Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Vir toerusting Sondag het Bybel Media die volgende preek gestuur. Hier by ons is dit kinderdiens maar ek glo ek moet dit op 'n manier wel gedeel kry. Lees dit en geniet dit. SKRIFLESING: 1 Petrus 2:1-10 Die wêreld is ’n wonderlike plek en die lewe is ’n wonderlike ding. En tog voel ek baie dae nie tuis in ons wêreld nie. Of laat ek dit só sê: Ek hou van die wêreld wat God gemaak het. Ek hou nie so baie van die wêreld soos ons mense dit maak nie. Ek voel nie tuis in die wêreld wat ons mense bou nie. Party dae, wanneer ek in die koerant lees van nóg ’n moord, nóg ’n kind wat verkrag is, nóg iemand wat sy mond uitspoel met afbrekende, rassistiese taal oor ander mense, nóg… ag, sommer nog al die dinge wat aan ons almal krap, dan onthou ek hoe my ma na Jim Reeves geluister het: “This world is not my home, I’m just a passing through…” Of, meer Afrikaans, die woorde van Totius: “Die wêreld is ons woning nie.” Geroep, gebou, gestuur... Ek reken ons almal voel maar soms ontuis in die wêreld. Maar 1 Petrus 2 het nuus vir ons: God is besig om ’n huis te bou, ’n tuiskomplek in hierdie wêreld. Dit is waaroor die drie woorde van ons tema gaan: Geroep, gebou, gestuur. Geroep sê: God nooi jou om tuis te kom in sy huis. Gebou sê: God bou jou in sy huis in, God maak jou déél van sy huis. En gestuur sê: God gebruik jou om ander mense nader te trek, sodat hulle ook kan tuiskom in sy huis. Ek, jy, almal van ons, word geroep, gebou en gestuur. Ons is deel van God se huisbouprojek, God se tuisteskepping in hierdie wêreld. Geroep Wie is geroep? Kom ons kyk na vers 4: “Kom na Hom toe…” Petrus skryf hier vir Christene, vir gedoopte mense, gelowige mense. En tog sê hy vir hulle: “Kom na Jesus toe.” Want om na Jesus toe te kom, is nie iets wat jy iewers in jou lewe doen en dis klaar gedoen nie. Jy kan nie sê: “Wel, ek is gedoop, dus is die saak afgehandel” nie. Jy kan ook nie sê: “Ek het op hierdie of daardie datum tot bekering gekom, dus is die saak afgehandel” nie. Jy word jou lewe deur geroep: “Kom na Hom toe.” Jy is geroep in jou doop, jy is geroep toe die Gees jou tot geloof beweeg het, jy word geroep van dag tot dag. Jy word vandag geroep, hier en nou geroep: “Kom na Hom toe.” Hoe dink Petrus oor die mense vir wie hy skryf “Kom na Hom toe”? Hulle is gelowiges, maar Petrus praat op ’n baie besondere manier oor hulle. In 1:1 groet hy hulle: “Aan die uitverkorenes van God, vreemdelinge in die wêreld…” Hy sê hulle is die mense vir wie God baie lief het, mense vir wie God gesê het: “Julle is mý mense, Ek is julle God.” Maar hulle is ook vreemdelinge in die wêreld. In 2:9-11 kry ons dieselfde gedagte: hulle is God se “uitverkore volk, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God,” skryf Petrus – en net daarna, in 2:11: “Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners.” In 5:13 kry jy dit weer, wanneer Petrus groete stuur van die gemeente waar hy nou is: “Die gemeente in Babilon, ’n uitverkore gemeente net soos julle… stuur vir julle groete..” Weer ’n gemeente vir wie God liefhet, ’n gemeente wat God gekies het om sý mense te wees – maar dan ’n gemeente in Babilon. Dis Petrus se naam vir die groot stad Rome – maar hy noem dit Babilon om vir hulle te sê: Ons is hier in ballingskap, ons is hier vreemdelinge en bywoners, net soos Israel in Babel was. ’n Vreemdeling, in die sin wat Petrus dit gebruik, is anderland se mense, iemand wat hier bly maar wat nie ons taal praat nie, ons gewoontes ken nie. As dit goed gaan, word vreemdelinge verdra, hoewel hulle dikwels nie regtig aanvaar word nie. En as dit sleg gaan, word vreemdelinge blameer vir alles wat verkeerd is, word hulle uit hulle huise verjaag en word hulle winkeltjies afgebrand, soos keer op keer hier by ons al gebeur het wanneer vreemdelingehaat opvlam. ’n Bywoner is iemand wat geen regte het nie, wat niks besit nie, wat van ander se genade afhanklik is. As jy die woorde “vreemdelinge en bywoners” saamvat, kan jy sê: hawelose mense, mense sonder ’n vaste tuiste, mense vir wie hierdie wêreld nie ’n goeie woonplek is nie. Petrus sê met ander woorde vir die gemeente: julle is soos hawelose mense in die wêreld. Maar hy sê ook vir hulle: julle is geliefd. God gee vir julle om. God nooi julle na die huis wat Hy besig is om te bou, God nooi julle om tuis te kom by Hom. God het ’n hart vir mense wat ontuis is in die wêreld. Daarom stuur God sy uitnodiging die wêreld in: “Kom na Hom toe.” Maar let op: God se uitnodiging kom nie op ’n onpersoonlike kaartjie waarop jy moet RSVP as jy dalk lus kry nie. God se uitnodiging het ’n gesig, God se uitnodiging is iemand: “Kom na Hom toe…” God se uitnodiging is Jesus. Luister weer na hoe Petrus oor Jesus praat: “Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is.” So ’n bietjie verder praat hy van Jesus as die hoeksteen van God se huis, die belangrikste klip in die gebou, maar ook die klip waaroor mense struikel. Met hierdie paar beelde uit die Ou Testament vertel Petrus vir ons Jesus se hele verhaal: Hoe sy eie mense Hom nie wou hê nie; hoe sy beste vriende Hom in die steek gelaat het; hoe die godsdiensleiers, die bouers van die huis van Israel, Hom verwerp het en veroordeel het en laat vermoor het. Wat hulle betref, was Jesus onbruikbaar; of erger as onbruikbaar – ’n skande, ’n aanstoot. Toe gooi hulle Hom weg, so hard en so ver as wat hulle maar kon. Hulle spyker Hom aan die kruis, bêre Hom in ’n andermansgraf, rol ’n klip voor die grot en probeer hulle bes om van Hom te vergeet. Vir Hom, vir hierdie weggooiklip, het God die ereplek gegee; vir Hom het God die hoeksteen van sy huis vir die haweloses gemaak. Waarom het die mense Jesus verwerp, waarom het die bouers die klip afgeskryf en weggegooi? Die rede, as jy die evangelies lees, is eenvoudig. Hulle wou ’n huis bou met dik mure, ’n huis waarin net sekere mense welkom was. Hulle huis was vir die goeie mense, die ordentlikes, die soort wat die wet tot in die fynste besonderhede kon nakom. Dit was beslis nié vir die sondaars en die slegtes en die goddeloses nie; ook nie vir heidene en onreines nie. Die dik mure van hulle huis het ’n kennisgewing gehad: “Haweloses verbode, vreemdelinge onwelkom, andersoortiges bly uit! Hierdie huis is net vir mense soos ons!” Toe kom Jesus, die man met die hart vir haweloses. Hy leef self soos ’n hawelose tussen hulle. “Jakkalse het gate en voëls het neste,” sê Hy, maar self het Hy nêrens om sy kop neer te lê nie. Hy gaan kuier by skelm tollenaars, Hy gaan aan tafel sit saam met smerige sondaars. Hy skep óm Hom ’n tuiste vir tuistelose mense. En dit is nie die ergste nie. Hy sê: die huis wat Hy bou, is die huis wat God gebou wil hê. God hou nie van die soort huis wat mense bou, die huise met die dik mure wat uitsluit, die huise met die waarskuwingsbordjies: “Vreemdelinge onwelkom, andersoortiges bly uit!” nie. God bou die huis wat Jesus bou: die huis waar mense welkom is omdat hulle mense is, omdat hulle in die nood is, omdat hulle hulleself stukkend gebreek het of deur ander mense stukkend gebreek is. God bou ’n huis vir mense wat, soos Hebreërs 13 sê, in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek het nie. God bou vir haweloses. Dit preek Jesus, dit doen Jesus, dit leef Jesus. En toe kruisig hulle Hom daaroor. Dit is hoekom God se uitnodiging aan sy geliefde vreemdelinge en bywoners in 1 Petrus 2 die gesig van Jesus dra: “Kom na Hom toe.” Dit is die uitnodiging wat God vandag aan jou rig: kom, hawelose; kom, mens wat nie tuis voel in die wêreld nie; kom, mens wat sukkel met jouself; kom, mens wat stukkend en seer is – kom na Hom toe. Ons mag glo: die Jesus na wie toe ons kom, is nog steeds dieselfde Jesus wat aan melaatses gevat het, wat nie omgegee het as ’n vrou met ’n slegte reputasie sy voete met haar hare afdroog nie. Ons kan maar na Hom toe kom. Maar daar is net een probleem: Hy is ook dieselfde Jesus wat die goeie godsdienstige mense kwaad gemaak het. Kom jy na Hom toe, dan moet jy jou hoogmoed, jou idee dat jy beter is as ander, maar liewer by die deur los. En jou afguns, jou kwaad wees omdat jy dink ander mense is dalk beter of het dit beter as jy, moet jy ook maar by die deur los. In Jesus se huis word die spel van godsdienstige vergelyking en kompetisie, van ek is beter as jy of ek weet beter as jy of ek doen beter as jy, nie meer gespeel nie. In sy huis word daar ’n ander spel gespeel. Gebou So lyk Jesus se spel: “Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is.” Dit bring my by die tweede woord: Ons word geroep en gebou. Jy word in God se huis ingebou soos ’n klip in ’n muur. Maar jy is nie, soos Pink Floyd jare terug gesing het, “just another brick in the wall” nie: ’n dooie ding wat op jou plekkie ingebou word en dan maar net daar lê nie. Jy is ’n lewende steen, soos Jesus, die hoeksteen, ’n lewende steen is. Jy kry jou lewe by Hom, en die lewe wat jy by Hom kry, lyk soos die lewe wat Hy geleef het. Of kom ek sê dit beter: dit is die lewe wat Hy nou deur sy Gees in jou leef. En dié lewe kan jy in een werkwoord saamvat: offer. Daarom dat ek gesê het: in die huis wat God bou op die hoeksteen van Jesus, die huis waarheen jy genooi word, die huis waarin jy as lewende steen ingebou word, is die spel nie meer godsdienstige kompetisie nie; dit is offer. Dit is om jouself te gee: vir God en vir ander. Die huis is soos die hoeksteen. Die hoeksteen is Jesus wat Homself gegee het tot in die dood aan die kruis; wat die pad van die lyding en dood en graf geloop het om vir haweloses ’n blyplek te gee in die Vaderhuis met sy baie woonplek. Die huis is ons wat deur God geroep word en gebou word sodat ons onsself kan gee. Ons offers is anders as Jesus se offer aan die kruis. Hy het gesterf sodat ons sondes vergewe kan word, sodat ons kinders van God kan word, sodat ons nuwe mense kan word, sodat ons die ewige lewe kan hê. Daardie offer kan ons nie bring nie en hoef ons nie te bring nie. Maar op die fondament van sy offer gee ons onsself as offers van liefde, gee ons ons lewens vir God en vir mekaar en vir ander mense. Laat ek dit probeer uitpak met ’n voorbeeld. Sê nou maar ek kry te doen met iemand wat sy lewe totaal opgemors het met rampspoedige keuses. Hy is haweloos gelaat deur sy eie mislukkings. Daar is soveel wat ek nie vir hom kan doen nie, soveel wat net Jesus vir hom kan doen. Ek kan nie sy sondes regmaak nie, ek kan nie sy wonde heelmaak nie, ek kan hom nie by God laat tuiskom nie. Hy kan my totaal magteloos laat voel, dat ek amper dink ek kan vir hom heeltemal niks doen nie. Maar in die huis van God, op grond van Jesus se offer, kan ek myself vir hom gee. Ek kan luister sonder om te veroordeel en af te skryf; ek kan ’n stuk pad saam met hom loop. Dalk kom hy tuis, dalk nie. Dit is nie in my hande nie, want sy lewe gaan nie deur my offer verander word nie. En tog kan God my gebruik in sy lewe. Ek hoef maar net beskikbaar te wees. Maar een ding moet ons verstaan: om gebou te word en om jouself as offer te gee, is nie twee aparte dinge nie. Dis nie asof jy kan sê: Wel, ek moet eers geestelik opgebou word, dan kan ek myself vir God en ander gee nie. Gebou en gegee is een: Ek word ingebou in God se huis sodat ek myself as offer kan gee; en dit is in die gee van myself dat ek ook opgebou word. As ek nie opgebou word deur God nie, het ek niks om te gee nie; maar as ek nie myself gee nie, gaan ek ook nie opgebou word nie, gaan ek nie groei nie. Gestuur Daarom is daar ook ’n derde woord in ons tema: Geroep, gebou, gestuur: “Julle, daarenteen, is ’n uitverkore volk, ’n koninklike priesterdom, ’n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig…” Ons kan hierdie woorde op twee maniere hoor. Ons kan dit hoor met ore wat nog gevorm is deur die ou spel van godsdienstige kompetisie. Dan hoor ons iets soos: Julle het die goddelike lotto gewen: uitverkore, koninklik, priesters, afgesonder. Julle is spesiaal – en die res van die mensdom, die mense wat nie glo nie en vir Jesus nie ken nie, hulle is die verloorders, die godsdienstige mislukkings. Vat julle goue medaljes en julle blink trofees en gaan sit in die sitkamer van God se huis en kry lekker! Maar geen mens wie se ore gevorm is deur die evangelie van Jesus kan dit so hoor nie. Geen lewende steen wat gebou is op die hoeksteen van Jesus kan dit so hoor nie. Geen mens wat weet dat ons geroep en gebou word om onsself as offers te gee kan dit so hoor nie. Ons weet: God het ons gemaak wat ons nie is nie. In vers 10 praat Petrus met ons met woorde wat hy kry uit die boek Hosea, woorde wat gerig is aan mense wat misluk het, maar vir wie God genade bewys het: “Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God.” Ons is bewyse van God se liefde vir haweloses. Ons is bewyse van God se genade vir misluktes. Ons is bewyse daarvan dat God nog steeds doen wat Hy in Jesus gedoen het: om ’n huis te bou waarin vreemdelinge en bywoners ’n tuiste kan vind. Daarom is ons gestuurdes, want ons moet God se verlossingsdade verkondig. Verkondig, nie net met woorde nie, maar verkondig deur onsself te gee vir ander. Al daardie mooi woorde is nie bedoel om vir ons goue medaljes om die nek te hang nie; al daardie mooi woorde sê vir ons: Ons is geroep en gebou, nie ter wille van onsself nie. Ons is geroep en gebou sodat die goedheid van God ook kan uitkom by mense wat nie daarvan weet nie, mense wat daarna honger. Ons is haweloses wat tuisgekom het by God en ons word nou gestuur na die haweloses wat nog op soek is na ’n tuiskomplek. Jy is vanoggend hier omdat jy geroep is. Jy is hier om gebou te word en om jouself te gee. Jy word nou gestuur. Dink ’n oomblik: na wie toe stuur die Here jou nou, na wie gaan jy die goedheid van die Here dra? AMEN.