, ‘n dorpie so tien kilometer suid van Betlehem. Daar het ek vroeër met skape geboer. O ja, ek het ook nog ‘n vyeplaas in die omgewing van die Middellandse See gehad (7:14). Toe het God my geroep as profeet, en dit tussen ons bure, die Israeliete daar in die Noordryk. Jy onthou sekerlik hoedat Israel ‘n klompie jare gelede in twee geskeur het. Dit was in die jaar 924 voor Christus. Toe het die stamme van Juda en Benjamin onder koning Rehabeam in die Suide ‘n eie ryk gevestig met Jerusalem as hoofstad, terwyl die ander tien stamme onder koning Jerobeam in die Noorde gebly het met Samaria as hulle hoofstad. Kort voor die vernietiging van die Noordryk deur die Assiriërs (rondom die jaar 760 voor Christus) moes ek met hulle gaan praat oor God. Dit was in die tyd toe koning Jerobeam II hulle koning was (2 Kon 14:23-29). Daar’s groot probleme Gedurende die 41 jaar wat Jerobeam II oor die Noordryk regeer het, het dinge in Israel op die oog af voor die wind gegaan. Die handel en die ekonomie het gefloreer. Die Arameërs, Israel se groot vyande, se fut was uit. Hierdie voorspoed het die mense van Israel heeltemal te selfversekerd gemaak. Bo en behalwe die feit dat hulle koning hom niks aan God gesteur het nie, het die “godsdienstige” Israeliete gedink God is aan hulle kant. Niks kon met hulle verkeerd gaan nie. Ewe selfvoldaan het hulle vir almal vertel die dag van die Here kan maar aanbreek. Hulle het niks te vrees vir God se oordeel nie. Seker daarom dat my woorde hulle soos koue water in die gesig getref het. Want ek moes vir hulle gaan sê die dag van die Here gaan vir hulle donkerte bring, nie lig nie (5:18-21). Die Israeliete moes ook hoor die Here hou niks van hulle offers en hulle godsdienstige byeenkomste nie. Al hulle godsdienstige gesanik en gesingery laat Hom yskoud (5:22-27). Gee pad, skaapboer! “Skaapboer, gaan huis toe!” Weet jy hoeveel keer moes ek dit hoor terwyl ek vir my bure gepreek het? Immers, mense wat lekker in hulle eie godsdienstige geriefsone leef, gee nie maklik daaruit pad nie. Maar toe ek my vinger op die groot seer in Israel druk, was die vet in die vuur. En weet jy wat is dit? Wel, die Israeliete het lankal nie meer ‘n warm hart en ‘n oop hand vir ander mense rondom hulle gehad nie. Dit was ook die probleem met hulle buurvolke: die mense van Damaskus, Tirus, Sidon, die Edomiete, die Ammoniete en Moab (1:1-2:16). Hierdie hele spul het van vroeg tot laat op die armes en die swakkes getrap. Kan jy glo dat die Israeliete self onskuldiges as slawe verkoop het vir die prys van ‘n paar sandale; of dat pa en seun sommer by dieselfde meisie geslaap het (2:6-7)? Boonop het hulle mekaar verkul op die markpleine. Handelaars het hulle skale verkeerd ingestel en die armes meer vir hulle produkte laat betaal as wat hulle moes (8:4-6). Daarom dat ek g’n ander keuse gehad het nie as om in God se Naam te gaan protesteer. Onreg skree na God toe My werk as profeet was om vir Israel weer terug te roep na God toe. Hulle moes ophou om die armes uit te buit en agter vreemde afgode aan te loop. So nie, sou swaarkry en straf hulle voorland wees; ballingskap ook (6:7). Trouens, in vyf gesigte het die Here vir my gewys dat Israel eintlik klaar hulle eie lot verseël het. Daar’s geen wegkom-kans meer vir die goddeloses nie. Nie eens in die doderyk kan hulle gaan wegkruip vir die Here se oordele nie (6:1-4). Onreg skree ten hemele. Altyd, oral... God hou net mooi niks daarvan dat mense die swakkes uitbuit en sy Woord links en regs verdraai nie. Maar die goeie nuus is dat Hy tog elke keer weer voor begin, selfs ook met diegene wat gestruikel het. Daarom dat Amos met ‘n stukkie hoop afsluit. Die laaste sinne vertel dat daar ‘n goeie tyd op God se volk wag. Hy sal hulle weer in hulle grond plant en met sy seën oorspoel (9:13-15). Weet jy, God se genade troef altyd sy woede. Vandag nog. Ja, tot vandag toe groei ontferming op God se genade-plaas. Groete Stephen