Datum:
Opskrif:
Gedagte:
Welkom by ekerk se Goeie Nuus. Die Gees leef jou raak en laat jou reg leef deur Stephan Joubert Ek het Psalm 143:10 onlangs opnuut raakgeleef. Veral die tweede gedeelte van hierdie mooi vers gryp my diep aan die hart. Hoor dit gou weer: “Laat u goeie Gees my lei op ‘n pad wat gelyk is” (NLV). Padwyser- dit is presies wie die Heilige Gees is. En nie sommer enige pad nie. Nee, die Gees ken net een pad. Ek praat van die regte pad na die hemelstad. Hy lei jou op geen ander pas as hierdie regte een nie. As die Gees jou leermeester is, dan kan jy nooit vir altyd verdwaal nie. Want Hy ken die pad waarop jy moet loop soos die palm van sy hand. Nee, jy hoef dit nie self te ken nie. Ook hoef jy nie die roete op jou eie te vind nie. Dit gaan eintlik nie eens oor die pad nie, maar oor die Padvinder. Dit gaan oor Hom wat met jou saamstap. Daarom hoef jy jou nie so oor al jou lewensroetes te kwel nie. Al wat regtig saakmaak, is of jy vir Jesus ken. Want as jy Hom ken, is die Gees by jou. So skryf Paulus padlangs in Romeine 8:9. Dan kan jy maar weet- Hyself sal jou op koers hou - op sy regte koers. As jy die slag afdwaal sal Hy jou kom opsoek en jou terugplaas op hierdie pad. Die Gees is voltyds oppad saam met jou na jou eindbestemming toe. Hy laat jou nooit rigtingloos rondmaal hier op aarde nie. Maak asseblief jou hart vandag wawyd oop vir die Heilige Gees. Luister opreg na God se Woord en na die Gees se leiding, en jy sal die regte pad vind. Nee, die Gees sal jou vind en jou nogmaals op die regte pad hou! Hy sal jou raakleef en jou reg laat leef!