Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Sukses is nie sinoniem met die kleur van geld nie deur Stephan Joubert Solank as wat jy sukses verstaan in terme van die kleur van geld, sal jy ’n slaaf wees hiervan. Geld is ’n harde baas. As jy gekies het om voltyds hiervoor te leef, deel dit jou met niemand anders nie. Mense wat in die kloue van geld vasgevang is se lewe gaan uiteindelik net oor dit wat hulle ry; waar hulle bly, en wat hulle maandeliks kry. Al hierdie lang-y dinge (wat rym met ly!) definieer dan hulle lewe. Die punt van die Bybel is dat jy nie ’n slaaf van sulke dinge moet word nie. Prediker 5:7 sê juis dat die persoon vir wie geld alles is nooit genoeg het nie. In Prediker 5:16-18 hoor egter dat daardie mense vir wie God besittings gee so gelukkig is as wat kan kom. Hulle geniet die bietjie of die baie wat hulle het as geskenke uit God se hand en deel dit ruim met ander. Hulle is vrygewig. Hulle word nooit besit deur hulle besittings nie. Vir hulle is besittings middele tot diens. Nou ja, ons almal het iets om weg te gee, want ons het elke dag meer as genoeg daaglikse brood op ons tafel!